fbpx

9 Maart 2020
Nicolette van Schalkwyk

Agt maniere om lees lekker en maklik te maak

Afrikaans.com-lekker lees

Afrikaans.com was onlangs by die ATKV se jaarlikse Skitter-leeswerkswinkel waar die belangrikheid van lees onder die loep gebring is. Ons is almal bewus van die voordele wat dit inhou om reeds van jongs af ’n liefde vir lees by ons kinders te kweek, maar hoe maak ’n mens lees lekker en effektief? Hier is ’n paar wenke wat toegepas kan word wanneer jy vir jou eie kleinding of die kinders in jou klaskamer lees:

1. Die visuele aspekte is belangrik

Die belangrikheid van die visuele in die proses om te leer lees, kan nie onderskat word nie. Alhoewel gehoor ’n baie groot rol speel in ’n kind se breinontwikkeling, is sig ook ’n belangrike faktor om in ag te neem wanneer nuwe vaardighede soos lees aangeleer word.

Dit is daarom belangrik om boeke te kies wat visueel stimulerend is. Sodoende word die kind se aandag behou terwyl hy/sy ook sekere assosiasies met verskillende prentjies maak. Begin deur vir die kind die voorblad van die boek te wys as aanvangspunt tot die res van die storie.

2. Sensoriese speel

Reeds van vroeg af, maak kinders gebruik van hul sintuie om sin te maak van die wêreld rondom hulle. Deur voorwerpe te voel, te proe, te hoor en te sien, word ’n verstaan van die lewe rondom hulle gekweek. Nes volwassenes, neem kinders ook vinnig inligting in as hulle hul verskillende sintuie inspan. Dieselfde beginsel geld gedurende die leesproses.

Deur gebruik te maak van “sensoriese speelmetodes”, maak die kind sekere assosiasies wat hom/haar help om die woorde wat hulle lees makliker te onthou en in te neem. Byvoorbeeld, as jy die woord “ui” lees. Laat die kind aan ’n ui ruik en vat. Onmiddellik maak hy/sy ’n konnotasie tussen die reuk/gevoel en die woord in hul brein en help dit hom/haar om dit te onthou.

3. Beplan! 

Glo dit of nie, kinders kom agter as jy nie voorbereid is nie. Lees die storie voor die tyd goed deur sodat jy presies weet wat om te verwag. Maak ook seker die leesruimte is goed ingerig. Skep ’n lekker stil leeshoekie in die klaskamer of in jou huis wat spesiaal vir die doeleindes van lees gebruik word. Jy kan die area selfs volgens ’n spesifieke tema opmaak na gelang van die kind se voorkeure. Sodoende skep dit ’n positiewe ingesteldheid oor lees en word dit ’n prettige aktiwiteit waaraan hy/sy graag wíl deelneem.

 4. Maak gebruik van hulpmiddels

Een van die maklikste en lekkerste maniere om te leer lees, is deur gebruik te maak van ’n verskeidenheid hulpmiddels soos handpoppe en speelgoed.

Wanneer ’n ouer of onderwyser gebruik maak van ’n tasbare produk, maak die kind ’n assosiasie in sy/haar brein om die gepaardgaande woord te onthou.

5. Die krag van ’n pouse

Wees versigtig om nie te vinnig van een onderwerp na ‘n ander te spring nie. Gee ’n pouse en laat jou kind toe om dit wat hy/sy/jy gelees het, te verwerk.

6. Lees met bedoeling

Wanneer jy vir jou kind lees, wissel jou toon om aan te pas by die spesifieke emosie wat oorgedra word. Dit help die kind nie alleenlik om ’n visuele beeld te skets nie, maar dit maak hom/haar ook bewus van die toon wat gepaardgaan met ’n spesifieke emosie. Die identifisering van emosies speel ’n belangrike rol in ’n kind se sosiale ontwikkeling en lees is een van die maniere waarop dit ontwikkel word.

 7. Vra vrae nadat die kind gelees het

Die leesproses kan baie pret wees, maar dit stop nie daar nie. Vra vrae oor die storie na afloop daarvan om seker te maak die kind het ’n stewige begrip van die onderwerp. Sodoende kan jy agterkom of die kind inneem wat hulle lees.

 8. Kies boeke waarvan kinders hou

Nes volwassenes, verskil kinders se belangstellings en daarom ook hul voorkeure in boeke. Koop boeke wat onderwerpe bevat waarvan jou kind sal hou en waarmee hy/sy kan vereenselwig. Sodoende prikkel jy onmiddellik die kind se belangstelling en sal hul meer geneë wees om saam met jou te lees.

Hier is ’n paar voorbeelde van Lapa-uitgewers se lekkerlees-kinderboeke:

Kleuters 3+

Prinses Pampoenpit

Zinelda McDonald (Illustreerder)

Bianca Flanders

Meisies kan enige iets doen

Caryl Hart en Ali Pye

Rondomtalie: die beste rympies en liedjies

Jaco Jacobs

Die beste toebroodjie

Jaco Jacobs

Nicolene Louw (Illustreerder)

Kleuters 5+

Oupa se medalje

Phil Earle

Sarah Horne (Illustrasies)

Weer en die seisoene

Jaco Jacobs

 Leer my lees: Tippie by die dieretuin

Jose & Reinette Palmer

1-2-3 Groei met spel

Nadia Viljoen

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.