Stergeskenke!

Musiekkunstenaars bederf ons met die mooiste klankgeskenke. Hier vertel ʼn paar van die land se gewildste kunstenaars en blink, vars nuwelinge vir Christiaan J de Swardt van die geskenke wat hulle graag sal wil uitdeel – én ontvang

Steffie le Roux

Steffie le Roux – Vertel my

Afrikaans is vir  my soos ons land; die taal en die plek wat my die geleentheid gee om myself nie té ernstig op te neem nie, maar om te lag en lief te hê met ligtheid. In my land en in my taal kan ek bid en droom, lag en huil – en mag ek my siel vir son verruil.”

“Sodra Boney M begin keel opsit by Clicks se grimeerafdeling, dan vat ek sommer die ekstra rooi lipstiffie, want dis al wat jou deur die jingles en die jangles gaan bring,” mymer die liedjieskrywer-sangeres, musikant en aktrise Steffie le Roux, bekend om haar album Vertel my.

“Kerstyd is ‘n warm, sielvolle hartsbesigheid. Dis saamtyd, weestyd en minder-worry-oor-reg-eet-tyd. Tog laat Kersfees my op ’n manier ook meer omgee vir die wat min het. Ek wil hê almal moet in hierdie tyd geliefd voel, waardig voel en weet dat hulle iewers êrens vir iemand iets beteken. Ryk of arm moet ’n stukkie kalkoen of ’n hoenderboudjie in die bord hê, volgeëet en dankbaar vir ’n middagslapie op die bed gaan lê en dink: Dit was ’n mooi Kersfees.

“As ek kon, dan het ek ouetehuise die kern van Kersfees gemaak. Dis mense wat Kersfees meer  verlang as feesvier. Ek wil saam met hulle sing, Kersboom opslaan, vir hulle kook, die hele dag om gesels oor alles wat mooi, goed en geweldig is. Ek wil saam met hulle lag en deur fotoalbums blaai, ek wil al hulle bekommernisse en skete vir ’n oomblik vergete laat sodat hulle Kersfees kan vier soos in die ou dae.  As ek kon, sou ek vir elkeen ‘n blyplek wou gee waar hulle hul goedjies kan uitpak en afpak en altyd kan weet daar is ’n plek wat hulle huis kan noem.”

Steffie sou graag ook haar hele familie wou bederf met ’n vakansie iewers waar saamwees die hoogtepunt is. “Wat ek wel vir hulle kan gee, is my tyd, my liefde, my lag en dalk ‘n lied of twee.”

Sy erken ons het altyd baie meer as wat ons nodig het. “Maar ai tog, n ou stukkie luxury is maar ‘n lekker ding. My Kerskous is ’n taamlike kous…”

En dan wens sy:

* Ek wil twee kamers hê. Een in Nederland en een in die Karoo.
* ‘n Klein plasie met ’n paar beeste, hoenders en ’n vark of twee.
* My eie groentetuin en bakkery… Selfs my eie wyn maak onder die naam Krulkop.
* Ek wil ‘n fiets en fancy kar hê.
* Ek wil ingeskryf wees vir tjello- en saksofoonlesse.
* Ek wil my eie kleremaker hê.
* Ek wil die wêreld vol reis.
* Ek wil ’n ateljee van my eie hê waar ek kan skep en opnames maak net wanneer ek wil.
* Ek wil konserte bywoon regoor die wêreld.
* Ek wil ‘n masjien hê waar ek net ’n knop druk om ’n “bad hairday” te vermy.
* Ek wil twee mooi, groot bome hê met ’n stewige hangmat tussenin waar ek boeke kan lees en niemand van my weet nie.
* Ek wil groot rolle speel in films en verhoogstukke.
* Ek wil eet net wat ek wil sonder om soos ‘n botterboon te lyk wat te lank in die water geweek het.
* Ek wil sorgvry en vreesloos die lewe geniet.
* Ek wil niemand anders wees as net ek nie: oopkop en krulkop.

André Schwartz

André Schwartz – Tweede kans

Afrikaans is mos soos suurstof en water en kos en liefde. Jy kan hierdie van my wegneem – maar dan kan ek nie lewe nie. Só is Afrikaans vir my.

“Ag,  ek het reeds ’n eiland en lugredery!” skerts die sanger, akteur en entrepreneur André Schwartz. “Dus: ek dink dat iets bietjie groter –  soos ’n kontinent waar mense sonder seer, honger, gebreke kan woon – die ideale geskenk sal wees om te gee en te kry.” Hy erken hy het genoeg besittings, maar hy ag sy gesondheid en ʼn ywerige, kreatiewe en leergierige verstand eerder van waarde.

Op sy splinternuwe enkelsnit, Tweede kans, sing hy juis oor dit waarna soveel smag.

