fbpx

Zoey-boekereeks gee vlerke aan Weskuskinders

Deur: William Sezoe 

Twee fenomenale vroue, Trish Goosen, ’n bekroonde joernalis by die Weslander en Shemoné Bokhary, ’n vroeëkinderontwikkelingspesialis by die Arcelor Mittal Science Centre in Vredenburg, het onlangs saam ’n boekereeks uitgegee wat reeds talle jong kinders aan die Weskus inspireer.

Trish en Shemoné het mekaar in 2015 ontmoet en in 2017 het dié twee koppe bymekaargesit om hierdie opwindende projek moontlik te maak. Die boekereeks, Zoey en die superslimhelpers, is in November 2019 bekendgestel.

“In 2017 het ’n onderwyser gevra hoekom ons nie ons eie boeke skryf nie. Dis waar die eintlike inspirasie begin het,” sê Shemoné.

Kinderboeke wat verdraagsaamheid help ontwikkel

“Liefde en respek is die belangrikste lesse wat ons vir die land se kinders met ons boeke wil leer.” – Die skrywers Trish Goosen & Shemone Bokhary.

Hierdie twee ystervroue het uit hul eie sakke die eerste boek van die reeks laat publiseer. Trish en Shemoné het saam aan die storie geskryf en Trish, wat linkshandig is, het die illustrasies eers op papier gedoen, en daarna met haar regterhand op ’n digitale ontwerpprogram geteken – dit wil gedoen wees!

Die boek raak aan verskeie uitdagings in ons gemeenskappe. Een van dié uitdagings wat ondersoek word, is boeliery. Die boek ondersoek ook die tema van identiteit en die soeke daarna.

Die karakters

Die boek bevat vyf karakters wat elk uit ’n spesifieke agtergrond kom. Ten spyte daarvan aanvaar hul mekaar onvoorwaardelik.

“Ons het besluit om inklusiewe karakters te skep wat inpas by die realiteit in Suid-Afrika,” meen Trish.

Een van die karakters is ook in ’n rystoel en die ander vier maats moet saamwerk om hom met sy daaglikse aktiwiteite by te staan. Volgens Trish was dit noodsaaklik om só ’n karakter in die boek in te werk om sodoende die nood vir befondsing vir mense met gestremdhede te beklemtoon.

Met ons boekreeks wil ons empatie en aanvaarding by kleuters op ’n jong ouderdom aanwakker … hulle leer dat elkeen uniek geskape is en waardig van liefde is.” – Trish Goosen, skrywer en illustreerder

afrikaans.com zoey karakters

Zoey, die hoofkarakter, is ’n nuuskierige dogtertjie wat graag nuwe dinge leer. Sy moedig haar vriende, Piet en Lebo, aan om nuuskieriger te wees, want “nuuskierigheid maak kinders slim”.

Die karakters is gebaseer op superhelde en daarom baie gewild by jong kinders. Zoey, Lebo en Piet woon aan die Weskus en hul karakters is gebaseer op gewone kinders van verskillende sosio-ekonomiese omstandighede. Die boeke is daarop gemik om geslagsgelykheid en inklusiwiteit te bevorder. Daarom verteenwoordig die karakters verskillende rasse en ook mense wat met gestremdhede leef. Benewens die feit dat die Zoey-boeke ’n liefde vir lees by kleuters en kinders wil aanmoedig, is emosionele ontwikkeling een van die hoofdoelwitte. Ouderdomsgepaste lewenslesse word in die verhale ingebou.

Wie is die Superslimhelpers?

Die Superslimhelpers wil kinders aanmoedig om probleme met spanwerk en breinkrag op te los en om liefde vir, verdraagsaamheid teenoor en empatie met ander mense te hê.

Piet se mamma het superheld-mantels en -maskers vir die drie vriende gemaak. Wanneer daar ’n probleem opduik of iemand in die moeilikheid is, trek die drie hul kostuums aan en word hulle die Superslimhelpers. ’n Ware superheld is nie iemand wat kan vlieg of supermagte het nie, dit is die persoon wat omgee en sy of haar deel doen om van die wêreld ’n beter plek te maak.

Goed ontvang

Boek een van ’n nuwe opvoedkundige kinderboekreeks wat kinders veral oor diversiteit wil leer, is reeds op die rakke. Kinders tussen 3 en 5 en veral graad R-leerders sal die boek geniet. Zoey en die Superslimhelpers word aanvanklik in Afrikaans gedruk, maar daar sal mettertyd ook ’n Engelse en woordlose weergawe van die boek beskikbaar wees en die skrywers hoop om dit ook in ons ander landstale beskikbaar te stel.

Woordlose boeke is veral belangrik vir vroeëkinderontwikkeling, want dit vereis dat kinders betrokke raak en dink oor die verhaal wat die illustrasies oordra. So word storievertelling, geletterdheid en begripsvaardighede bevorder.

Die reaksie van die jong kinders aan die Weskus en selfs in die Boland het die twee vroue verbaas.

“Die boek was aanvanklik vir die jonger kinders, maar selfs tieners word ingetrek daardeur,” sê Trish.

Volgens Shemoné is dit die uitdagings in ons gemeenskappe wat die tieners se belangstelling in die boek prikkel.

Hierdie twee vroue is ’n bewys van hoop. Hulle het besluit om hulle eie stories te skryf en dit deur middel van ’n boek met jong kinders in die Weskus te deel. Die tweede boek van die reeks word binnekort vrygestel.

By die bekendstelling: William Sezoe, Shemoné Bokhary, Vanessa du Plessis (For the Children in Langebaan) en Trish Goosen.

Afrikaans.com-Zoey

Shemoné Bokhary saam met ‘n geïnspireerde lesertjie.

Afrikaans.com-Zoey

Trish Goosen saam met ‘n superheld!

Gaan loer gerus op hul Facebookblad, Zoey en die Superslimhelper, waarmee hulle tans besig is.

Vir meer inligting oor die projek, stuur ‘n e-pos aan: zoeysuperslimhelpers@gmail.com

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.