Storieverteller – Izak du Plessis

Afrikaans.com het onlangs vir Izak du Plessis by sy boekbekendstelling in die Laeveld raakgeloop. Hy is iemand met ʼn heerlike humorsin, ʼn storieverteller wat nie huiwer om stories op vreemde plekke te gaan haal nie. ʼn Man met voete plat op die aarde, maar vir wie jy nie in ʼn blik kan druk nie. Iemand wat glo om te leef en te laat leef.

Oor die afgelope ses jaar het Izak ʼn bekende radiostem geword as deel van RSG se nuusprogramme, Monitor en Spektrum. Al is hy nooit formeel as joernalis opgelei nie, getuig die talle toekennings waarmee hy in hierdie ses jaar bekroon is, van besondere vaardighede in hierdie veld. Izak se boek oor die omstrede vermiste boef, Ralph Haynes, het onlangs verskyn. Alita Steenkamp het ʼn paar vrae aan hom gestel.

Twee gedugte storievertellers se woorde raak nooit op nie. Alita Steenkamp en Izak du Plessis gesels ‘n hond uit ‘n bos. (Foto’s: De Wet Potgieter)

Is Izak du Plessis ʼn skrywer of storieverteller?

Dit is heel per ongeluk dat ek kwansuis ʼn skrywer is, want ek het ʼn deal met Penguin-uitgewers gekry om die boek Boereverneukers te skryf. Die een oor Ralph Haynes het hieruit voortgevloei. Ek is baie sku om myself ʼn skrywer te noem. Ek is ʼn joernalis wat nuusstories vir die radio doen en per ongeluk twee boeke geskryf het.

Hoe het jy by Monitor beland?

Nadat ek in 2010 as predikant bedank het, het ʼn goeie vriend van my, Hendrik Venter, vir my die kans gegee om redakteur te wees van die publikasie POMP. By 2011 se Woordfees het ek vir Foeta Krige, uitvoerende redakteur van Monitor, ontmoet en hom in 2012 weer in Melville raakgekuier. Hy het my genooi om ʼn vertaaltoets te kom aflê. Twee maande later het Foeta vir my ʼn drie maande kontrak gegee en ek het by die nuuslessenaar gaan sit en begin om stories te vertaal. Ses jaar later is ek steeds daar. Foeta het ʼn beleid dat almal wat daar werk deel is van die uitsaaispan en nadat ek my eerste storie uitgesaai het, het dit al hoe meer gereeld gebeur totdat ek deel geword het van die span wat elke dag op lug is.

Wat is die dinge in die lewe wat jou vreugde gee?

My twee kinders, Mia (12) en Hendro (15). Hulle is die enigste twee mense wat mag inbreuk maak op my tyd wanneer ek by my huis is. Dis vir my moeilik om ander dinge uit te sonder, maar ek sal sê iets wat my ook baie vreugde gee, is ʼn roadtrip waar ek kan gaan foto’s neem en stories soek. Dinge wat vir my mooi is, is nie noodwendig vir almal mooi nie en dis juis daarom wat ek ʼn mooiheid kon sien in die lewe van Ralph Haynes, ʼn storie wat ek móés vertel.

Is jy ʼn groot leser? Indien wel, wat lê tans op jou bedkassie?

Ek lees baie graag. Op die oomblik lees ek meestal goed wat tot voordeel van my werk is, daarom lê Steinhoff en die Stellenbosse Boys van James-Brent Styan tans op my bedkassie.

Watter gewoonte of gebruik het jy oor die laaste vyf jaar aangeneem wat ʼn positiewe uitwerking op jou lewe gehad het?

Om nee te sê vir mense en dinge wat nie inpas by die plan vir myself nie.

Wat doen jy wanneer jy oorweldig of ongefokus voel?

Ek vat die pad. Net ek en my gedagtes. Soms vir ‘n uur, soms vir tot twee weke.

Wat is die een boek wat jy wens jy geskryf het?

The Unbearable Lightness of Being van Milan Kundera.

Wat was tot dusver vir jou die hoogtepunt van jou loopbaan?

‘n Onderhoud met president Cyril Ramaphosa.

Waar pas Afrikaans vir jou in die prentjie in?

