Wees kreatief vir Kersfees – Lidi de Waal inspireer …

Lidi verf ‘n reënboog met haar woorde

“Lidi se sonderlinge insig in die lewe se uitdagings, die kwessies van vrouwees vandag, ook die liefde se soet en bitter, verwoord soveel van die dinge wat ek voel. Haar simboliek in haar skilderye spreek tot my op ʼn tydlose wyse – veral wanneer diere soos katte en visse uitgebeeld word.” – Elize Parker

Met ʼn fyn waarnemingsoog kyk Lidi de Waal na die wêreld. Hierdie waarnemings deel sy ruimskoots in woorde en prente met haar Facebook-volgelinge. Alita Steenkamp het nader kennis gemaak met hierdie talentvolle en effens eksentrieke kunstenaar.

Haar gedagtes … haar vreugdes en swaarkry

Selfs al het jy nog nooit vir Lidi de Waal ontmoet nie, voel dit asof jy haar ken. Sy deel graag haar gedagtes, vreugdes, swaarkry en bekommernis. Dit alles op Facebook. Hierdie sosiale platform sorg mos dat mense wat selfs aan die ander kant van die aardbol sit, met jou kan gesels. Dis Lidi se pragtige verse, soms gevul met rou emosie, ander kere met ongekende vreugde, waardeur ʼn mens haar leer ken. Lidi lag en sê sy het met die Facebook-plasings begin toe sy baie alleen was. Sy het toe heel afgesonder reg langs ʼn wynkelder op Grabouw gebly en sy het haar Blackberry gebruik om van haar woorde en prente op Facebook te deel. Dan was sy altyd verras om te sien dat daar wel mense is wat daarvan hou. Facebook het as’t ware vir haar ʼn lewenslyn geword.

Lidi het vir meer as twintig jaar kleibeelde gemaak. Tog was dit baie harde werk en nooit werklik finansieel die moeite werd nie. Die ure wat jy gebruik om die klei te vorm, te bak in die oond, en dan dikwels te beleef dat wanneer die oonddeur oopgaan, die beeld in duisend stukkies ontplof het, beteken jy spandeer eintlik meer as wat jy inkry. Vir Lidi het dit ʼn stryd om oorlewing geword en al hoe meer mense het haar aangemoedig om eerder te begin verf. Die kunstenaar Hennie Niemann wat op Vermont woon, het ook kennis geneem van Lidi se skryfwerk op Facebook. Dit was een inskrywing wat hom veral geraak het.

“Partykeer klap die lewe jou dat die snot spat. Dan is dit goed as jy net ʼn bietjie kan terugstaan en kyk sodat jy kan sê: “Ag dis orraait. Ek het nog baie snot oor.”

Lidi, wat vir meer as twintig jaar net met klei gewerk het en beelde gemaak het, het vas geglo sy sal eendag met ʼn bol klei in haar hande doodgaan. Nadat Hennie die saadjie geplant het, en sy besef het dat sy eintlik deur al die jare met haar beelde haarself voorberei het om proporsies waar te neem, het sy die wonder van verf ontdek. Van die eerste skilderye wat sy gemaak het, is dadelik verkoop en sy het nog nooit weer met klei gewerk nie.

“My verse is redelik biografies van aard,” lag sy en vertel dat sy begin skryf het nadat sy geskei is. “Dit was omtrent ʼn gewroeg en gegalbraak op papier, maar ek het dit ver weggebêre. Deesdae voel dit vir my asof ek net kan skryf oor dinge wat ek in my kop en hart gevoel het. Ek kan skryf oor iets wat ek sien, of iets of iemand wat ek ken. Op ʼn manier help hierdie skryfwerk my om sin in die lewe te vind. Ek probeer elke tweede of derde dag iets nuuts kry om op my Facebookblad te sit. Dit hou my kop besig en laat my twee keer oor dinge dink. Ek sal nooit uitmergelende lang goed kan skryf nie. Woorde kom ook deesdae al hoe makliker na my toe. Ek dink ʼn mens raak geslyp,” sê Lidi.

