Namibiërs se passie vir Afrikaans

Gedink DNS is die Afrikaans vir DNA en staan vir deoksiribonukleïensuur, die belangrikste draer van alle erflike inligting in mense en diere? Natuurlik staan dit daarvoor, maar dis ook die afkorting vir ʼn groep wat onlangs die lig gesien het: Die Namib Skryf, of te wel DNS. Alita Steenkamp het meer oor hulle gaan uitvind.

Namibië, ons buurland, kan spog as die land met die tweede grootste populasie moedertaalsprekers van Afrikaans in die wêreld. Daar is naastenby 200 000 Afrikaanssprekendes in die land. Afrikaans is reeds in die 18e eeu oor die Oranjerivier geneem deur moedertaalsprekers van Afrikaans, maar sedert onafhanklikheid in 1990, moet Afrikaans, saam met ander inheemse tale, stoei vir ʼn plek in die son, want Engels het toe die enigste amptelike taal geword.

Ria Kotze, medestigter van die groep Die Namib Skryf, verwys na haarself as ʼn ‘wannabee’ skrywer wat dit geniet om met haar skryfwerk haar siel skoon te kry. Sy woon in Windhoek. Ria het oor die jare heen vele vriende en kennisse gemaak met skryf as gedeelde belangstelling. Iets wat haar nog altyd gepla het, is dat op sommige van die platforms waar aspirantskrywers hulle skryfwerk deel, daar altyd iemand is wat vreeslik akademies of taalkorrek alles onder ʼn vergrootglas wil neem. Haar en ʼn vriendin, Sonja Coetzer, se idee met ʼn saamgeselsgroep vir aspirantskrywers, was juis om ʼn informele platform te skep sodat enigeen hulle skryfwerk daar kan plaas om raakgelees te word. ʼn Mens skryf immers om gelees te word. As ʼn Namibiër het sy gehoop om ander Namibiese skrywers entoesiasties oor die projek te kry, en gelukkig het hulle haar nie teleurgestel nie.

Ria Kotze

Sonja Coetzer

Moekie Mouton

Marsofine Krynauw

Johann Muller

Estelle Rubow

“Nadat ek ʼn paar mense wat ek op Facebook leer ken het genooi het om aan te sluit, het die ding ontplof en soos ʼn veldbrand versprei. Dit was absoluut sonder keer. In minder as twee maande nadat ons begin het, het ons reeds op 300 lede gestaan. Die gemiddelde bydraes wat na ons gestuur word, wissel tussen 15 en 40 per dag en dan het ons ook ʼn klomp lede wat net daar is om te lees en saam te gesels,” vertel Ria, wat deesdae ook onder haar skryfnaam, Meraai, bekendstaan.

Johann Muller is een van die lede van DNS en sy besonderse video van die Namib waarop hy sy woorde deel, het al wye reaksie uitgelok. Johann sê met ʼn glimlag hy wens hy kon sy ‘skribbels’, soos hy dit noem, vir sy Afrikaanse onderwyser wys, net om die verbasing op dié se gesig te sien aangesien Johann nie een van sy gunsteling leerders was nie.

“Ek is baie positief oor DNS. Die informele mengsel van taalpuriste en rebelle, kundiges en groentjies, talentvolles en dromers is presies wat ons nodig het. Dis ʼn goeie leerskool en aanmoedingsgroep met passievolle mense aan die stuur. Dis heerlik om deel hiervan te wees,” sê hy.

