Artikel 1 in die reeks: ‘Alles wat jy nodig het vir 2018-redenaars’

Só skryf jy ‘n redenaarstoespraak

Om jou en jou kind se 2018-redenaarservaring te vergemaklik, het Petronell Vorster vir Afrikaans.com ‘n reeks van drie artikels oor redenaars saamgestel. Die doel van die artikels is om jou (en jou kind) te bemagtig in die kuns van redenaars. In dié eerste artikel leer ons jou hoe om ‘n redenaarstoespraak te skryf. Die tweede artikel behandel die verskillende ouderdomsgroepe en die uitdagings wat daar vir elkeen is en ons gee jou ook handige wenke oor die aanleer en (v)oordra van die toespraak. In die laaste artikel van die reeks kyk ons na praktiese voorbeelde van wentoesprake.

Foto deur www.pexels.com

Met 2018 wat sonder genade voortstoom, het die tyd weer aangebreek vir jou kind om daardie gevreesde “ma, ek kort ‘n toespraak…” sin te uiter. Of dit nou ‘n eenvoudige klastoespraak, die skool se redenaarskompetisie of selfs ‘n eksterne redenaarskompetisie is, toespraak skryf kan sorg vir grys hare; baie van hulle!

Maar moet nie verder vrees nie, en bêre maar eers daardie botteltjie haarkleur wat jy gekoop het diep agter in die kas. In dié artikel leer ons jou hoe om sonder te veel moeite of drama, ‘n tien-uit-tien toespraak te skryf.

Hoeveel hulp moet ek my kind gee?

Dit is vanselfsprekend dat jou graad 1-, 2- of 3-kind baie meer hulp gaan benodig as jou ouer kind wanneer dit kom by die skryf van ‘n toespraak. Dit is egter belangrik om jou kind reeds by die skryf van die eerste toespraak van sy/haar skoolloopbaan te betrek. Hoe vroeër jy dit begin doen, hoe vroeër gaan jy jou kind bemagtig om sy/haar eie toespraak te skryf.

Voor jy kan wegspring met die toespraak, maak eers seker van die tema/onderwerp, en die lengte van die toespraak. Onderwysers gee gewoonlik die onderwerpe en verwagte tydsduur van ‘n klastoespraak en die skool se redenaarskompetisie. Eksterne redenaarskompetisies soos Radikale Redenaars, die AKTV-Redenaarskompetisieen Oppie Tong af Redenaars verskaf die inligting op hul webtuistes.

Kyk hier na ‘n omvattende video van die opvoedkundige YouTube-kanaal, Ek kan, wat fokus op ‘Alles van Redenaars’:

Struktuur van ‘n toespraak

Wanneer jy die volgende struktuur as resep gebruik, kan jou toespraak-koek nie flop nie! Nie net maak die gebruik van ‘n struktuur dit vir jou makliker om die toespraak te skryf nie, dit maak dit ook makliker vir jou kind om te leer en vir die gehoor en die beoordelaars om te volg.

Die basiese struktuur van ‘n redenaarstoespraak bestaan uit:

1. Die kop van die redenaarstoespraak

Die eerste deel van die toespraak moet die volgende bevat:

  • Die ‘aanhef

Hier groet die leerder die voorsitter. “Voorsitter”

  • Inleidende paragraaf

In die inleidende paragraaf noem die leerder sy tema/onderwerp sodat die gehoor en die voorsitter weet waaroor die toespraak gaan. Sorg ook dat die inleidende paragraaf die gehoor laat regop sit en hul aandag trek. Jy kan byvoorbeeld van ‘n oulike rympie, aanhaling of grappie gebruik maak. Eisteddfod-pret is ‘n wonderlike boek wat jou hiermee kan help

  • Groet die gehoor.

Voordat die leerder met sy/haar beredenering begin, moet hul eers die gehoor se teenwoordigheid erken. Die aanspreekvorm gaan afhang van die gehoor. Vir ‘n klastoespraak gaan dit wees “Juffrou en klasmaats” en vir ‘n redenaarskompetisie “dames en here”.


2. Die lyf van die toespraak

Die lyf van die toespraak bestaan uit drie standpunte:

  • 1. Opinie/standpunt en rede + ‘n aanhaling om jou opinie/standpunt te staaf.
  • 2. Opinie/standpunt en rede + ‘n aanhaling om jou opinie/standpunt te staaf.
  • 3. Opinie/standpunt en rede + ‘n aanhaling om jou opinie/standpunt te staaf.

