Montagu Boekefees

25 tot 28 Julie 2019

’n Winterfees om aan te smul!

By vanjaar se Montagu Boekefees kan feesgangers hulle regmaak vir ’n vol program.  Skrywers soos onder andere Anne Dreyer Erasmus, Colin Johnson, Jacques le Roux, Theo Kemp, Irma Joubert, Finuala  Dowling, Tania Smit, Shirmoney Rhode en Wilhelm Verwoerd gaan op die Vrydag en Saterdag individuele sessies, voorlesings en boekbesprekings hou. Veral Irma Joubert se sessie oor “die storie in historiese romans” behoort groot aftrek te kry en feesgangers kan uitsien na talle voorlesings uit Joubert se werk.

Skryfwerksessie en paneelbesprekings

Ernie Mellett van die Amateur Skrywersbond bied ’n skryfsessie aan en paneelbesprekings oor kwessies binne die landbou, godsdiens en die politiek word onder die loep geneem. Politieke kommentators Jan-Jan Joubert, Leon Schreiber en prof. Christi van der Westhuizen gaan onder leiding van prof. Jonathan Jansen oor die politieke landskap na die afgelope nasionale verkiesing in gesprek tree.

Kabaret opgedra aan Adam Small

Die kabaret, Adam Small: Ons salueer jou, wat aan die digter opgedra is, sal ook te sien wees. Die Tribal Echo Trio het die musiek geskryf en sal dit ook opvoer na ’n kaas-en-wyngeleentheid.

Kaartjies en besprekings

Kaartjies vir die hele naweek (die Adam Small-vertoning en kaas-en-wyn uitgesluit) kos R150. Dagkaartjies kos R100 en kaartjies vir individuele praatjies of werksessies kos R50.

Besprekings: 023 614 2471

Nog ‘n hoogtepunt …

Woord en Kos  -“Ontdek jou kreatiwiteit binne ink en kruie!”

“Hierdie kursus is nie net vir die literêr-begaafde persoon nie, maar vir almal wat betower word deur die wonderwêreld van woorde.” – Riana Scheepers

Vanaf Maandag, 22 Julie tot Donderdag, 25 Julie  kan jy deel in die heerlikheid van ’n skryfkursus gekombineer met ’n kulinêre kursus waarin jy meer gaan leer oor die Klein-Karoo se kos. Hierdie kursus is ’n inisiatief van die Montagu Boekefees – en jy kan dus sommer aanbly en deel in die heerlike program by die boekefees. Daar is slegs 11 plekke beskikbaar op die unieke kursus – so jy moet opskud as jy jou “kreatiwiteit binne ink en kruie wil ontdek”.

Die kursus vind plaas in een van Montagu se historiese huise, Jonkmanshof, wat sommer ekstra elegansie aan die geleentheid gaan verleen. Die bekende skrywer en letterkundige Riana Scheepers en Jacques Erasmus van die Hemelhuijs-restaurant, is die kursusleiers.

Die kursus:

  • Skryfkursus en drie interaktiewe kookdemonstrasie-aandetes, vier ligte middagetes en ’n historiese dorpstoer. Koste: R4 600 – verblyf uitgesluit.
  • Indien jy by Jonkmanshof wil tuisgaan, beloop dit R8 800.

Inligting en besprekings:

Mareletta Mundey – 082 4443927 of mareletta@loudadvertising.co.za