fbpx

Vier fees in jou moedertaal

Die Woordfees word mondig!

Kom maak saam geraas!  Die Woordfees is immers mondig!

“Ons tema, ‘Aanhou beweeg en geraas maak’, geneem uit Jan Rabie se kortverhaalbundel 21 en allerweë beskou as die begin van die Sestiger literêre beweging, is ’n herbevestiging aan ons verbintenis aan die woord. Die Sestigers het die establishment van die dag tot in hul fondamente geskud. ’n Kunstefees behoort dit ook te doen; maar ook meer as dit – ’n fees moet motiveer, koester en troos, verwoord, vermaak en vernuwe. Slegs as die fees al hierdie funksies vervul, sal dit werklik impak hê. Sorg dus dat jy saam kom geraas maak op Stellenbosch van 6-15 Maart. Dis dalk net die begin van ’n nuwe beweging!” –  Saartjie Botha, Direkteur: Toyota US Woordfees en WOW

Vanaf 6 tot 15 Maart 2020 is dit weer tyd vir feesvier in die Eikestad wanneer die Toyota US Woordfees feesgangers gaan bekoor en gaan laat oe en aa vir ’n vale – hoe dan nou ook anders met meer as 1 000 aanbiedings op die program!

WAARNA JY KAN UITSIEN

Soos reeds genoem, is daar meer as ’n duisend aanbiedings op vanjaar se program en is dit onmoontlik om alles te dek, maar as lusmakertjie lig Afrikaans.com graag so ’n paar van ons gunstelinge uit en vertel ons jou verder waar in die program jy meer kan gaan lees. Gaan loer gerus op die Woordfees se webtuiste en stel jou eie feesprogram saam.

SKRYWERSFEES

12 MAART – 12:30 in die Boektent: Annelie Botes (en die ou gryse): Kammaland

Annelie Botes is terug met haar jongste boek, Kammaland. Sy en die ou gryse vertel vir die eerste keer sáám hoekom hulle besluit het om die Engelse kanaalpad te vat, reg in die snerpende winter in, en hoe kwaai dit hul 44 jaar van saamwees getoets het.

12 MAART – 18:15 vir 18:45 in die Boektent: Boekklub: Alba Bouwer 100 – Rivierplaas se ma, met Elna van der Merwe as gesprekleier.

 Op 16 Maart 2020 sou Alba Bouwer 100 jaar oud wees. As ’n huldeblyk word die ikoniese Rivierplaas-omnibus herdruk en eksklusief by die Woordfees bekend gestel. Twee van haar sewe stiefkinders, Leon Coetzee, wat van kleuterdae af deur Alba grootgemaak is, en Jan Hofmeyr, wat saam met haar op Riversdal gewoon het, deel van die familie se herinneringe aan dié geliefde kinderboekskrywer wat nooit haar eie kinders gehad het nie. Gaste kan dan luister na ’n voorlesing uit Stories van Rivierplaas, Nuwe stories van Rivierplaas en Stories van Ruyswyck deur Mila Guy.

7 MAART – 14:00 in die Boektent: Dana Snyman: Soekmekaar met Johannes de Villiers.

’n Stuk of 50 stories waarin Dana Snyman besin oor enigiets van Donald Trump tot ’n 40ste skoolreünie, van sy kennismaking met Eugene Terre’Blanche tot die Bogosi-gesin wat by hom gewoon het op Jacobsbaai. Hy vertel hoe mense na mekaar probeer uitreik in ons land; hoe ons mekaar soek en nie altyd vind nie. Johannes de Villiers, skrywer van Blydskap – Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe, vra hom uit.

11 MAART – 10:00 by Upstage@Drostdy Teater: Seks, Leuens en die Internet deur Erla-Mari Diedericks met Marion Holm.

Om iemand te “ghost”, of om ge-“bench” of ge-“orbit” te word – alles woorde waarmee jy bekend moet wees voordat jy die troebel waters van internet dating invaar. En verál as jy ’n vrou ouer as 50 is. Die gewilde Netwerk24-blogger Erla-Mari Diedericks draai geen doekies om oor haar eie ervarings met seks, leuens en die internet nie. Marion Holm wil alles weet.

9 MAART – 12:00 in die Adam Small-seminaarkamer: Innie Shadows: Krimi in Kaaps!  Deborah Steinmair ontmoet vir Olivia M. Coetzee.