Die videoweergawe daarvan met van André se grootste hoogtepunte is uit die argiewe versamel en ingesluit in die eindprojek. Dit reflekteer en projekteer ’n half nostalgiese terugblik na die dinge van die verlede en hoe dit jou na nuwe hoogtes dryf en jou lewenspad beïnvloed.

“Die lied gaan oor die belangrikheid om tweede kanse vir jouself en die mense rondom jou te gun. Dit gaan om versoening; nié vergelding nie,” sê André, wat opregtheid en eerlikheid ontsettend hoog ag. “Ek was nog nooit só gelukkig nie! Ek verstaan dinge soveel beter en ek benut elke dag en die les wat daaruit geleer kan word. Ek voel selfstandig en vry. Ek is spyt oor niks, want berou, skuld en twyfel kan nooit saam met geluk lewe nie. Ervaar, besin – én aanvaar.”

Maar hy bely: “Ek sal wel iemand betaal om Donald Trump te laat ontvoer, hom laat vasbind en mense kan betaal word om hom met voorwerpe te gooi. Ek sou graag dié geskenk aan die wêreld wou gee…”

André sê sy ma, sy vriende, wonderlike, smaaklike, keurige, met sorg  voorbereide kos, sy diere en om op die plaas wakker te word en die geur van reën te ruik, voeg waarde aan sy lewe toe.

 

Leah

Leah – Wonderwerk

Afrikaans is my taal;  waarin en sing, leef en beef… Afrikaans het die mooiste, suiwerste en lieflikste woorde om jouself in uit te druk!

“Ek sal graag vir my ouers ’n huisie by die see wou gee, maar helaas, ek kan nog nie! Intussen moet hulle maar tevrede wees met tonne liefde en gratis kaartjies na my vertonings!” skerts  die 31-jarige sangeres, aktrise en TV-aanbieder Leah van Niekerk.

“Vir myself wens ek vir ’n lang vakansie in Suid-Amerika. Natuurlik neem ek my man, Hennie, saam. Ons eerste stop sal Kuba wees. Maar hopelik kan ons eers ’n swembad by ons huis kry!”

Leah sê die Weskus, haar man, familie en vriende, musiek, haar dierekinders en haar geloof, voeg waarde aan haar lewe toe.

Lee Scott

Lee Scott – Perfekte vreemdeling

Ek is onmiskenbaar Afrikaans, want my taal is eg, uniek en onbreekbaar!

 Die titel van die 31-jarige sanger en TV-aanbieder se jongste enkelsnit is wel Perfekte vreemdeling, maar hy is almal se gunsteling!

“Ek is ʼn dromer en ek glo aan die liefde. Ons het almal liefde nodig! Liefde is immers die grootste geskenk wat ons kan gee en kan ontvang.”

Lee sê hy sou sy ouers graag met ’n splinternuwe, weelderige motor en ’n tropiese vakansie wou bederf, sodat hulle ook ’n bietjie kan ontspan. My ouers, Helena en Patrick, het nog altyd net die beste vir my gegee. Ek wil graag nog eendag vir hulle ook net die beste gee.”

Weens sy druk program is daar nie altyd tyd om saam met sy gesin te bestee nie. “Maar ek probeer tog, want ek weet my ouers waardeer dit ontsettend baie as ek by hulle in Pretoria gaan kuier. My geskenk aan hulle gaan méér tyd wees. Ek geniet my ouers se teenwoordigheid verskriklik baie en ek mis ons kuiers.”

Lee beoog om homself én sy hond, Sunday, met ’n maatjie te bederf. “Ek kry haar jammer as sy so alleen moet agterbly by die huis. Maar: as ek nou regtig buitensporig kan wees, sal ’n vakansie  in Kroasië ook nie te versmaai wees nie!”

Hy sê sy geloof, sy gesin, sy vriende, sy diere én lojaliteit voeg waarde aan sy menswees toe.

Almero Welgemoed

Almero Welgemoed – ’n Maandagverhaal

Ek sukkel om in enige ander taal as Afrikaans te bid. Dit tel sekerlik vir iets?

“Ek sou graag ʼn geskenk waaraan geldwaarde gekoppel kan word, maar wat selfs ʼn groter opbrengs sal verseker aan elke weduwee, vreemdeling of weeskind wou gee. Ek meen ons almal val tog maar in een van daardie kategorieë, meen die 21-jarige liedjieskrywer-sanger Almero Welgemoed. Sy debuutalbum, Maandag, is ʼn intense storiegedrewe, akoestiese album. “Dit handel oor temas soos ‘tuis’, liefde en ook verlange. Ek is nog altyd ‘n soekende mens en baie van die liedjies bevat ook hierdie eienskap: Die soeke na ‘n plek om huis te noem en die soeke na iemand wat ook daardie rol kan vervul,” bieg hy.

