Op 1 Junie is dit Wêreldouerdag – hoe doen Afrikaanse ouers dit?

Ma en pa. Tweeletterwoordjies wat baie gewig dra

Wanneer laas het jy nagedink oor ouerskap? Wanneer jy ’n jong, ongetroude lewe leef is dit waarskynlik nie bo-aan jou dinklysie nie! My oumagrootjie het naby aan die einde van haar lewe gereeld gesê “hulle kap nou in my woud,” wanneer een van haar tydgenote gesterf het. Wel, ek kan deesdae sê “Hulle plant nou in my woud…” Al hoe meer van my skoolmaats en vriende begin met gesinne. En nou, vir die eerste keer kry ek waardering vir (veral my eie) ouers wanneer ek sien hoeveel liefde, opoffering en werk ’n nuwe klein mensie is. Petronell Vorster het gaan rondvra oor Afrikaanse ouerskap.

Op Vrydag 1 Junie vier ons Wêreldouerdag. Die Verenigde Nasies het dié dag in 2012 geproklameer om ouers regoor die wêreld te verveer vir hul “onselfsugtige trou aan hul kinders en die lewenslange opoffering wat hul vir hul kinders maak.”

Ouerskap is immers iets om te vier! Elke mylpaal wat jou kind bereik is aan jou te danke. Vir die ure se voorlees en geselsies aanknoop word jy beloon met ’n eerste woord. Vir al die ‘eina jy ry in my agterbene vas met jou loopraam’ word jy beloon met ’n eerste tree. Vir al die ure se sit en help met huiswerk, help om te leer vir toetse en eksamens en rondry na ekstra klasse word jy (hopelik) beloon met ’n matrieksertifikaat en vir al die duike in jou kar se bakwerk en mini-hartaanvalletjies in die passasiersitplek word jy beloon met ’n bestuurderslisensie.

Een van die lekkerste dinge van ouerskap is ook natuurlik om jou liefde vir jou taal, erfenis en tradisies met jou kinders te deel. Wanneer jy ou familietradisies met jou kinders deel, skep dit nie net vir jou brandhout vir die winter nie, dit bied jou ook die geleentheid om met nuwe oë na ou bekende dinge te kyk.

Ons het met bekendes gesels oor ouerskap en die belangrikheid wat Afrikaans in die grootmaak van hulle kinders speel.

Anrich Herbst is die trotse pa van Kristian (8) en Daniël (6)

Anrich Herbst en Kristian (8) en Daniël (6)

Volgens Anrich is “baie saam speel” een van sy geheime ouerskap wapens.

Kwaliteit-tyd

Die akteur en TV-aanbieder, Anrich Herbst is die trotse pa van Kristian (8) en Daniël (6). Volgens Anrich ‘’kom dit van self” om sy kinders groot Afrikaans groot te maak. “Afrikaans is die taal waarin mens emosies, waardes en liefde aan jou kinders oordra – sonder om te dink, sê hy”.

Wat is vir jou die lekkerste deel van pa wees?

Daar is die speelkant wat heerlik is en dan is daar die objektiewe belewenis wanneer jy soms na jou kinders van ’n ent af kan kyk en sien dat dit goed gaan met hulle, dat hulle besig is om in ’n goeie rigting te groei. Maar die heel beste is die liefde tussen ’n pa en sy kinders.

Hoe kweek jy ‘n liefde vir jou taal by jou kinders?

Ek doen dit onbewus maar lees en luister na Afrikaanse stories is die belangrikste. Ons kyk ook graag ou Afrikaanse TV reekse soos Die Swart Kat. Ons vriendekring (en hulle kinders) is nie uitsluitlik Afrikaans nie, en dit beïnvloed die kinders se gebruik van Afrikaans.

Is daar spesifieke iets van jou taal/tradisie/erfenis wat jy by jou kinders tuisbring?

My kinders is nog bietjie klein daarvoor, maar soos hulle ouer word sal ons gesprekke daaroor hê. Ek probeer hulle help om minder Engelse woorde in Afrikaanse sinne te gebruik. Ek het dit eers ek het dit eers later by my pa en ma geleer. Die ou boeke (van my ouers uit die tyd toe die eerste Afrikaanse boeke verskyn het) wat ek nog hou vir hulle om eendag te kan lees en sien is iets wat ek nie kan weggee nie. Die reeks en boeke van Herman Giliomee “Die Afrikaners” is vol inligting wat ek graag van bewus wil wees en ook aan my kinders gaan oordra. Ek moedig hulle wel aan om goeie maniere te hê, nie papiere rond te gooi nie, lief te wees vir die veld en vir diere, skoon te maak waar hulle gemors het, klere in die kas te bêre en ordentlik te wees met grootmense. Ons gaan ook gereeld Sondae na ’n Afrikaanse kerk.

