Tracey is die beskermvrou van die WAT Borg ʼn Woord-projek

Op haar Instagramprofiel beskryf Tracey Lange, ambassadeur vir Afrikaans, haarself as “die Afrikaanse meisie in die hoekie wat wag om jou te laat glimlag.” Met haar aansteeklike helder skaterlag, kan geen mens bestand wees teen Tracey se sjarme nie.

Tracey het vanjaar al haar elfde jaar as radioaanbieder gevier en is deesdae die aanbieder van ʼn mid-oggendprogram op Kfm 94.5. Sy is ook ʼn uitmuntende televisieaanbieder en benewens Bravo was sy vanjaar betrokke as mede-aanbieder van die realiteitsreeks, Dancing with the stars. Sedert Mei vanjaar is Tracey een van die vyf interessante vroue wat weekliks saamkuier in die geselsprogram, Tussen Ons wat op kykNET&kie DStv-kanaal 145 uitgesaai word.

Beskermvrou van Borg ‘n Woord

So pas het Tracey ook ʼn splinternuwe taak gekry wat sy met groot vreugde aanpak. Tracey is aangestel as beskermvrou van Borg ʼn Woord vir 2018-2019. Dr Willem Botha, van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal sê daar is niemand beter as Tracey om die  beskermvrou vir die Borg ʼn Woord-projek te wees nie. “Tracey se entoesiasme oor die lewe is aansteeklik. Ons glo dat sy dit sal regkry om meer mense bewus te maak van die projek, en ook te laat deelneem hieraan. Oor die laaste paar jaar het ons hard gewerk om hiervan ʼn sukses te maak, en met Tracey as beskermvrou, gaan ons beslis meer mense bereik.”

Tracey vertel dat sy nie een oomblik gehuiwer het nadat Dr. Botha haar genader het vir die taak nie.

“Afrikaans is ʼn besonderse taal en ek is trots om dit te kan praat. Ek sal graag die stigma wil afbreek rondom wie die taal praat en mag praat. Ek is wel al ʼn rukkie bewus van hierdie Borg ʼn Woord-veldtog en het van die eerste oomblik wat ek daarvan gehoor het gedink dat dit ʼn uitstekende idee is. Omdat ek iemand is wat nie van groot geskenke hou nie, is hierdie vir my ʼn wonderlike idee vir ʼn geskenk. Deur vir een van jou geliefdes ʼn woord as geskenk te borg, kan ʼn mens ʼn geskenk gee wat ʼn verskil maak.”

‘n Woord vir Kersfees

Almal wat van nou af tot vroeg volgende jaar ʼn woord in hierdie veldtog borg, staan in aanmerking om die prysgeld van R25 000 te wen wat deur Sanlam geskenk word. Die prystrekking word op 7 Maart 2019 tydens die Woordfees gedoen en Tracey sal om 13:30 by die Plataankafee die trekking behartig. ʼn Heerlike bonus vir die wat besluit om woorde te borg is dat jy vir ses maande gratis toegang tot die Aanlyn WAT kry en diegene wat ʼn woord koop, kry vyf jaar se gratis toegang as geskenk.

Tracey sê sy het reeds haar vriende en familie aangemoedig om deel te neem aan hierdie borgskap. Sy self het op ʼn besonderse woord besluit. “Die woord wat ek geborg het, is Pa. My pa is ʼn paar weke gelede oorlede en dit is vir my ʼn groot verlies. My pa was een van die beste pa’s in die wêreld en ek kan nie aan ʼn beter manier dink om hom te eer nie.

“Dit bly vir my ʼn voorreg om steeds as ʼn ambassadeur vir Afrikaans ons taal uit te dra. Afrikaans is die taal van my hart. My hart klop in Afrikaans!”

Het jy al besluit watter woord jy gaan borg?

Besoek www.wat.co.za en klik op Borg ʼn Woord vir verdere inligting of stuur ʼn e-pos aan wat@sun.ac.za