Deborah Steinmair stel ’n splinternuwe krimistem bekend, dié van die UK-student Olivia M. Coetzee, wat haar misdaadroman oor die Kaap in sy geheel geskryf het in die taal van sy mense – Kaaps. Welkom, Innie Shadows. Armoede, tik en godsdiens is ’n groep vrinne se daaglikse brood tot een van hulle vermis raak. Waa is Carl, hoekô niem Gershwin sy eie liewe, en wat lê agte die vebrande lyk wat in Shadow Heights gekry wôt?

6 MAART – 12:00 in die US Biblioteek Ouditorium: Jan Rabie se ‘21’ sluit die deure oop.

Andries Visagie, Steward van Wyk en MC Botha gesels oor die werk en lewe van ons eie Sestiger-“strandloper”, Jan Rabie, wie se baanbrekersversameling kortverhale, 21, in 1956 die sleutel was wat die grensverskuiwende Sestigersbeweging in Afrikaans sou oopsluit. Jan en sy Skotse kunstenaarsvrou, Marjorie Wallace, se huis op Onrus was ’n tweede tuiste vir baie skrywers, soos Uys Krige, Breyten Breytenbach en André P. Brink. Ná die gesprek kan gaste die omvattende versameling van Jan se manuskripte, aantekeningboeke, briewe, foto’s en persoonlike dagboeke bekyk.

6, 7, 12 en 13 MAART – 09:00 – 12:00, 14:00 – 16:00 tussen die Boektent en ATKV-Boek-Oase: Versfort: Digkuns met  o.a. gepubliseerde digters, Penseel se studentedigters, en Wellington se Mengelmoes-digters as voorlesers.

Onthou jy nog jou kinderfort met lakens, komberse, kussings of ’n slaapsak? Met ’n kopknik na Breyten Breytenbach wat 60 jaar gelede as een van die Sestigers Afrikaanse digkuns op sy kop gekeer het, kan jy nou in so ’n nuut verbeelde “versfort” inkruip om nie net na gedigvoorlesings te luister nie, maar ook van jou eie gedigte voor te lees as jy ’n middernagtelike skriba is – en selfs afskrifte van jou gedigte in die “fort” te los vir ander om te lees. Jy’s ook welkom om ’n gedig van jou eie keuse saam te bring, of ’n bundel waaruit jy graag iets voorgelees wil hoor. Kom ontspan met die skoonheid van woorde al om jou in ’n klein, intieme ruimte. En as niemand voorlees nie, kan jy in stilte sit en lees uit die bundels in die “fort”.

TONEEL

11 MAART 16:30; 12 MAART 17:30 & 20:00; 13 MAART 10:00 | 15 MAART 10:00 – Adam Small Ouditorium: Drama: Die Engel by die Dam met De Klerk Oelofse, Liezl De Kock, Carla Smith, Len-Barry Simons, Carlo Daniels e.a.

Die magiese verhaal van ’n afgeleë plaashuis en die mense wat die kamers met liefde, hoop en verlange vul. Hy maak modder soos hy loop, swartbaars en kurpers wat om sy lyf in die maanlig swem en lug hap. Hy pluk engele soos vye uit die koue lug en steek hulle een vir een op die pendorings vas. Geen o/12

 

6 MAART 20:30; 7 MAART 10:00; 8 MAART 10:00 & 12:30; 10 MAART 18:00 in HS Lückhoff: Die Garage – ’n tragikomedie. Met Lee-Ann van Rooi, Marlo Minnaar, Neels van Jaarsveld.

Avril Williams, ’n fisioterapeut, glo ’n sprokiestroue wag iewers in haar nabye toekoms. Haar broer, Mike, ’n meesal werklose akteur, bestuur sy sinisme soos ’n oopdak-Ferrari. Die skerpste ding in sy bagasie is sy tong. Wanneer die pizza-afleweraar Flip ook op die toneel verskyn, is die tafel gedek vir ’n sardoniese tragikomedie oor die donkersnaakse kant van Kaapse suburbia.

11 MAART 13:00; 12 MAART 20:30; 13 MAART 10:00; 14 MAART 10:00; 15 MAART 16:00 by Rhenish Girls’ High School: Die Vermoeienis van Vlerke. ’n Drama met Frank Opperman, Henriëtta Greyfenberg, Chris Gxalaba.

