Ken jy mense wat elke maand baie geld verdien , maar steeds geen geld oor het aan die einde van die maand nie? Is jy dalk self so ’n mens? Dit voel of jy nooit voor kom nie en of jy altyd op dieselfde finansiële plek bly.
Die probleem lê by die feit dat jy dalk al die geld wat jy maak op ‘n maandelikse basis weer spandeer. As jy al die inkomste wat jy vandag gemaak het spandeer, is jy in dieselfde posisie as wat jy gister was. Dus is dit uiters belangrik om te belê en om te spaar vir jou toekoms. Maar hoe doen mens dit? Ons almal het al gesê dat ons geld gaan spaar aan die einde van die maand, maar dit gebeur selde. Deur die maand duik versoekings of behoeftes op … en voor jy weet is daardie neseier weg.
Die belangrike konsep wat jy dalk gemis het, en wat sal voorkom dat jy maand in en maand uit nie jou spaardoelwitte bereik nie, is om jouself eerste te betaal.
Die term “betaal jouself eerste” beteken dat jy geld wegsit vir jou toekomstige self voordat jy dit op enigiets anders kan spandeer. Dus spaar jy aan die begin van die maand, vóór enige aftrekkings, in plaas daarvan om aan die einde van die maand te probeer spaar na aftrekkings en uitgawes.