Dit is belangrik om drie oortuigende standpunte te maak en ook om geloofwaardige aanhalings van relevante bronne te gebruik. Hoe ouer die redenaar, hoe belangriker is die aanhaling. Vir jonger kinders kan “My oupa glo elke hond kry sy dag” werk, maar vir ouer kinders moet die volgende manier van aanhaal gebruik word, “Volgens die bedryfsielkundige, Piet Pompies, in die Huisgenoot van 12 April 2017…”.


3. Samevatting en einde

Jou samevatting en einde moet jou argument versterk deur al die los drade saam te vat. Gebruik ‘n aanhaling en/of ‘n gesegde deur ‘n beroemde persoon. Jou einde moet ook ‘n bedanking insluit, byvoorbeeld: “Baie dankie vir u aandag voorsitter, dames en here.”


Hoe om jou struktuur lyf te gee

Nou dat jy die struktuur onder die knie het, is dit tyd om die toespraak bietjie lyf te gee. Onthou om altyd ‘n grappie of drie (verkieslik oor iets wat tans relevant is) in jou toespraak te gebruik en om seker te maak die taalgebruik van die toespraak is op die regte vlak vir die spreker. Geen graad 2-kind gaan weet wat beteken “vandag wil ek onomwonde sê” nie… Dit is ook belangrik dat die drie opinies/standpunte wat gebruik word geloofwaardig is en dat die aanhalings wat gebruik word werklik die argument staaf.

Daar is ook verskeie hulpbronne tot jou beskikking om jou te help as jy vasbrand. Die ATKV het ‘n handleiding ontwikkel wat jou presies wys hoe om ‘n toespraak te skryf. Vir meer inligting oor dié handleiding klik hier.

Foto deur www.pexels.com


Tydsduur van die toespraak

‘n Vasgestelde tydsduur vir die toespraak word gewoonlik verskaf. ‘n Goeie maatstaf om te gebruik om te verseker jy bly binne die gegewe tydsduur is om tussen 100-130 woorde per minuut toe te laat (‘n mens praat ongeveer 130 woorde per minuut). Sorg altyd dat daar genoeg tyd is om die toespraak te voltooi as die leerder sou vasbrand, as die toespraak byvoorbeeld tussen 4-6 minute moet wees, hou by 5 minute. Gebruik ook ‘n stophorlosie wanneer die leerder die toespraak oefen.

5 wen-wenke vir ‘n treffertoespraak:

Volg die vyf wenke van Lizelle van Staden, die organiseerder van die ATKV-Redenaarskompetisie om ‘n wentoespraak te skryf.

  1. Jou onderwerp is belangrik! 
    Dink mooi oor jou onderwerp. Oorweeg al jou opsies. Kan jy daaroor redeneer? Kan jy daarteen en daarvoor praat? Besluit wat jy wil sê. Waarvan wil jy die gehoor presies oortuig? Formuleer jou onderwerp sodat die gehoor duidelik kan hoor waarvan jy hulle wil oortuig.
  2. Jou toespraak moet drie GOEIE standpunte/argumente bevat.
    Kies drie logiese en onafhanklike argumente wanneer jy jou toespraak skryf. Onthou ook dat jy moet redeneer en nie net feite en inhoud weergee nie. Jou gehoor moet verstaan hoekom jy jou standpunt inneem.
  3. Jou bronne moet geloofwaardig en van pas wees.
    Het jy deeglike navorsing gedoen om aan jou gehoor te bewys jy weet waarvan jy praat? Noem jou bronne deeglik en onthou die vier w’s (wie, wat, waar en wanneer). Byvoorbeeld, “Dawie Roodt, ekonoom, in Beeld, 14 April 2016.” Maak ook gebruik van logiese voorbeelde uit jou eie lewe. Die mense wil weet hoe JY oor die saak voel.
  4. Doen moeite met jou taalgebruik
    Gebruik goeie Afrikaans wat nie te maklik of moeilik vir jou ouderdomsgroep is nie. Kleur dit in met idiome, spreekwoorde en uitdrukkings. Wees kreatief.
  5. Struktuur is belangrik
    Struktureer jou toespraak dat dit logies vloei. Dit help die gehoor om die toespraak te volg en jou argumente beter te onthou.

Onthou om volgende week uit te kyk vir die tweede artikel in ons ‘Alles wat jy nodig het vir 2018-redenaarsreeks’. Ons gaan dan kyk na die verskillende uitdagings en slaggate vir die verskillende ouderdomsgroepe en ook vir jou waardevolle wenke gee wanneer dit kom by die aanleer en die manier hoe jou kind sy toespraak voordra.

Lees  ook