Ek help gereeld mense met hul finansies en kom dan agter dat hulle te veel laste koop in plaas daarvan om bates te koop. Bates vorm die basiese fondasie vir rykdom en kan ook jou eerste stap wees om jou eie welvaart te skep. Maar, wat is die verskil tussen die twee? Kom ons kyk.
- Laste: Dit is enigiets waarvoor jy geld moet uithaal. Dus iets wat jou geld kos, bv. ‘n foon, ’n klererekening, jou DStv of Netflix-subskripsie, die huis wat jy huur en jou karpaaiement.
- Bates: Dit is enigiets wat vir jou geld maak. Dus is dit iets wat geld terug in jou sak in sit, bv. ‘n eiendom wat jy verhuur, ‘n beleggingsfonds, of selfs ‘n besigheid of vaardigheid wat vir jou ‘n inkomste kan genereer.
‘n Goeie voorbeeld is om te kyk na jou huis en kar. Baie mense meen dat dit bates is. Dink aan jou huis of jou kar en vra jouself die vraag: “Maak dit vir jou geld elke maand, of kos dit jou geld elke maand?” Jou eie huis en kar kos jou vir seker elke maand geld met die paaiemente, onderhoud, en ander kostes. As jy egter jou huis uitverhuur of jou kar as ‘n taxi gebruik, kan dit dan ‘n bate word deur die inkomste wat dit vir jou genereer.