Johann voeg by dat sy liefde vir Afrikaans van moederskoot af deel van hom was. Hy bid, droom, lag en huil in Afrikaans. Hy onthou met nostalgie kleintyd se stories van Brolloks en Bittergal, Loeloeraai en ook die skrywes van Doc Immelman wat hom bekoor het. Later jare was dit PH Nortje en PG du Plessis en nog later die skryfwerk van Dana Snyman en Christiaan Bakkes. Een van die boeke wat hy graag uitsonder is Ernst Schlegemann se Die Namib-woestyn. “Dink net hoe verkeerd dit in enige ander taal sal klink,” sê hy

Maria Mouton, alombekend as Moekie, is ʼn boorling van Rehoboth wat van jongs af lief was om te lees en te skryf. Moekie het in 2014 saam met haar man na Swakopmund verhuis om daar af te tree, en haar skryfdrome waar te maak. Sy het op Facebook gelees van Clarice Theys wat medeskrywers soek vir haar projek Basterpoeding vir die Siel. Moekie is in die tyd gekeur om aan ʼn slypskool by die Woordfees deel te neem wat Janie Oosthuysen aangebied het. Die bundel Basterpoeding vir die Siel is in 2018 bekendgestel en Moekie se verhale is daarin opgeneem. Die bundel het ʼn Pluimpie van die ATKV ontvang. Moekie se bundel, Eggo’s van die Hart, wat ook in 2018 verskyn het, is ʼn bundel met ʼn verskeidenheid verhale wat jou of sal laat lag, of sal laat soek na die dieper sin in die lewe. Sy werk tans aan ʼn boek wat in 2019 sal verskyn.

Moekie sê die jaar wat verby is was ʼn jaar waarin sy hard gewoeker en gewerk het om Afrikaans te bevorder.

“Ek kry baie goeie terugvoering op my bundel, Eggo’s van jou hart. Selfs mense wat nie graag Afrikaans lees nie, koop my boek en hou van die Afrikaans wat ek geskryf het. Dis lekker om te sien hoe DNS die onontdekte skrywerstalent in Namibië ontgin,” sê Moekie.

Nog een van die lede van Die Namib Skryf is Marsofine Krynauw wat op 16 begin dig het toe haar pa gesterf het. Sy het ook ʼn seuntjie, David, op vier maande aan die dood afgestaan en haar skryfwerk was nog altyd ʼn uitlaatklep om die seer te verwoord, maar ook ander lieflike belewenisse te deel. Marsofine, wat in die Namakwaland grootgeword het, het in 2017 ingeskryf vir die ATKV Pluimpies en met die nominasie vir ʼn toekenning, het sy begin droom van ʼn eie bundel. Sy het Heleen Malherbe van Malherbe Uitgewers ontmoet en saam met Marietjie Espach daarin geslaag om ʼn bundel, Stemme uit Namibië uit te bring waarin daar van haar gedigte opgeneem is. Nadat sy in 2018 weer genomineer is vir ʼn ATKV Pluimpie-toekenning, het sy geweet dit is tyd om met die wêreld die dinge te deel wat uit haar pen vloei en haar bundel, Woorde wat Waai, is ʼn lewenslange droom wat bewaarheid is.

Marsofine sê vir haar is Afrikaans besonder kosbaar want in die Namakwaland, waar sy grootgeword het, het hulle net Afrikaans gepraat.

“Dis vir my heerlik om in Afrikaans kreatief te wees want die woorde vloei en daar is soveel moontlikhede om met woorde te speel. Afrikaans is die taal wat my hart verstaan,” sê sy.

Estelle Rubow, een van die skrywers wat aan DNS behoort, woon in Hentiesbaai. Een van haar kleurryke verse, Ons Kombuistaal, Afrikaans, is vroeër vanjaar op LitNet gepubliseer. Vir Estelle is daar geen ander taal as Afrikaans om in te dig nie.

“Ek vind Afrikaans ʼn heerlike ekspressiewe taal om gevoelens in uit te druk. Dit is vir my só bevredigend om in Afrikaans te skryf en rond te krap in woordeboeke vir woorde wat al in onbruik begin raak, het. Dit is ons as skrywers se missie om ons taal lewendig te hou.”

Lank lewe Afrikaans, ook daar in Namibië waar die Namib ʼn taal van sy eie praat.

Vir enige navrae stuur ʼn e-pos aan namibskryf@gmail.com

Besoek https://namibskryf.com