Ek is geensins ʼn taalvegter nie. Die taal bestaan, of ons nou daarvoor baklei of nie. Na my mening moet ʼn taal nooit ʼn verdelende faktor wees nie en ek wil nooit van ander mense geskei word net omdat ek aandring op ʼn spesifieke taal nie. Afrikaans is die taal wat ek praat omdat ek daarin grootgeword het. Ek praat baie k@# Engels en dan klink ek boonop so dom vir myself. Daarom praat ek Afrikaans. Dit is die taal waarin ek slim klink.

Hoe voel jy oor die toekennings wat jy in die afgelope ses jaar gewen het?

Dit was vir my ʼn absolute vreugde. Ek moes in ʼn wêreld inkom waarvan ek nie deel was nie en ek moes myself oopmaak vir baie kritiek. Al klink dit dalk baie ydel, dink ek die drie ATKV-Mediaveertjies en die Vodacom Joernalis van die Jaar-toekenning het bewys dat ek nie bloot net ʼn gelukkige kans gekry het nie, maar dat ek hierdie gelukkige kans verdien het.

Ralph Haynes: Godfather van die Wes-Rand  – Izak du Plessis

Resensie: Alita Steenkamp

Feite vreemder as fiksie mag dalk ʼn cliché wees, tog is dit die gedagte wat in ʼn mens se kop spring met die lees van Izak du Plessis se boek Ralph Haynes: Godfather van die Wes-Rand. Selfs nie eers ʼn gesoute misdaadskrywer kan soveel sinistere gebeure in een boek saamvoeg en daarmee wegkom nie, en tog is dit alles dinge wat werklik gebeur het. Hierdie boek gee ʼn bietjie meer agtergrond oor die verdwyning van Ralph Haynes, ʼn berugte figuur in die Wes-Randse onderwêreld. Haynes het op 21 Januarie 2011 spoorloos verdwyn nadat die bakkie van die sakeman Frikkie Lutzkie waarin hy blykbaar gereis het, verlate en sonder enige leidrade op ʼn pad tussen Bronkhorstspruit en Kemptonpark gevind is. Haynes is vroeër die dag by die Kitty Hawk vliegveld buite Pretoria gesien waar hy in ʼn helikopter van Lutzkie geklim het.

Izak du Plessis loop op die voetspore van Haynes terug in ʼn soektog na antwoorde op verskeie vrae. Jy ontmoet vir Ralph Haynes as ʼn jong seun wat in die grootste armoede in Randfontein grootgeword het. Dit was duidelik die dryfveer agter sy voortdurende stryd om bo uit te kom en armoede vir eens en vir altyd agter te laat. Ongelukkig het dit beteken dat Haynes by verskeie onwettige transaksies betrokke was, en ʼn belangrike rol in die onderwêreld gespeel het – vandaar die verwysing na hom as die Godfather van die Wes-Rand. Dit was uiteindelik hierdie donker kant van die lewe wat hom ingesluk het.

Met al hierdie interessante feite tot sy beskikking: ʼn addernes waar ongure karakters soos Ferdi Barnard, Corrie Goosen en Eugene Viljoen opduik, en Suid-Afrika se “gansglansspeurder” Mike Bolhuis ook ʼn rol speel, maak Du Plessis van hierdie boek een wat jy net nie kan neersit nie. Hy skryf onderhoudend in ʼn heerlike geselstrant wat voel asof hy langs jou sit om die storie aan jou te vertel. Uiteindelik kom Du Plessis nie by die antwoord op die tergende vraag: Wat het van Ralph Haynes geword? uit nie. Tog, stel hy dit duidelik dat dit nie die doel met die skryf van die boek was nie.

Du Plessis se belangstelling in die doen en late van Ralph Haynes is geprikkel terwyl hy gewerk het aan die boek Boereverneukers: Afrikaanse swendelaars, swierbolle en swerkaters wat in 2017 verskyn het. In hierdie boek belig hy ʼn aantal slinkse manne wat op allerlei slim maniere mense om die bos gelei en van hulle geld beroof het. Nadat hy die skryfwerk aan hierdie boek voltooi het, het Haynes se storie egter by hom bly spook en moes hy net meer oor hom uitvind.

Die manier waarop Du Plessis elke hoofstuk met ʼn dagboekinskrywing van Haynes se vrou Jacky laat eindig, sorg ook dat ʼn mens ʼn ander, sagter sy van die groot swendelaar te sien kry. Dit getuig van die skrywer se empatie en ʼn gebalanseerde uitkyk op selfs die lewe se donker kant. Ralph Haynes: Godfather van die Wes-Rand is ʼn boek wat verdien om gelees te word.

Uitgewer: Penguin