Dié Kersfees sal hy en sy broer en sy twee woonstelmaats saam eet. “As ek effe buitensporig kan droom, sal twee buskaartjies Uganda toe nogal welkom wees…”

Almero vind waarde in sy klavier, sy boeke, sy kussing, sy broer en bessietee.

Rocco de Villiers

Rocco de Villiers – Kortbroek, langkouse

 Ek het in Afrikaans grootgeword en my vormingsjare daarin beleef. Dis wie ek is.

 Die befaamde en bekroonde musikant, skrywer en connoisseur Rocco de Villiers sê sy lewe word voltooi deur musiek, sy lewensmaat, Clive van den Berg, hul honde, Lochner en Bossie, hul ongelooflike tuin en versameling besondere boeke.

Sy nuutste album heet kortbroek, langkouse – in stylvolle eenvoud gestroop. Die prettige video van die titelsnit is behartig deur Gerhard van Rooyen (GVR) en sy produksiespan en is geskiet by Safari-Tuinsentrum in Lynnwoodweg, Pretoria. Rocco vertel dat die konsep daarop gebaseer is dat ons onsself in die daaglikse lewe van ’n kous bevind. “Ek dink daar is mense wat hulself met die kous se lewe kan vereenselwig, waar jy vasgevang is in die gewone roetine. Jou lewe het stagneer en jy vind jouself in ’n gemaksone. Kous het ’n droom.”

Gerhard sê hy sien daagliks die prentjie van Rocco en sy musiek wat êrens ver weg op ’n eiland is en hy voel hy is vir meer in die lewe bedoel. Kous maak dan die besluit om weg te breek van die ordinêre om sy droom te vervul. Hy gaan op ’n avontuur om Kouseiland te gaan soek.

Die album en liedjie heet Kortbroek, langkouse en die storie van Kouseiland het dus soos ’n handskoen gepas.

“Ek glo nogal aan sprokies. Maar ek is ook in voeling met die werklikheid,” sê Rocco. “Ek het soveel om voor dankbaar te wees en ek sou graag, as ek dit kon bekostig, ’n nuwe, opgedateerde aftree-oord vir my tuisdorp, Harrismith, wou skenk. Ongelukkig kan ek my omgee net wys deur elke keer wanneer ek die dorp besoek, ’n gratis konsert vir die senior burgers te gee. Ek sien hoe dit tog weer nuwe hoop gee…”

Dan droom hy. “Ek sal kaartjies na Lady Gaga se vertoning in Las Vegas en enige Charlotte Rhys-produk in my geskenkkous verwelkom!”

Sky Ocean

Sky Ocean – Spore van my hart

Afrikaans laat elke Afrikanerhart met begrip warm klop. Dit is ‘n emosiegelaaide sielstaal waarvoor met bloed, sweet en trane geveg is. Dit is my trots!

“As jy vir ’n man ’n visstok gee, bied jy nie net vir hom die geleentheid om voedsel te voorsien wat nodig is vir ’n mens se alledaagse bestaan nie, maar jy skep ook ’n geleentheid vir diegene wat die visstok sal gebruik om ’n inkomste te verdien. Net so sal ek vir ’n leerder  se skoolgeld betaal om matriek te voltooi sodat hy daardie visstok kan gebruik om ’n beter bestaan vir homself en diegene wat afhanklik is van hom, te maak. As jy ’n basis het, kan jy jouself verbeter en so ook ander help verbeter.”

Dit is wat die 21-jarige Marli Mulder, beter bekend as die  liedjieskrywer-sangeres Sky Ocean graag sou wou doen as dit binne haar finansiële vermoëns was.

Sy het pas gedebuteer met haar album Spore van my hart, ’n kontemporêre album wat haar veelsydigheid as sangeres en liedjieskrywer ten toon stel. Dit bestaan uit ’n skatkis uiteenlopende klanke in verskillende style. Daar is langpadtreffers, tranetrekkers en dansvloer-jolifikasies.

Sky sê sy sou vir haar ma wou help om haar skoolgebou (ASC Matric Campus) uit te brei, want sy offer so baie vir haar leerders op. “Sy het ’n passie vir kinders en haar doel is om die hele SA matriek te laat slaag. Sy wil graag onderrig in Suid-Afrika bevorder.”

Vir haarself vra sy nie té veel nie… “Ek sal tevrede wees met enigiets wat ek kry, maar my hart begeer Charlie And The Chocolate Factory se fabriek!  Ek sal heelwat later myself eers bekommer oor die diabetes. Dan sou ek ook ’n reuse-musiekkamer wou hê, met ’n ingeboude, professionele opname-ateljee – want dan kan ek heeldag geraas maak.”

Sky Ocean leef dankbaar en tel haar seëninge: haar Abba Vader, wat haar krag gee. Haar ma, wat haar ondersteun en aanmoedig. Haar passie vir musiek en die mense wat sy daardeur ontmoet om haar lewensdrome te help verwesenlik.

Luister hier na haar musiek.