Sara is bipolêr, kompulsief, springlewendig en haat vroue wat weet hoe om cupcakes te maak. Haar man is op ’n missie om die regte behandeling vir haar te vind. Dié kragtige stuk oor vriendskap, wanfunksionaliteit, verslawing en engele is ’n boeiende blik op die impak van gemoedsteurnisse op ’n gesin. Saartjie Botha het die internasionaalbekroonde The Inconvenience of Wings in Afrikaans vertaal. Geen o/16 (T, S)

6 MAART 15:00; 7 MAART 20:30; 8 MAART 10:00; 9 MAART 18:00; 10 MAART 18:00 & 20:30 by Hoërskool Cloetesville: Tien Duisend Ton. ’n Drama met Albert Pretorius, Cintaine Schutte.

Hoe diep is die voetspoor wat ons op die aarde agterlaat? Wat weeg ’n kind? Hoe bring ’n mens ’n nuwe lewe in die wêreld in ’n era van politieke onrus, klimaatsverandering en ’n oorheersende gevoel van wanhoop? ’n Man en vrou oorweeg ’n baba, maar worstel met die impak wat dit kan hê – nie net op hul eie lewens nie, maar ook op die mensdom as geheel. Tien duisend ton gaan oor die verrassende verloop van ’n verhouding, oor familie, hoop en verraad. Beste aktrise en debuutproduksie by Woordfees 2019. Geen o/16 (S,T)

6 MAART 13:00; 7 MAART 20:30; 8 MAART 10:00 & 12:30; 9 MAART 16:30; 10 MAART 20:00; 11 MAART 10:00 by die Adam Small Ouditorium – Valsrivier. ’n Drama met Anna-Mart van der Merwe, Tinarie van Wyk Loots, Stian Bam e.a.

Die verhoogverwerking van Dominique Botha se veelbekroonde roman word aangebied deur die vervaardigers van Die reuk van appels en Kamphoer. Dié aangrypende verhaal oor familie, lojaliteit, verlies en grootword is afgeëts teen die landskap van ’n diep verdeelde Suid-Afrika. ’n Jong man se lewe stuur onafwendbaar af op ’n tragiese einde, te midde van ’n nuwe demokrasie se geboortepyne. Politiek, persoonlike herinnering en ’n vergane plattelandse landelikheid word dramaties verweef in ’n suster se elegie aan haar broer. Geen o/16 (S, T, N)

FILMFEES

Die Filmfeesprogram is saamgestel met volwasse gehore in gedagte. Kinders o/13 moet deur ’n volwassene vergesel word. Jy kan onder andere uitsien na hoogtepunte van KykNET se 2019-Silwerskermfees, maar daar is ook talle ander films en dokumentêre films om uit te kies.  Lees vanaf bladsy 187 in die feesprogram wat op die spyskaart is.

VISUELE KUNS

Vanjaar se feeskunstenaar is Gerhard Marx. Hy bring sy enigmatiese Vehicle-projek na die Woordfees. Die projek streef om ’n “stem” (en daarmee storie) aan lewelose objekte te gee, en om dit te doen het Marx klassieke snaarinstrumente – ’n tjello, twee viole en ’n kontrabas – oorgeplant op dele van ’n motor. Dié voertuigparte word deel van ’n klankkas waaruit ’n ryk, broeiende en hipnotiese klankwêreld getrek word. Lees meer oor die Visuele Kuns-aanbod vanaf bladsy 201 in die program. Daar is kunsrondleidings en verskeie uistallings om jou kunslus te bevredig.

TOYOTA TAWWE TIEN: 10 topkonserte, 10 dae teen R1 000!

Is jy taf genoeg vir die Toyota Tawwe Tien? Hier is die program:

6 Maart Dagdrome in die Boland

7 Maart Woordfees Karnaval met Maak My Famous

8 Maart Karen Zoid & Kaapstadse Filharmoniese Orkes

9 Maart Sho Madjozi

10 Maart Jo Black

11 Maart Spoegwolf

12 Maart Early B

13 Maart Roan Ash

14 Maart Skemer Tunes: Sunset Sweatshop, Bad Peter & Die Heuwels Fantasties

15 Maart Dr Victor & The Rasta Rebels

Venue:

6-8 Maart: Van der Stel Sportgronde

9-15 Maart: Jan Marais Natuurreservaat

 

EN DAN IS DAAR OOK …

Raadpleeg die volledige feesprogram en stel so jou eie pasgemaakte program saam vir ’n onvergeetlike en beweeglike Woordfees 2020.

 Kursusse tydens die fees:

Kyk vanaf bladsy 86 vir die verskillende kursusse wat aangebied word. Dit sluit o.a. werksessies, skryfkursusse en kortfilmdraaiboeke in – alles spesifiek gerig op kennisuitbreiding.