Lidi het twee jaar lank op Witsand in die Suid-Kaap gewoon, maar deesdae deel sy ʼn huis in Hermanus met haar broer en sy vrou Alet, wat ook haar agent is. Lidi is eintlik ʼn Karookind wat op Fraserburg grootgeword het. Soms, sê sy, raak die verlange na die Karoo steeds groot. Tog is dit nie noodwendig ʼn verlange na die plek self nie, maar eerder na hoe dit was in die tyd toe sy daar gebly het. Vir haar is die Karoo sinoniem met haar grootwordjare, ongekompliseerde jare met baie vryheid. Daarna verlang sy wel. Wanneer sy nou die kans kry om in die Karoo te kom, sal sy vir ure in die veld rondloop, met haar self gesels en opnuut die skoonheid van die natuur, die klippe, bossies, skoon lug en wye vlaktes geniet.

Die asems in haar huis

Iets wat opmerklik is van Lidi se skilderye, is die katte wat oral opduik. By die huis is daar ʼn paar katte en ʼn hond wat haar baie vreugde verskaf. “Deesdae is my katte soos kinders. Dit is die asems in die huis en iets om voor te sorg. My kinders is uit die huis uit en daar is ook nie meer ʼn man om voor te sorg nie, so al die liefde wat ek kan uitstort, doen ek op die katte en die hond. Katte was vir my nog altyd verskriklik mooi gewees en ʼn plesier om na te kyk. Hulle kan hulself mos so drapeer op ʼn meubelstuk sodat dit soos ʼn kunswerk lyk,” sê sy.

Vra ʼn mens vir Lidi wat haar idee van perfekte geluk is, oorpeins sy dit ʼn bietjie voordat sy antwoord: “Perfekte geluk is om vrede binne jouself te hê en om nie van ander mense te verwag om jou happy te maak nie. Dit is om iets goeds te hê om elke dag te doen. Dit hoef nie indrukwekkende groot goed te wees nie, maar bloot net iets wat jou gelukkig maak. Dan sal jy  daardie vrede in jouself vind. Ek is dankbaar oor die verfwerk wat my pad gekruis het. Klei vat my altyd in my kop terug na ʼn baie traumatiese tyd in my lewe waar ek finansieel en emosioneel geweldig swaar gekry het. Verf het vir my ʼn manier gegee om uit te styg. Dit het nuwe wêrelde vir my oopgemaak.”

Sewe blitsvrae aan Lidi:

1. Wie is jou gunsteling- Afrikaanse skrywer/s?
Deon Meyer, Boerneef, Dalene Matthee en Annelie Botes.


2. Van watter karaktertrekke hou jy die minste?
Van mense wat bevooroordeeld is en rigied dink oor goeters en die lewe. Mense wat in ʼn klein tonneltjie loop en nie probeer om ander mense se sienings raak te sien of te verstaan nie.


3. Van watter karaktertrekke hou jy die meeste?
Ongekompliseerdheid in ʼn mens se menswees en in jou denke.


4. Wat is jou grootste vrees?
Koringkrieke.


5. Wat beskou jy as die diepste dal van ellende?
Wanneer verhoudings so skeef loop dat dit al jou energie tap en dat dit al is waaraan jy dink. Wanneer daardie ongelukkigheid jou lewe totaal en al oorheers. Ook wanneer jy die hele tyd moet bekommer oor hoe jy gaan oorleef. Dit is ellendig.


6. Watter talent sou jy die graagste wou hê?
Ek sou baie graag die vermoë wou hê om voor ʼn klompie mense te kan praat sonder dat my knieë bewe.


7. Wat is jou lewensleuse?
Leef en laat leef. Ek dink die wêreld sou so ʼn wonderlike plek gewees het as almal dit net kon regkry!

Uitstalling:

Op 16 en 17 Desember vind daar ʼn uitstalling van Lidi se kuns plaas by die kelder by Hermanuspietersfontein in Hermanus. Daar sal kos en wyn en samesyn wees en beide aande sal Lizanne Barnard en Pyjama Shark om 19:00 optree. Skakel Alet by 0731741011 om te bespreek.

Besoek: https://www.lididewaal.co.za/ om Lidi se twee boeke, Mosselskulpboekie en Verf ʼn reënboog met jou woorde te koop. Jy kan ook van haar werk hier aanskaf, of word deel van haar facebookgroep.