Wat, volgens jou maak ‘n goeie ouer?

Ek leer nog elke dag wat maak ’n goeie ouer, maar sovêr vind ek om betrokke te wees in hulle lewens, te luister na wat hulle se, gereelde gesprekke met hulle te hê, baie saam te speel en in staat te wees om hulle samewerking te kry wanneer dit nodig is maak dat die atmosfeer positief bly. Dit word op hierdie stadium in my kinders se lewens vir my belangrik om hulle meer en meer vryheid te gee om die individue te word wat hulle moet. Ek sal altyd daar maar hulle moet hulle eie paadjies vind en oopkap. Ek kan bloot soveel as moontlik probeer bydrae dat hulle ’n gesonde selfbeeld, sin vir humor, positiewe instellings en wengees ontwikkel

Elana Afrika-Bredenkamp is die ma van twee dogtertjies

T.V.-persoonlikheid Elana Afrika-Bredenkamp is die ma van twee dogtertjies wat onderskeidelik 1 en 3 jaar oud is. Elana beskou haarself en haar man Ian Bredenkamp as ’n gedugte span wat “alles in Afrikaans doen!”

Wat is vir jou die lekkerste deel van ma wees?

Wanneer hulle my “Mamma” noem. Dis vir my n groot voorreg en iets wat ek nog altyd wou wees. Ook “danstyd”.  Elke middag wanneer hulle van die skool af kom kies ons musiek en ons dans.  Lag maar as julle wil… Ons huidige gunsteling dansmusiek is Klipwerf se Dubbel Platinum Versameling – 50 Jaar Se Hoogtepunte. Die kinders dans woes daarop!

Hoe kweek jy ‘n liefde vir jou taal by jou kinders?

Oooo. Maklik. Ons lees die lekkerste Afrikaanse boeke, hulle verslind Wielie Walie DVDs en ons lees en sing in Afrikaans. My man Ian werk met Afrikaanse kunstenaars, so ek neem hulle graag na sy Piekniek & Musiek vertonings om saam die sing en dans!

Is daar spesifieke iets van jou taal/tradisie/erfenis wat jy by jou kinders tuisbring?

Dat jy van mamma en pappa afkom, en dat jy nie ingeboks hoef te word nie.  Ons en ons kinders is Suid Afrikaans. En dan is hulle ook oulik, pragtig, met goeie waardes en goed gemanierd.

Wat, volgens jou maak ‘n goeie ouer en hoe belangrik is spanwerk?

Ons is oppassers nie, ons is ouers! Ek en Ian ’n gat-skop span.  Ons werk saam aan alles. Ek kan self boor en hy vleg pragtig hare.

YOMA is die ma van die skattige Engel Witbooi

Die Afrikaanse kletsrymer, YOMA is die ma van die skattige Engel Witbooi (5 maande). Vir YOMA is dit baie belangrik om nie net vir Engel Afrikaans groot te maak nie, maar ook dat sy ander inheemse tale moet aanleer. YOMA en haar man kletsrymer man, Hemelbesem se gunsteling Afrikaanse gesins-tydverdryf is om saam met klein Egel na musiek te luister.

Wat is vir jou die lekkerste deel van ma wees?

Om te sien hoe mens, ontwikkel is taamlik fassinerend.

Engel, se glimlag en hoe diep sy my soms kyk.

Die feit dat ek genoeg vir haar is en die oorweldigende liefde wat daarmee gepaard gaan steel my hart daagliks.

Hoe gaan jy ’n liefde vir taal by dogter kweek?

Deur lief vir my taal te wees en dit met liefde oor te dra.

Is daar spesifieke iets van jou taal/tradisie/erfenis wat jy by jou kinders tuisbring?

Om trots te wees op jou aksent en hoe jy die taal besig, dis immers wie jy is.

Wat, is volgens jou die eienskappe van ’n goeie ouer?

Liefde moet die staanspoor wees, ons kan saam lag en speel maar wanneer daar hard gepraat word moet ons dogter weet dat die motief nie lelik is nie.

Baie drukkies, soene, wysheid en musiek.

Digitale kaartjies –  My Pa …

Vadersdag is om die draai! Vertel ons waarom jy dink jou pa is die heel beste en deel dié eienskap wat jou held spesiaal maak. Ons omskep jou woorde in ‘n digitale kaartjie met sy naam verewig daarby. Jy kan dit druk, deel of aanstuur! Laat LEEF Afrikaans op die web en neem deel.  Jy het tot 15 Junie tyd. Jou boodskap mag nie langer as 15 woorde wees nie.

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!