fbpx

NB-Uitgewers se boekekeur van die maand

Afrikaans.com maak hierdie maand een vir die boeke met NB-Uitgewers se keur van moet-lees leesstof! Loer gerus maandeliks in vir NB-Uitgewers se keur van gunsteling- Afrikaanse boeke. Verder bied ons ook ’n hoofstuk of uittreksel van die topboek aan wat jy gratis kan aflaai. Hou ons blad dop en word deel van die Afrikaanse leesgemeenskap.

NB-Uitgewers se Topboek van die maand

Afrikaans.com-Boeke

Die Nuwe Afrikaanse Prosaboek

Sonja Loots en Steward van Wyk

Uitgewer: Human en Rousseau

Fiksie

Die Nuwe Afrikaanse Prosaboek is ’n viering van verskeidenheid. Dit bied ’n verruimende, vars blik op die Afrikaanse kortverhaal met klassieke verhale deur welbekende skrywers asook voorheen ongepubliseerde verhale deur nuwe stemme.

Met Rabie-verhale as invalshoek is hierdie ’n bloemlesing van eggo’s, spore en teenspraak in die werk van die wyd uiteenlopende skrywers wat hom opgevolg het.

Die bundel bestaan uit 149 verhale uit die pen van 57 skrywers. Van die nuwe stemme in die bundel sluit in Sisca Julius, Lynthia Julius, Brian Fredericks, Madré Marais, Maruanda Wynne en Michele Meyer.

Laai een van die bundel se kortverhale, Drie Kaalkoppe eet tesame, deur Jan Rabie, hier af.

NB-Uitgewers se Topboek van die maand

Wen Die Nuwe Afrikaanse Prosaboek – Teken in op ons nuusbrief, gebruik die kompetisie-kodewoord DNAPB en staan ’n kans om dié topboek van die maand te wen.

Wie het ook die lys van top 10-boeke gehaal?

Afrikaans.com-Boeke

Die biblioteek aan die einde van die wêreld

Etienne van Heerden

Uitgewer: Tafelberg

Fiksie

Prokureur Ian Brand stuur ’n ondeurdagte twiet die kuberruim in en sy lewe word oornag pure hel. Thuli Khumalo, studenteaktivis op ’n kampus wat stink na petrol en traangas, moet kies tussen vaderverraad of haar beginsels versaak.

En al hoe gereelder slaan ’n kruisboogmoordenaar in die Moederstad toe . . . Hierdie en vele ander fassinerende karakters bevolk ‘n landskap waarin die enigste sekerheid onsekerheid is.

Dié tergend aktuele roman sê veel oor die tyd waarin ons lewe, waar privaatheid en identiteit abstrakte begrippe geword het, fopnuus ononderskeibaar van die werklikheid en “die waarheid” klaarblyklik ’n onhaalbare ideaal is.

Afrikaans.com-Boeke

Skag

Jaco Wolmarans

Uitgewer: Tafelberg

Fiksie

1987. Die opdrag aan Spesmagte se sersant Jos Fourie is eenvoudig: pas ‘n vrag missiele op wat stil-stil uit Oos-Duitsland verskeep moet word. Maar iets vrot. Eers die onverklaarbare teenwoordigheid van ‘n groep US Navy Seals wat hom in Duitsland dophou, daarna die skokontdekking van wapengehalte uraan-235 wat versteek is in sy vrag. Jos het elke greintjie vernuf waaroor hy beskik nodig om aan die lewe te bly onder die aanslag van Nigeriese seerowers, die agtervolgende Angolese vloot en sy ontluikende gevoelens vir die mooi ingenieurstudent Ashley Ramirez.

Dit word ‘n nagmerrie-tog van die Noordsee tot by ‘n geheimsinnige Weermag-skag in die Kalahari se duine, ‘n aksiebelaaide wedren teen tyd om ‘n katastrofiese kerntoets te stop voor dit ‘n internasionale insident veroorsaak en sodoende die brose onderhandelingsproses na Suid-Afrika se ontluikende demokrasie kelder.

Afrikaans.com-Boeke

Die antie met die pienk rok en ander stories

Jan Spies

Uitgewer: Tafelberg

Fiksie

Daar is min mense wat ’n storie soos Jan Spies kan vertel. Die antie met die pienk rok en ander stories is ’n keur uit sy humoristiese vertellings in Pilatus tot molshoop, Poort deur die koue, Profeet met kondensmelk en Pille vir servette.

Maak opnuut kennis met onvergeetlike karakters soos Maans Maanse, sersant Jônie Louw en Pater Hoeflies wat ietsie neem vir die koue in ‘n poort naby Kenhardt, Orrelkosie wat ’n halwe dag neem om te verduidelik hoe om ’n pil in ’n hoender se keel af te kry, Hábakuk en sy blik kondensmelk en die leerlingverpleegstertjie wat ’n plan bedink om die oumense se valstande skoon te maak.

