fbpx

Dis vakansie 

Hier is wenke om die jongspan besig te hou

Desember lê lank en uitgestrek voor ons. Party van ons gaan vir ’n welverdiende ruskansie see toe of na ’n lekker vakansieoord, maar talle verkies om hulle Kersvakansie tuis deur te bring. By die see en vakansieoorde is jy gelukkig as jy jou kinders enigsins sien, maar vir diegene tuis, lyk die prentjie effens anders. Maar, voordat jy nou met jou hande in die hare sit oor hoe om die kinders besig te hou en voor die televisie en rekenaars weg te kry, het Afrikaans.com dalk net raad. Hier is tien voorstelle:

  • Stel ’n program op. Al is jy by die huis, bly roetine en struktuur steeds belangrik. Kinders hou daarvan om te weet wat wag en saam kan julle besluit wat om elke dag te doen. En as dit boonop so speel-speel leersaam kan wees, soveel te beter.
  • Speel toeris in jou omgewing. Neem deel aan aktiwiteite in en rondom jou dorp of woonbuurt. Dink so hieraan: As jy ’n besoeker moet besig hou, hoe sal jy dit doen en waarheen sal jy gaan.
  • Bak en brou. Daar is altyd plek vir koekies in die koskas. Laat die kinders saam besluit, gaan koop die bestanddele en maak dit ’n dag van pret en plesier in die kombuis – selfs die skoonmaak agterna is ’n aktiwiteit! Of laat hulle besluit wat is op die spyskaart en laat hulle slaai maak of kaas rasper – dis nogal interessant om te sien hoe graag kinders hul “eie” kos eet.
  • Hou konsert. Dis mos Kersfees – so hoekom nie voorstel dat hulle vir die huis- en kuiermense konsert hou nie. Help hulle om die storie te struktureer en gee hulle toegang tot jou klerekas. Hulle kan selfs uitnodigings maak.
  • Begin ’n groente- of kruietuintjie. Daar is min dinge so lekker as om te sien hoe daardie saadjie of plantjie wat jy in die grond gesit het, groei. ’n Mens het nie baie plek nodig om groente te plant nie. Daar is baie raad en idees op die internet en jou plaaslike kwekery sal ook kan help. Boonop is dit ’n aktiwiteit wat daagliks aandag moet kry, want die plantjies moet natgemaak en versorg word.
  • Knip en plak. Sorg vir karton, gom, klei, ’n skêr, penne, potlode en verf en enige oorskietlappies, krale, blinkers en dies meer en laat die kinders hul kreatiwiteit vrye teuels gee. Dalk kan hulle vir ouma ’n mooi boekmerk maak, of ’n yskasmagneet, of gee vir hulle wit koerantpapier of bruinpapier en laat hulle dit versier om as geskenkpapier te gebruik. Onthou jy nog aartappeldrukwerk? (Sny vorms uit ’n aartappel, druk in verf en dan op papier – so maklik soos dit!)
  • Gee terug. Dis ’n goeie idee om kinders te leer dat daar kinders is wat nie so bevoorreg soos hulle is nie. Dalk kan hulle hul kaste uitpak en van hul speelgoed of boeke wat hulle ontgroei het, maar wat nog in ’n goeie toestand is, skenk aan instansies wat dit dan by die kinders kan aflaai. Of dalk kan hulle koekies bak en versier en dit by die plaaslike ouetehuis/kinderhuis gaan uitdeel. Die moontlikhede is legio – so vind gerus uit waar daar behoefte is. Baie van die dierebeskermingsverenigings is ook altyd dankbaar vir hulp.
  • Gee tegnologie ’n kans. Dit bly lekker om rekenaarspeletjies te speel – veral teen mekaar, of kyk saam na DVD’s – moenie die bak springmielies vergeet nie!
  • Speel bordspeletjies. Nie net is dit leersaam nie, dit is ook groot pret. Kyk hieronder vir ’n skakel na ’n vorige artikel.
  • Maak ’n leeslys. Besluit saam hoeveel boeke jou kind die vakansie gaan lees – alleen of saam met jou – gaan biblioteek toe en neem die boeke uit. Maak nou elke dag tyd vir lees.

Lekker speel en mag jou kinders nie een oomblik verveeld wees nie!

Bronne en nog idees:

Vir nog idees en ’n lekker koekieresep, ’n resep vir soutklei en verf, klik hier

20+ idees vir gesinspret. Klik hier

Pretaktiwiteite om kinders die vakansie besig te hou, bv. maak jou eie klipkaktus, papiergewigte, kleurvolle glasflesse, ens. Klik hier

Babs Geldenhuys se blog:  25 idees om jou kinders besig te hou. Klik hier

Speel bordspeletjies met jou kind. Ons vertel meer van die voordele en gee ook ’n lys van moontlikhede. Klik hier

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.