ʼn Nuwe staning vir Dana

Vir die inwoners van Kaapsehoop, die dorpie op die platorand van die noordelike Drakensberg in Mpumalanga, is Dana Snyman wat twee maal per dag met sy vier honde gaan stap, ʼn bekende gesig. Dana woon sedert Aprilmaand op die dorpie wat veral bekend is vir die troppe wilde perde wat altyd in die omtrek is. Alita Steenkamp het by hom gaan inloer.

Dana Snyman (Foto: Innibos)

Op die oomblik is Dana hard besig om te skryf aan ʼn splinternuwe toneelstuk vir Frank Opperman. Frank en Dana kom ʼn lang pad saam en daar was al verskeie suksesvolle eenmanvertonings waar Dana die teks geskryf het en Frank dit lewendig gemaak het op die verhoog. Eenmanstukke soos Rooi Kaart, Die Uwe Pottie Potgieter en Die Klaagliedere van Dominee Tienie Benade, was een en almal baie suksesvol op die verhoog. Die nuwe stuk waaraan Dana nou skryf, Donkie, vertel die verhaal van ʼn skoolhoof by ʼn skool wat in die ou bedeling ʼn Model C-skool was. Dit is die Nuwe Suid-Afrika en ʼn rassevoorval het chaos op die skoolterrein veroorsaak. Tydens ʼn saalopening probeer die benoude skoolhoof die situasie in ʼn toespraak ontlont. Die stuk waarin Frank gaan speel, sal deur Gerrit Schoonhoven geregisseer word.

Vir Dana het die skuif na Kaapsehoop op die regte tyd gebeur. In Oktober verlede jaar het Dana se verloofde, Anette Roberts, haar eie lewe geneem. Die twee sou hulle na die troue op Jacobsbaai gaan vestig het in ʼn huis van hulle eie. Dana het reeds sy huis op die kusdorp, waar hy vir ʼn hele paar jaar gewoon het, verkoop. Na Anette se dood het hy besluit op ʼn koersaanpassing. Sy vriendskap met die skrywer Annemarie van der Walt, wat al veertien jaar lank op Kaapsehoop woon, kom ʼn lang pad. Dit het begin in die dae toe hulle albei saam by Beeld gewerk het. Sy het een deel van haar huis aan Dana beskikbaar gestel en hy en sy vier honde het die lang pad van die Weskus af aangedurf om op Kaapsehoop te kom nes skrop.

“Ek het wonderlike herinneringe aan Jacobsbaai, maar dit is ʼn fase in my lewe wat ek wou afhandel. Ek het oor die jare baie op Kaapsehoop kom kuier en my en Annemarie se vriendskap is ʼn konstante vriendskap wat oor jare strek. Die plekkie het my al met my eerste besoek bekoor, want ek is mos nie iemand wat in ʼn stad kan bly nie. Selfs Nelspruit is te groot vir my. Ek het ʼn kleindorpmentaliteit, want ek het grootgeword op klein dorpies soos Daniëlskuil in die Noord-Kaap. Kaapsehoop het in die paar maande op my kom groei. Dis heerlik omdat hier soveel plekke is waar ek met die honde kan gaan stap. Dit is nie eers nodig om hulle in ʼn bakkie te laai nie, want daar is lekker staproetes reg rondom die dorp.”

Dana se wolfpak bestaan uit vier honde. Daar is Jerry, die hoofhond, Kleintjie, Vlooi en Blackie. Blackie het hy met een van sy televisiereekse op ʼn stuk verlate pad raakgeloop, met geen huis in sig nie. Hulle was die middag van Orania af op pad na die Vanderkloofdam en iewers tussen êrens en nêrens het die hond aangehardloop gekom. Hy was brandsiek en vol sere en Dana kon hom nie net daar los nie. Hy lag en sê hy het nog altyd ʼn ding vir honde gehad. Daar en dan het hy vir Blackie opgelaai en nes die ander drie, het Blackie ʼn nuwe lewe by Dana gekry.

Dana saam met Valiant Swart by Kaapsehoop. (Foto deur De Wet Potgieter.)

Dana Snyman en Aletta Pakendorf. (Foto deur De Wet Potgieter.)

Van Dana Snyman se boeke.

Dana Snyman op ‘n wandeling met sy honde. (Foto: Netwerk24)

Sy teks nou ‘n rolprent

Dominee Tienie, die fliek wat gebaseer is op Dana se toneelstuk, Die Klaagliedere van Ds. Tienie Benadé, maak sy debuut later vandeesmaand op die Silwerskermfees in Kampsbaai (22 tot 25 Augustus). Die rolprent is vervaardig deur Bosbok Ses Films met Sallas de Jager as die regisseur. Sallas het ook Dana se toneelstuk omskep in ʼn rolprentteks. Die rolprent word op 25 Januarie 2019 landswyd uitgereik.

Dana lag net skamerig oor sy profiel as Afrikaanse ambassadeur wat na hom as ʼn Storiesendeling verwys. Hy geniet die kreatiewe niefiksie waaruit die meeste van sy skryfwerk bestaan, geweldig baie en erken dat hy nog altyd ʼn fassinasie met die werklikheid gehad het. Hy laat dit eerder aan ander skrywers oor om fiksie te skryf, sê Dana.

“Dit het vir my ʼn leefwyse geword om so op die agterpaaie van ons land te ry en te gaan soek vir nuwe stories. Ek is so bevoorreg. Ek word nie ryk op hierdie manier nie, allermins, maar dit is ʼn wonderlike voorreg om so te kan lewe. Op die ou end is dit al wat ek wil doen: skryf en stories vertel.”