Vroue vir Afrikaans – Sandra is wêreldgehalte

21 September 2017

Sandra Prinsloo se onvergeetlike bydrae en nalatenskap is ongeëwenaar. Haar betowerende krag op ‘n verhoog slaan keer op keer ‘n mens se asem weg. Haar talent bekoor gehore al dekades lank. Sy is ‘n legende, maar Sandra, die mens, inspireer op soveel vlakke. Alita Steenkamp het met haar gesels kort na haar 70ste verjaarsdag (15 September) en gee ‘n intieme blik op haar lewe en werk.

Sandra was oor die jare telkemale op verskillende tydskrifte se voorblaaie. Oor die dinge wat voorlê, sien Sandra baie uit. Een van haar lewensfilosofieë is om nooit nee te sê vir ʼn geleentheid wat oor haar pad kom nie. Tydens vanjaar se Aardklopfees sal sy te sien wees in PG: ʼn Lewe vol… sowel as in Nico Scheepers se eenvrouvertoning, Moedertaal. In Oktober reis sy na Egipte en Frankryk en dan begin die voorbereiding vir die produksie A Road to Mecca wat in 2018 op die planke sal wees met haar en Marius Weyers in die hoofrolle.

Dit maak nie saak wat alles op haar doenlysie is nie, wat sy ook al doen, probeer sy om daarmee ʼn verskil te maak. “ʼn Mens weet nooit wat die toekoms jou gaan bied nie,” sê Sandra nadenkend. “Jy moet eerder konsentreer op die dinge waarmee jy nou besig is en dit gebruik om ʼn verskil te maak. Jy kry dalk more nie weer die kans nie.”

Sandra in Hond se gedagtes. (Fotograaf: Nardus Engelbrecht)

As Irina Arkadina in Die Seemeeu.

Na jare het Sandra en John Kani weer die verhoog gedeel in So Ry Miss Daisy.

Sandra se hoogtepunte

Om ʼn skrywer te vra watter boek sy gunsteling is, is altyd ʼn onregverdige vraag. So ook wanneer ʼn mens by ʼn akteur wil hoor watter rol hy of sy sal uitsonder. Wanneer jy soos Sandra Prinsloo vir meer as 50 jaar op die verhoog was en verskeie film- en televisierolle op die kerfstok het, is dit boonop besonder moeilik om ervarings uit te sonder. Vir haar was die volgende wel hoogtepunte:

  1. “Katharina in Shakespeare se Die vasvat van ʼn feeks. Nerina het The Taming of the Shrew briljant vertaal. Wanneer ek dink aan hoogtepunte, dink ek outomaties aan goed wat vir my lekker was en hierdie produksie was heerlik. Om Shakespeare van jou tong af te laat rol, en dit in Afrikaans, was een van die lekkerste goed om te doen.
  2. “Tiemie in Siener in die Suburbs. Ek was vyf maande weg uit Suid-Afrika op ʼn Europese reis en toe ek terugkeer toe sien ek Nag van Legio van PG du Plessis. Dit was so vernuwend en ek was geweldig beïndruk. Dit was wonderlik om die briljante PG te ontmoet. Met Siener het ek die geleentheid gekry om weer ʼn keer saam met Marius Weyers te speel en al het ons voorheen saamgewerk, het hierdie produksie ons albei se loopbane vorentoe gestoot. Dit was so populêr en mense het van heinde en verre kom kyk, selfs die Hells Angels het kom kyk. Ek wil myself nie aanmatig nie maar ek glo PG het my en Marius in gedagte gehad toe hy vir Tiemie en Jakes geskep het.
  3. “Magdalena in Die Naaimasjien was ʼn absolute vreugde om te doen omdat Rachelle Greeff so ʼn fantastiese teks geskryf het. Woordryk, moeilik om te leer, maar baie slim. Daar was altyd ʼn geweldige emosionele reaksie van die gehoor. Dit was asof mense hulself kon vergewe oor baie dinge nadat hulle die stuk gesien het. Om die stuk toe later ook in Engels by die kunstefees in Edinburgh, Skotland te doen, was ook ʼn hoogtepunt, want daarmee kon ons aan die wêreld wys dat ons produksies van wêreldgehalte in Afrikaans kan skep.
  4. “Anton Tsjechof se Die Seemeeu staan ook uit as ʼn besonderse hoogtepunt. As jong aktrise het ek die rol van Nina gespeel. Met die opening van die Markteater het ek die rol van Masha in ʼn Engelse produksie gespeel toe Barney Simon die regisseur was. Uiteindelik het ek ook by die rol van Irina Arkadina uitgekom. Die rol het ek al in drie verhoogproduksies onder verskillende regisseurs gespeel, waarvan een ʼn Engelse produksie was. Christiaan Olwagen het die teks in ʼn rolprentteks verander wat vroeër vanjaar verfilm is. In die rolprent is ek ook Arkadina en ek verwag dat die mense van hulle stoele gaan afval omdat hulle nog nooit so iets gesien het nie.
  5. “Die rol van Kate Thompson, in Jamie Uys se The Gods must be Crazy, hoort op hierdie lys. Nie oor die ervaring tydens die verfilming nie, want dit het 14 maande geduur en was maar uitputtend. Tog is dit wat uit die rolprent gevloei het, ongelooflik. Oral waar ek in Afrika gekom het, is ek op die hande gedra en soos ʼn superster hanteer. Dit was altyd baie interessant vir my. Ek het soos die fluitspeler van Hamelin gevoel, want die kindertjies in die kleinste dorpies het agter my aangetou wanneer hulle uitgevind het ek speel ook in die rolprent, wat oral ʼn gunsteling was.
  6. “Al my eenvrouvertonings lê my eintlik baie na aan die hart. Met iets soos Éric-Emmanuel Schmitt se Oskar en die Pienk Tannie, het daar byna nie ʼn vertoning verbygegaan wat ek nie bewus geword het van iemand se emosionele ervaring nie. Nie altyd net mense wat kinders aan die dood moes afstaan nie. In die gemeenskap waarin ons bly, waar daar baie min aanraking oor is, waar ons almal agter hoë mure bly en ons bymekaar verbyleef, laat die teater jou nog toe om ʼn emosionele ervaring te hê, en dit is broodnodig.”

Kyk ook …
Marius Weyers en Sandra Prinsloo gesels met Maroela Media
‘n Ikoon – kortfilm