Afrikaans.com-Boeke

Vergeet my nie

François Bloemhof

Uitgewer: Queillerie

Fiksie

Mardaleen Derks was die wenner van Huisgenoot en kykNET se tweede fliekkompetisie met haar vertelling van hoe haar en haar man, Hugo, se liefdespaadjie geloop het.

Dit was voorwaar geen eenvoudige paadjie nie. Hulle ontmoet skrams. Ontmoet weer – en vind mekaar. Maar só maklik gaan dit nie wees nie, want so diep as wat hulle gevoel vir mekaar mag wees, beur die twee in heeltemal verskillende rigtings . . .Kom reis terug in die tyd (1997 tot 2000) vir hierdie twee mense se sonderlinge verhaal.

Hierdie romantiese verhaal is ook onlangs in ’n film omskep wat tans in Suid-Afrikaanse teaters draai.

Kyk gerus die voorskou hier.

Afrikaans.com-Boeke

Die swerfjare van Poppie Nongena

Elsa Joubert

Uitgewer: Tafelberg

Fiksie

Die swerfjare van Poppie Nongena vertel die lewensverhaal van ’n swart vrou teen die agtergrond van apartheid. Hierdie hartverskeurende, dog inspirerende roman, word steeds beskou as een van die beste romans wat Afrika in die twintigste eeu opgelewer het.

Die boek deur die bekroonde Elsa Joubert, is onlangs in ’n film omskep deur Christiaan Olwagen wat beide die teks geskryf en die regie behartig het.

Kyk gerus die voorskou van die film hier.

Fiela se kind

Dalene Matthee

Uitgewer: Tafelberg

Fiksie

Die driejarige seuntjie van Elias en Barta van Rooyen raak spoorloos weg in die Knysna-bos. In die Lange Kloof, anderkant die berg, ontferm Fiela Komoetie haar oor ’n weggooilam wat een nag voor haar deur kom huil. Die een kind is Lukas, die ander Benjamin. Is dit dieselfde kind? Dié raaisel word nege jaar later oopgekrap deur twee sensusmanne wat die wit kind met die blou oë by ’n bruin gesin in die Lange Kloof kry.

Alhoewel Fiela se kind reeds vir jare ’n bekende boek in skole landswyd is, het die filmweergawe onlangs nuwe lewe in dié tydlose verhaal geblaas.

Kyk hier na die film se voorskou.

Afrikaans.com-Boeke

Die Liefdesboek

Christine Ferreira & Marielle de Vos

Uitgewer: Lux Verbi

God se liefde verander alles. Sy groot liefde omvou alle aspekte van ons lewe. Wanneer ons ons harte vir Hom oopmaak, word die donker in en rondom ons keer op keer deurspoel met lig, sy lig, en met die krag van sy liefde wat ons omring.

Die liefde kom ook in vele gestaltes. Die pad van die liefde is nie altyd gelyk nie en dit kom nie vanselfsprekend nie…

Met hierdie boek nooi die outeurs jou uit om die vele maniere waarop God sy liefde aan jou bewys opnuut te ontdek en weer jou eie te maak.

Afrikaans.com-Boeke

Bybelliedjies vir Kleintjies en Kleuters

Gertie Smit

Uitgewer: Tafelberg

Op die hakke van Liedjies vir Pikkies en Peuters (2017) volg vroeëkindontwikkelingspesialis Gertie Smit se nuwe boek met 40 oorspronklike Afrikaanse Bybelliedjies en -stories: oor karakters soos Jona, Moses en Daniël, liedjies wat goeie waardes aanleer, bv. om nie te jok nie, sowel as gebedjie-liedjies.

Daar is ook ses bekende Bybelverhale verwerk tot musiekstories. Die CD bevat al die liedjies in die boek, pragtig vertolk deur Marlie Katzke en Andre Terblanche. Illustrasies deur Tasia Rosser.

Kyk hier na een van die liedjies, Ek is so bly, wat in die boek verskyn.

Afrikaans.com-Boeke

Gaan Suid-Afrika oukei wees?

Jan-Jan Joubert

Uitgewer: Tafelberg

Met die ANC se oorwinning in die 2019-verkiesing staan president Cyril Ramaphosa sterker as ooit.

Hy het nou die kans om sy beloftes om korrupsie in die regering uit te roei, uit te voer.

Gaan hy suksesvol wees en wat beteken dit vir Suid-Afrika en sy mense?

Gaan Suid-Afrika te midde van al dié woelinge staande bly?

Die skrywer, joernalis en publieke kommentator, Jan-Jan Joubert gee in hierdie boek ’n blik op die huidige stand van Suid-Afrika as ook die toekoms van die land.

Besoek gerus NB-Uitgewers se webtuiste en vul jou boekrak met die beste wat die Afrikaanse boekbedryf het om te bied.

Lees ook:

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.