Die mees suksesvolle mense in die wêreld het ‘’geldmasjiene’’ wat daagliks vir hulle geld maak. En nee, ek praat nie van ‘n drukker nie, ek praat van ‘n bate wat passiewe inkomste genereer. Voor ons egter kan gesels oor hoe om ‘n geldmasjien te bou, moet ons eers die verskil verstaan tussen aktiewe en passiewe inkomste.
Aktiewe inkomste
Dis inkomste wat jy genereer wat gekoppel is aan die hoeveel tyd wat jy spandeer aan ’n sekere aktiwiteit, bv. ‘n vryskutwerker of kontrakteur wat uurliks betaal word om ‘n sekere diens te lewer. Selfs ‘n vaste werk is aktiewe inkomste omdat jy 40 ure ‘n week moet gee vir die inkomste aan die einde van die maand. As jy nie die ure insit nie, word jy nie betaal nie. Meeste mense genereer aktiewe inkomste.
Passiewe inkomste
Dis waar die regte rykdom lê. Passiewe inkomste is nie gekoppel aan jou tyd nie. ‘n Goeie voorbeeld is my eiendomsbeleggings wat vir verhuringsdoeleindes gebruik word. Ek genereer steeds ‘n huurinkomste as ek in Pretoria is of op die strand is of selfs oorsee toer. My huurders betaal my steeds as ek slaap, ‘n fliek kyk, of saam met my vriende braai. Passiewe inkomste genereer inkomste sonder dat jy noodwendig ‘n aktiewe rol daarin hoef te speel. Soos ‘n mens jou bronne van passiewe inkomste opbou, het ‘n mens ook meer tyd om nuwe moontlikhede en geleenthede te oorweeg.
Die goeie nuus is dat jy jou aktiewe inkomste in ‘n passiewe inkomste kan verander deur ‘n besigheid te skep rondom jou huidige aktiewe inkomste. Kom ons neem ‘n koffiestalletjie as ‘n praktiese voorbeeld.
Stap 1 Aktiewe Inkomste: Jy skep ‘n koffiestalletjie by die boeremark op ‘n Saterdag. Jy spandeer self tyd om elke oggend al jou toerusting te pak. Dan verkoop jy self die koffie by die geleentheid. Daarna pak jy self op aan die einde van die dag. Jy doen alles van die verkope en produksie tot die boeke en bemarking.
Stap 2 Transisie: Soos wat die besigheid op die been kom, neem jy iemand in diens wat kan help met van die take. Jy leer die persoon om naderhand jou rol te kan oorneem sodat jy moontlik ‘n tweede stalletjie by ‘n ander mark kan opstel.
Stap 3 Passiewe Inkomste: Sodra jou werknemer die stalletjie alleen kan beman en jou rol kan vervul, begin jy ‘n tweede stalletjie en volg dieselfde proses. Daarna ‘n 3de, 4de en selfs 5de stalletjie wat almal deur personeel beman word.
Onthou dat jy altyd mooi na jou geldmasjiene moet kyk. Al het jy werknemers en al kan die masjiene op hulle eie funksioneer moet jy steeds ‘n oorsigtelike rol speel om te verseker dat alles aanhou om goed en glad te verloop. Maak dus seker dat jy goeie besigheidsprosesse in plek het en elke nou en dan inloer by die verskillende besighede of bronne van inkomste.
Ons het nou ʼn koffiestalletjie gebruik as ʼn voorbeeld, maar jy kan dieselfde konsep op enige industrie toepas.
Bou jou geldmasjien vandag. Jy kan begin met aktiewe inkomste, maar hou altyd jou oog oop vir geleenthede om passiewe inkomste te begin genereer. Geldmasjiene wat passiewe inkomste genereer is die enigste manier om werklik volhoubare rykdom vir jouself te skep.
Meer oor Albert…
Albert van Wyk is ’n eiendomsbelegger, besigheideienaar en spreker. Hy is ook die skrywer van die boek Millionaire at 22. Hy is passievol daaroor om mense toe te rus om finansieel onafhanklik te raak en is opgewonde om dit ook in Afrikaans te kan doen. Hierdie inhoud vorm deel van ons eksklusiewe reeks Finansies 101 met Albert van Wyk en sal in sewe dele beskikbaar gestel word. Hou ons webblad en sosialemediablaaie dop vir die volgende episode!