Tuindag 2018:

Krismisrose, kanferfoelie, verbleikblom en tjienkerientjees … Afrikaans blom … ook in jou tuin!

Dit is Tuindag op Sondag, 21 Oktober en wanneer dit kom by blom- en plantname, is Afrikaanssprekendes beslis nie op hul bek geval nie.

Afrikaanse blom- en plantname, vorm ʼn onlosmaaklike deel van die Afrikaanse woordeskat wat in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal opgeteken word.

“Ons het nog altyd moeite gedoen met die skep ons eie name uit Engels, maar dan het jy ook fantastiese blom- en plantname wat nooit in Engels bestaan het nie of sal kan bestaan nie.” – Dr. Willem Botha (WAT)

So in die middel van die mooiste, mooiste maand, vier ons Tuindag en sommer ook Afrikaans wat klink soos musiek in ons ore. Die doel met hierdie dag is om agteroor te sit en die vrugte van jou harde werk in die tuin te geniet. Afrikaans.com se Alita Steenkamp is ʼn ywerige tuinier wat graag in die tuin woel en werskaf.

Vir my is daar min dinge so lekker soos om tuin te maak. Eers word die grond versigtig omgedolwe. ʼn Opportunistiese Jan Frederik vlieg dadelik nader want iewers gaan hy beslis ʼn wurm raakloop. Dis juis daarom wat die omdolwe nie holderstebolder moet geskied nie. ʼn Mens wil nie die erdwurms beseer nie want hulle is immers besig met hul uitstekende bemestingsproses. Daarna word ryk kompos ingespit voordat die nuwe plantjies, of bol of boompie, versigtig in die grond geplaas word, toegemaak en dan natgegooi word.

Die vreugde van tuinmaak lê beslis daarin om die vrugte op jou handewerk te sien. Die roosknoppies wat stadig aan die begin van die lente hulle verskyning maak om dan in Oktober in vreugde uit te bars; die klein tingerige saailing wat uitspruit tot ʼn welriekende bos kruie waarin jy met jou skêr kan wegval om basilie, pietersielie, ment of koljander vir die kombuis te pluk. Piepklein saadjies wat uiteindelik deur die aardkors breek en dankbaar wag vir water. Wat van ʼn vrugteboom wat met liefde geplant word? In die lente sorg die bloeisels vir ʼn skouspel en dan stadig maar seker ontwikkel daar ʼn piepklein vruggie wat uiteindelik in ʼn sappige perske, ʼn rooiwang appelkoos, of ʼn stroopsoet vy ontwikkel. Min dinge verskaf soveel vreugde soos groente, vrugte en kruie uit jou eie tuin.

Wat sê dit nou beter as blomme … 

Op die webblad www.mieliestronk.co.za lees ek die stukkie interessante statistiek raak: Hoewel Suid-Afrika minder as een persent van die droë grond van die aardbol in beslag neem, bevat ons land tien persent van al die wêreld se plantsoorte.”

Ons is bevoorreg met die fynbos wat van Suid-Afrika op hierdie gebied ʼn uitblinker maak. Dis dan ook juis die fynbos, die Karookruie, Namakwaland se blommeprag en baie van ons inheemse bolsoorte wat in die volksmond gesorg het vir wonderlike en oorspronklike name. Hierdie ryk erfenis is deur Afrikaanssprekende voorouers aan ons nagelaat.

Dr Willem Botha van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, sê Afrikaanse blom- en plantname, vorm ʼn onlosmaaklike deel van die Afrikaanse woordeskat wat in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal opgeteken word. “Ons het nog altyd moeite gedoen met die skep ons eie name uit Engels, maar dan het jy ook fantastiese blom- en plantname wat nooit in Engels bestaan het nie of sal kan bestaan nie. Hier dink ek byvoorbeeld aan al die Namakwalandse name wat uniek en enig is en ons taal kenmerk as ʼn besonder beskrywende taal. Alles danksy die kreatiewe sprekers van ons taal,” sê Dr. Botha.

Die mooiste mooi …

Enkele van hierdie plantname wat juis so beskrywend is, is die knolplant olifantvoet, die kruidplant pietsnot – so genoem weens die slymerige vogryke wortels, poepuintjies – enigeen van verskillende eetbare uintjies wat winderigheid veroorsaak en die sosatieplakkie.  Laasgenoemde is ʼn klouterplakkie waarvan die blare aanmekaar vasgroei sodat dit die indruk skep dat die blare op ʼn stingel ingeryg is soos ʼn sosatie.

Van ons mooiste fynbos dra name soos: rooipypie, bergbruidjie, sewejaartjie of strooiblommetjie, kol-kol, glasogies, rooistompie, kêr-kêr, seeroogbossie en boegoe. Die meeste van die bolplante wat ook inheems in die Suid-Kaap voorkom, het net sulke kleurryke name. Hier dink ʼn mens aan die kelkiewyn of rooibobbejaantjie, tjienkerientjees en kamiemie. Om nie van ons helderkleurige kraanvoëlblomme te vergeet nie.

