rrRADIO

Die eerste gratis Afrikaanse podsending net vir vroue!

Vanaf 24 Junie kan jy rooi rose op ‘n nuwe manier geniet op rrRADIO – ‘n gratis Afrikaanse podsending net vir vroue!

Podsendings se gewildheid versprei wêreldwyd soos ‘n veldbrand. Volgens Amerikaanse statistiek was daar in Junie verlede jaar meer as 550 000 podsendingreekse op Apple Podcasts beskikbaar met meer as 18,5 miljoen episodes in meer as 100 tale. In Februarie vanjaar was daar meer as 660 000 podsendings op iTunes (podcastinsights.com). In Suid-Afrika groei podsendingluisteraars jaarliks met 30%, met die mees prominente ouderdomsgroep tussen 25 – 35 (Iono.FM).

rooi rose is die eerste tradisionele Suid-Afrikaanse tydskrif wat dié nuwe medium gebruik om met hul lojale rooi rose-gehoor te kommunikeer. Volgens rooi rose se redakteur, Martie Pansegrouw, het rooi rose nog altyd die weg vir nuwe ontwikkelinge gebaan. “Die afgelope 77 jaar al gesels ons met ons lesers op verskeie platforms, en neem ons haar saam met ons die toekoms in. Podsendings is net nog ‘n manier waarop ons ons hart met ons gehoor deel. Ons ontmoet haar waar sy is, beantwoord haar vrae en voldoen aan haar behoeftes. Ons deel in haar besige dag en help haar om meer tyd vir haarself te skep.”

 rrRADIO Seisoen 1:

rrRADIO spring weg met drie oorspronklike reekse wat deur rooi rose se inhoudspan geskep is. Die span word gelei deur Hannelie Diedericks, adjunk-redakteur en artikelredakteur van rooi rose en uitvoerende vervaardiger van rrRADIO.

“Vir rooi rose is podsendings ‘n organiese uitvloeisel van die oorspronklike gehalte-inhoud waarvoor rooi rose bekend is,” sê Hannelie. “Ons inhoudspilare leef baie gemaklik in hierdie oudio-formaat. As ‘n gereelde podsendingsluisteraar was dit vir my ‘n natuurlike voortgang van wat ons reeds in druk en digitaal doen. En hoewel daar reeds so ‘n groot verskeidenheid podsendings beskikbaar is, is rrRADIO die eerste Afrikaanse podsendingskanaal vir vroue. Met die hoë aanspraak wat in die multimedia-wêreld op mense se tyd gemaak word, glo ons dit is enige uitgewer of uitsaaier se werk om sy gehoor te vind waar hulle is, en die inhoud wat hulle wil hê aan hulle te lewer – waar en wanneer hulle dit wil hê.”

Jy kan uitsien na die volgende:

Botox, Barbies & Bietse

  • Kategorie: Vervolgverhaal, fiksie
  • 16 episodes
  • Lengte van episodes: 25 – 30 minute

In dié vervolgverhaal deur Martie Swanepoel, stel Elize Cawood jou voor aan Liesl Burger, ‘n kunstenaar wat die plooie van haar man se verraad met ‘n vintage Barbie uit haar lewe botox. Lag saam met haar. Huil so ‘n bietjie … en herontdek jou vrouwees.

Tee & Taai Toffies:

  • Kategorie: Bekendes, leefstyl, verhoudings, advies
  • 8 episodes
  • Lengte van episodes: 50 – 60 minute

Bekendes gesels openhartig met die veteraan-joernalis Ilse Salzwedel oor hul doen en late. Boonop gaan hulle probeer om vir luisteraars raad oor hul probleme te gee. .

Tussen Ons:

  • Kategorie: Vroulike gesondheid en welstand, verhoudings.
  • 16 episodes
  • Lengte van episodes: 25 – 40 minute

In die eerste seisoen gesels die spesialis-joernalis, Mariette Snyman, met verskeie kenners oor vroue se hartsake, seksuele gesondheid en gelukkige verhoudings

rrRADIO sal vanaf Maandag, 24 Junie, beskikbaar wees op rooirose.co.za, iono.FM, iTunes, Player.FM, Pocket Casts en Google Podcasts. E-pos rrradio@caxton.co.za vir meer inligting.