Matriekvakansie: Veilige pret in Afrikaans

Matriekvakansies het oor die afgelope paar jaar ’n tradisie vir baie skoolverlaters geword. Dié vakansie is vir baie tieners ’n simboliese toetreding tot die grootmenswêreld. Vir die eerste keer hou tieners op hul eie vakansie (sonder die wakende oog van ma en pa). Hoewel tieners dikwels nie kan wag vir die groot gebeurtenis om plaas te vind nie, en maande vooruit beplan aan so ’n vakansie, doen rillerervarings en negatiewe mediaberigte niks om ouers se gemoedsrus aan te wakker nie.

Om te verseker dat jou matriek nie in ’n slaggat trap tydens sy matriekvakansie nie, het Petronell Vorster namens Afrikaans.com na ’n paar (Afrikaanse) opsies gaan loer vir matriekvakansies. Ons gee ook handige wenke oor veiligheid om te verseker dat jou tiener se eerste regte smaak van onafhanklikheid ’n aangename een is.

Veiligheid eerste

Voor ons wegspring en al die opsies vir jou matriek se vakansie bespreek, moet ons eers ’n bietjie preek oor veiligheid.

Maak seker jou kind is bewus van die gevare wat daar buite skuil. Moet nie aanneem dat jou kind weet wat is reg en verkeerd nie. Hê eerder ’n (effe ongemaklike) gesprek oor drank, dwelms en seks as om net stil te bly oor jy skaam is! Ingeligte tieners kan ingeligte besluite neem.

Weet ook dat jou kind gaan drink op so ’n vakansie. Die onus rus op jou as ouer om te sorg dat jou tiener weet hoe om dit reg en veilig te doen.

Sorg dat jou kind die nodige kennis het om veilig partytjie te kan hou! (Foto: Pexals)

Netcare 911 het dié handige lysie van wenke vir matrieks saamgestel:

Voor jy vertrek

  • Maak seker jou ouers het kontakbesonderhede van ten minste twee vriende wat saam met jou op vakansie gaan, sowel as die kontakbesonderhede van jou vriende se ouers.
  • Maak seker jou ouers ken die naam van die gastehuis/oord of hotel waar jy gaan bly.
  • Maak seker jy het ’n volledig toegeruste noodhulptassie byderhand en dat jy die nooddienste se kontaknommers op jou selfoon stoor (082 911).
  • Laai die mySOS-toep af en laai al die nodige besonderhede sodat nooddienste, insluitend paramedici, jou ligging en ander belangrike inligting maklik van die toep kan bekom indien jy jouself in ’n noodsituasie bevind.

Op die pad

  • Moet nie onder die invloed van dwelms of alkohol bestuur nie, en moenie in ’n kar klim wat deur ’n persoon bestuur word wat onder die invloed is nie.
  • Moet nooit sonder ’n lisensie bestuur nie (al weet jy hoe.) Dit is onwettig!
  • Maak seker jou voertuig is padwaardig en dat al die nodige onderhoud- en veiligheidsmaatreëls nagegaan is.
  • Moenie dat jou vriende jou aandag aflei wanneer jy bestuur nie. Dit sluit harde musiek, fisiese afleidings of harde gepraat en gesing in.
  • Om moeg te bestuur, is net so sleg soos om dronk te bestuur. Stop elke twee ure om bene te rek.
  • Maak gebruik van Uber of ’n taxi wanneer jy nie vertroud met die area is nie.

By ’n partytjie

  • Koop altyd jou eie drankie. Sorg dat die botteltjie verseël is voor jy dit drink. Hou altyd jou drankie in die oog en moet dit nie êrens neersit nie.
  • As iemand aanbied om vir jou ’n drankie te koop, gaan saam met die persoon kroeg toe. Moenie iets vreemds eet of drink nie en moet nie drankies van vreemdelinge aanvaar nie.
  • Bly weg van dwelms!
  • Vertrou jou instink: As jy onveilig, bang of ongemaklik voel, verwyder jouself so vinnig as moontlik uit die situasie.
  • Moet nooit alleen uitgaan nie, neem altyd ten minste twee vriende saam met jou.

Hou hier matriekvakansie, in Afrikaans:

Verskeie tieners het in vorige jare ’n stel afgetrap wanneer dit by matriekvakansies se besprekings en betalings kom. Wanneer jou kind inskakel by gestruktureerde vakansies wat deur betroubare instansies aangebied word, vermy julle hierdie risiko’s.

ATKV Klein Kariba se Studentejol

Kyk hier na ’n video van die 2017 Studentejol:

Vir een week in die jaar is die ATKV se Klein Kariba-oord se kampplekke en swembaddens nie gevul met kinders wat op fietse rondry en mammas wat sonblok aan pappas se rug smeer nie… Nee, van 2 – 8 Desember 2018 word daar hard partytjie by die oord gehou. Klein Kariba se Studentejol het so gewild geword, dat ander ATKV-oorde ook oorweeg om soortgelyke partytjieweke vir skoolverlaters aan te bied!

