Weskus-kuier

‘Ingesoute Afrikaans’ – Stienie Monakali (84): Doornbaai

Tussen wasgoedlyne vol wapperende klere, hoog bo Doornbaai se kaai, glimlag tant Stienie Monakali (84) tevrede wanneer sy die snoekskuite doer onder in die hawe sien inkom. As een van die oudste inwoners van hierdie vissersgemeenskap wat om oorlewing veg nadat die visfabriek toegemaak het, dien sy as storieverteller en bidder. Afrikaans is nie net haar gebedstaal nie, dis die taal van die herinneringe uit haar ouers se verlede, sowel as die nuwe generasie se toekoms.

Oumakind – Lizelle Fortuin: Lutzville

In die strate van Uitkyk (Lutzville) kuier die mense graag oor die hekke op hul werf en hier moet jy hard praat as jy gehoor wil word, want almal gesels saam! Maar Lizelle Fortuin weet hoe om haarself te laat hoor, want sy is ‘n ‘oumakind’ – en soos Afrikaans – moes sy van jongs af leer om vir haarself op te staan. Sy het ‘n stem. ‘n Stem wat nie uitgedruis gaan word nie.

Afrikaans weergalm in die klowe: Gifberge, Vahnrynsdorp-distrik

In die skadu van ‘n reusagtige rotsoorhang amper heel bo op die asemrowende plato van die Gifberge (Vanrhynsdorp-distrik), gesels ‘n groep rigtingvaste jongmense van Vredendal tydens ‘n uitstappie oor hoe hulle oor Afrikaans voel.

Kaalvoetdigter van die Weskus – Ammie Moon: Saldanha

Soms as die maan soos ‘n skyf pampoen bo Saldanha Staal hang, weet die mense van hierdie kusdorp vannag swem hul kaalvoetdigter warmvel weer uit na haar wrak. Elmarie Truter, wat as Ammie Moon in Afrikaans smeul, sê sy praat nie net Afrikaans nie, sy maak liefde in die taal.

Hy rebelleer in Afrikaans – Adam Weilbach

Met seerowerhare, starende diep oë en die Latynse woorde vir waarheid en regverdigheid op sy arms getatoeëer, kan Adam Weilbach maklik deurgaan vir een van die karakters in een van sy Afrikaanse fantasieverhale. Van nagklubeienaar tot straatwerker vir nagklubdeurwagte wat later akteur geword het, meen hy sy ontmoeting met Breyten Breytenbach was ‘n keerpunt in sy lewe wat Afrikaans betref. “My Afrikaans is ‘n rebel.”