fbpx

Nataniël, ’n memoir …

Deur Johanna van Eeden

Nataniël, een van die land se kreatiefste en veelsydigste kunstenaars, het nou ook ’n memoir by sy oeuvre gevoeg.

Kyk na my – herinneringe aan ‘n kindertyd bied ’n blik op sy vroegste kinderjare en sy grootword op die platteland in ’n omgewing waarin hy net nooit heeltemal inpas nie. Hy is “ontevrede en ontuis” (bl. 46), “vol geite” (bl. 69), ’n vet kind met ’n weersin in sport en groepsaktiwiteite en daar hang van kleins af ’n donker, neerdrukkende wolk oor hom.

Hoe het hierdie vreemde kind, stroomop in soveel opsigte en eintlik maar ’n ou gees vasgevang in ’n vreemde jong lyf, dit reggekry om homself uiteindelik as huishoudelike naam te vestig? Daar is glimpse van die grootmens wat hy later jare sou word en leidrade oor hoekom hy tot vandag toe dinge op ’n sekere manier aanpak.

Wanneer ander seuntjies byvoorbeeld opgewonde raak oor splinternuwe karretjies, verheug hy hom in die verpakking. Dis daardie bewuswording van die weelde van papier en die instinktiewe aanvoeling vir wat mooi en lelik is wat tot vandag toe kenmerkend is van sy styl.

Op tipiese Nataniël-trant is daar verbeeldingsvlugte, kritiek en ’n sterk doepa selfspot. En daardie X-faktor: die vermoë om na dieselfde voorwerp te kyk as waarna almal staar, maar iets ánders te sien. Oor sy eerste skooldag (bl. 33) skryf hy: “Ek hap my broodjie, ek hou van eet, maar hier proe ek niks.” Wanneer hy later die dag met ’n “ster op my voorkop en ’n prent in die hand” by die huis kom, sê sy ma die prentjie is mooi, maar sy weet nie wat dit is nie. “Dis ‘n skip, sê ek. Ek sien net blou, sê my ma. Hy het gesink, sê ek.”

Sy pa probeer sy bes – koop ’n rugbybal, wat onmiddellik onder in ’n kas beland, en gooi later uit moedeloosheid sy seun wat nie wil leer swem nie aan die diepkant in (bl. 197). “… ek het die Here bedank vir alles … Almal het gegil, onder die water het dit geklink soos ’n engelekoor … toe het Pa my uitgeduik.”

Daar is oomblikke wanneer die jong Nataniël sy toekoms op ’n skrefie sien wink: die eerste keer in die betowerende kollig by ’n skoolkonsert en later, wanneer jare se sleepvoet loop na vervelige klavierlesse uiteindelik vrugte afwerp.

Dis nie net getroue ondersteuners van Nataniël wat die boek sal geniet nie. Dit behoort eintlik verpligte leesstof te wees vir almal wat kinders het of met kinders werk, want baie van die merke – of dit nou fisiek of emosioneel; positief of negatief is – wat grootmense op kinders laat, bly vir altyd sit. Selfs en veral op ’n fynbesnaarde kind soos klein Nataniël le Roux.

Lees ook

Nataniël beantwoord Johan van Zyl se vrae oor sy boek in Rapport. Klik hier

Uitgegee deur: Human & Rousseau en beskikbaar by alle groot boekhandelaars en op Loot.co.za

Hierdie resensie het die eerste keer in Die Burger en op Netwerk24 verskyn. Teken in op Netwerk24 en kry hier al jou gunstelingtydskrifte en -koerante.

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.