Die vakansieweek se slagspreuk wat “Ruk op. Rus uit. Rock on!” is, is die perfekte oplossing vir tieners wat wil partytjie hou, in ’n veilige omgewing en in Afrikaans. Behalwe vir die musiekkonserte en kompetisies wat gedurende die week plaasvind, is die groot swembaddens en lowergroen grasperke die perfekte uitspanplek om dié vakansie se leuse uit te leef.

’n Geslote omgewing soos die van Studentejol verskaf ook ’n sekere mate van gemoedsrus en veiligheid vir tieners (en hul ouers). Die ATKV het sekuriteit en noodhulp in plek en boonop is dit nie nodig vir partytjiegangers om enigsins gedurende die week te bestuur nie.

Besprekings vir die 2018 Studentejol kan nog gemaak word. Vir meer inligting kan julle die Studentejol Facebookblad of die ATKV se webblad besoek.

#NetMATRIEKS-bootreis

Kyk hier na ’n video van die 2017 #NetMATRIEKS-bootreis

Finesse se #NetMATRIEKS-bootreis is nog ’n uitstekende opsie vir skoolverlaters wat op ’n unieke vakansie wil gaan. Die 2018-bootreis na Pomene (’n ongerepte eiland in Mosambiek) vind vanaf 3 – 7 Desember op die MSC Musica plaas en vanjaar gaan die sanger Jo Black, die sangeres Caroline-Grace Brüssow, die vermaaklikheidster Katinka die Kat en die akteur en komediant Bennie Fourie saam.

Aan boord kan matrieks die luukshede van die MSC Musica geniet… Daar is hope kos, geleenthede om saam met vriende te kuier, te swem of sommer net in die son te lê en bak. Saans word die matrieks deur die kunstenaars vermaak of kan hulle een van die vele kabaretvertonings geniet.

Die geslote omgewing van die boot verseker ook dat jou matriek in ’n veilige omgewing sy onafhanklikheid kan toets.

Vir meer inligting oor die #NetMATRIEKS-bootreis, besoek Finesse by Voelgoed.

Xit Week by To Strand

Die Xit Week by die To Strand-vakansieoord op Leisure Bay in KwaZulu-Natal beloof om ’n week propvol pret vir skoolverlaters te wees. Die week vind van 1 – 7 Desember 2018 plaas en daar is slegs plek vir 500 jongmense! Matrieks kan uitsien na verskeie aktiwiteite wat onder meer raakrugby, ’n tamaai-braai, seesporte en ’n mnr. en me. Xit-kompetisie insluit. Kunstenaars wat die matrieks gaan vermaak, sluit Moses Metro Man, Len Muller, Onbeskaamd, Spoegwolf, Deon Meiring en Shion in.

Vir meer inligting kan lesers To Strand se Facebookblad  of webblad besoek.

Rage

Die onderskeie Rage-feeste; Plett Rage in Plettenbergbaai en Rage in Ballito is waarskynlik die mees bekende en berugte matriekvakansiebestemmings.

Hoewel hierdie feeste ietwat van ’n reputasie opgebou het, moet jy jouself regmaak vir die moontlikheid dat dit juis die matriekvakansie is wat jou kind beplan!

Plett Rage

Die Plett Rage-fees vind vanaf 30 November tot 7 Desember plaas. Die fees het heelwat veiligheidsmaatreëls in plek om te verseker dat kinders veilig kan partytjie hou. Die feesgronde het sekuriteit en noodhulp, en daar is verskeie vervoeropsies tussen Plettenbergbaai en die feesgronde om dronkbestuur te voorkom.

Die oorspronklike matriekvakansie-fees, Rage vind vanaf 30 November tot 8 Desember plaas. Matrieks koop ’n ‘Paspoort’ wat hul toegang gee tot die onderskeie aktiwiteite. Verskillende paspoorte bied verskillende opsies waaraan matrieks kan deelneem.  Besoek Rage se webblad vir ’n volledige uiteensetting van aktiwiteite en aanbevole akkommodasie.

Na die matriekvakansie…

Dit is belangrik om jou matriek daaraan te herinner dat hy/sy moet begin beplan aan ’n toekoms. Die lewe eindig nie net omdat die laaste skoolklok gelui het nie! Vir baie jongmense kan die tydperk na skool verwarrend wees, en weet hul nie altyd wat hulle met die res van hul lewe wil doen nie. Vir so kind is ’n vakansie dikwels nie genoeg van ’n breek nie en kan julle die opsie van ’n Gap-jaar bespreek.

Moet nie die fout maak om te dink dat ’n Gap-jaar een lang partytjie is nie! Daar is verskeie programme en opsies wat jou kind kan help om te ontwikkel en te groei en blootstelling aan die lewe te gee om sodoende ’n besluit oor sy/haar toekoms te maak. ’n Goeie voorbeeld van só ’n program is die van AEL (Academy for Environmental Leadership South Africa). Hierdie program bemagtig jongmense met die kennis en vermoë om ’n loopbaan in die omgewingsfeer te volg. .

Daar is verskeie sulke gesonde programme en opsies vir jou kind in die veld van sy keuse beskikbaar. Doen navorsing, ondersteun jou kind en geniet die nuwe fase in sy/haar lewe saam met hulle!

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!