 Diskoerse:

Vanaf bladsy 92 kry jy die program vir vanjaar se Diskoers-reeks met gesprekke en debatte oor belangrike aktuele kwessies.

Klassieke Musiek- & Kontemporêre Musiek:

Lees vanaf bladsy 138 tot 180. Daar is iets vir elke musieksmaak.

Stand-up:

As jy graag jou lagspiere oefen, raai ons jou aan om vanaf bladsy 181 te gaan kyk wat op die Stand-up-front beskikbaar is.

Spesiale geleenthede:

Ons praat hier van byvoorbeeld Die Langtafel en Toekenningsaand, ’n Wynproe-safari en Straatsoirée en Landbou-verwante aanbiedings. Gaan na bladsy 211 van die program en blaai dan verder deur die Leefstyl-afdeling om te besluit wat in jou smaak val. Die aanbod is groot en divers!

Dans:

Die insluiting van Dans as volwaardige, nuwe kategorie op die Woordfeesprogram gee erkenning aan die opwindende opbloei in dansgeselskappe. Hierdie aanbiedings sal nuwe gehore wys dans is nie net mooi passies of onverstaanbare teater nie – dis ’n aangrypende taal wat tot al jou diepste emosies spreek en verrassende gewaarwordinge moontlik maak. Om verdere groei in dié kunsvorm te stimuleer, is danswerksessies en -uitreike deel van die feesaanbod. Blaai na bladsy 237 van die program vir meer hieroor.

Fringe:

Vanaf bladsy 242. Die Fringe is dié plek vir algemene onverantwoordelikheid en groot kansvattery. Moenie jou ouma saambring nie, behalwe as sy wild en op en wakker is. Ook nie gerig op honde, kleuters of kakiebroeke met vooropgestelde idees nie. Oopkoppe en hoodies sonder houdings is welkom.

Kinderfees:

Kyk op bladsy 250 vir die program.

 Woorde Open Wêrelde-program

Gaan kyk op bladsy 256 vir meer oor WOORDE OPEN WÊRELDE (WOW).

Woorde Open Wêrelde (WOW) is ’n bemagtigingsprojek van die Toyota US Woordfees. Kreatiewe programme gerig op die bevordering van taal, letterkunde en die kunste word deur WOW in voorheen benadeelde gemeenskappe aangebied om leerders en opvoeders se horisonne te verbreed. WOW gee voornemende studente al die inligting oor tersiêre studie wat hulle nodig het, en WOW-studiebeurse van die Universiteit Stellenbosch word aan talentvolle kandidate toegeken.

Die Sanlam WOW-Spelfees is die grootste spelkompetisie in die land, word in al nege provinsies aangebied en gee jong leerders in ’n vroeë stadium reeds blootstelling aan die Universiteit Stellenbosch en die geleenthede wat dié instansie bied. WOW bied ook jaarliks ’n program by die Toyota US Woordfees aan ter viering van die verruimende waarde van die geskrewe en gesproke woord in al sy gedaantes.

BELANGRIK OM TE WEET

  • Die fees se mede-naamborg, Toyota, gaan pendelbussies beskikbaar stel sodat jy nie hoef parkeerplek te soek in die reeds oorvol strate van Stellenbosch nie. Daar is wel gratis parkeerplek by Hoërskool Stellenbosch, by Van der Stel-sportterrein en oorkant Rhenish Girls’ High, maar vir slegs R10 per rit na alle feesvenues vanaf parkeerareas en die feeskern (of R30 per dag, R50 vir drie dae of R150 vir 10 dae), is die pendelopsie dalk die antwoord.
  • Behalwe ander aanbiedinge (raadpleeg gerus die volledige program), bied die Toyota-Tawwe 10 ook uitstekende waarde vir geld en kan jy 10 konserte vir slegs R1 000 sien!
  • Die fees is kontantloos. Betaal met enige debiet- of kredietkaart of gebruik SnapScan.
  • Met die uitsondering van drie ruimtes, is al die venues rolstoelvriendelik en is dit slegs die Drostdy Teater, Upstage@Drostdy en die Bibsaal wat ontoeganklik is. Tref vooraf reëlings om toegang te vergemaklik en vir ondersteuning. Skakel 087 238 2078 vir navrae.
  • Kosstalletjies en kontantkroeë is amper oral beskikbaar en onthou, piekniekmandjies en eie drank word nie by buitelugkonserte toegelaat nie.

Laai die feesprogram hier af: https://woordfees.co.za/en/

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.