Die digter DJ Opperman het in die pragtige Namakwaland geskryf:

Op die groot saaidag van die heelal

Het reeds ʼn entjie duskant Wupperthal

Oor die kaal noordweste

ʼn sakkie van die Heer se beste

saad per ongeluk gelek, gelek en uitgeval.

Foto: Die fynbos duskant Clanwilliam

Die bekende rooskoning van Suid-Afrika, Ludwig Taschner wat in 2015, spesiaal vir die 90ste viering van Afrikaans as amptelike landstaal, die Afrikaanse roos, ʼn lieflike helderoranje trosroos, gekweek het.

Dis in Namakwaland waar die vygies, magrietjies en madeliefies dans in die wind op helder sonskyndae en waar ʼn hele rits eg-Afrikaanse name vir die plante voorkom.

Met die vestiging van Afrikaanse name vir uitheemse struike en blomme waarvoor ons plaaslike tuiniers ook lief is, was die skeppers van die Afrikaanse taal ook glad nie op hulle bek geval nie. Dink maar aan name soos krismisrose, kanferfoelie, verbleikblom, leeubekkies, jakobregop, Afrikanertjies, gesiggies, heuningblommetjies en die soete katjiepiering.

Die bekende rooskoning van Suid-Afrika, Ludwig Taschner is gebore in Oos-Duitsland en het in 1962 na Suid-Afrika gekom en oor die volgende paar jaar sy rooskoninkryk hier opgebou. Hier het hy ook geleer om vlot Afrikaans te praat. Dit was Ludwig wat in 2015, spesiaal vir die 90ste viering van Afrikaans as amptelike landstaal, die Afrikaanse roos, ʼn lieflike helderoranje trosroos, gekweek het. Oor die jare het Ludwig baie Suid-Afrikaners vereer met rose wat spesiaal na hulle vernoem is, en baie hiervan is mense wat groot voetspore in die Afrikaanse samelewing getrap het. Dink maar aan Shaleen Surtie-Richards, Rina Hugo, Brümilda van Rensburg, Christa Steyn, Janita Claassen, Elize Cawood, Hestrie Cloete, Illse Roos, Rudi Neitz, Ryk Neethling en Liewe Heksie, om maar ʼn paar te noem wat kan spog met ʼn roos wat hul naam dra.

Ons inheemse bome het nie agtergebly wanneer dit by pragtige Afrikaanse name kom nie. Dis net kreatiewe Afrikaanssprekendes wat van ʼn Engelse Tassel berry ʼn voëlsitboom kon maak. Dié boom het juis sy naam gekry vanweë die feit dat die voëls die bome graag besoek wanneer die helderkleurige vruggies hulle verskyning maak. Ander interessante en soetklinkende Afrikaanse boomname is: Blinkblaarkanniedood, bittervalsdoring, breëblaarboekenhout, deurmekaarbos, Dopperkiaat, kierieklapper, skurweblaarkanniedood en vratjievrugbliksembos, om maar ʼn paar te noem.

Dis wanneer ʼn mens AG Visser se lieflike Rosa Rosarum lees, dat jy weet: Tuinmaak in Afrikaans is ʼn soetklinkende affêre. Bring die grawe!

Rosa Rosarum

Kom na my tuin waar die donkerrooi rose

Duist’re geheime vertrou aan die nag;

Sonnestraal-kusse en suidewind-kose

Drome en liefde die lang somerdag.

Kom in die soel someraande en luister

-Wanneer die nagwind hul drome verklaar –

Na die veelvuldige blommegefluister,

Bloesem en bloeisel en blad altegaar!

Kom waar die lelie – die blanke, die reine –

Skugter haar bloesem ontbloot aan die maan,

Blou miosotis – die slanke, die kleine–

Met haar vergeet-my-nie-ogies betraan.

Kom as die maanblom – wit sy en satyne –

As ʼn vorstinne verskyn in haar prag

Onder die wierook van roos en jasmyne –

Skoonste juweel op die bors van die nag!

Daar in die vywer, bestraal deur Arjana

Open die lotus haar heilige kelk,

Dan eers bereik sy die hoogste – Nirvana –

As sy in glorie van songloed verwelk.

Bok-bokmakieries sing bly twee-gesange

Wanneer die oggend ontwaak in my tuin

Saans koer die tortel sy lied van verlange

Bo-uit die troost’lose treurwilg se kruin.

Kom in die aand en geniet van haar geure:

Foelie, jasmyn, angelier, minjonet;

Kom in die môre en kies van haar kleure:

Rooi, wit en goud, groen en blou, violet!

Kom as dit skitter van dou-diamante,

Rosa Rosarum, in my Paradys,

Dat ek my blomme, my bome, my plante,

Roos van my hart, hulle weerga kan wys!

… en Namakwaland