Maroela Media se storiebus deur Namakwaland

Wat is lekkerder as ’n goeie storie? Nog een, natuurlik!

Wie hou nou nie van ’n lekker storie nie! Soms gaan haal die verteller die storie ver en is die stertjies wat mettertyd bykom juis wat ’n gewone storie nog interessanter maak, maar dat storie vertel eie is aan die Afrikaanse kultuur is ’n feit soos ’n koei.

Hier by Afrikaans.com is kontreistories ons kos. Daarom is ons saam met Maroela Media opgewonde oor hulle storiebus  deur Namakwaland.

“Met die storiebus wil ons die Afrikaanse kultuur van stories vertel laat herleef – ’n kultuur wat ’n hoogtepunt bereik het in die era van die ikoniese storievertellers soos Jan Spies, PG du Plessis, Ollie Viljoen en Tolla van der Merwe.”

Moenie die bus mis nie!

Maroela se storiebus vertrek op 7 Augustus uit Kaapstad en tot 11 Augustus word daar deur Namakwaland getoer en stories vertel. Maak jou reg vir plekke soos Springbok, die Knersvlakte, Hardeveld, Namakwalandse Klipkoppe, Nieuwoudtville, Strandfontein, Doringbaai, Lambertsbaai, Piekenierskloof en Tulbagh.

Twee gesoute storievertellers reis saam en gaan sorg dat daar permanent ’n smaail op jou daail is. Op pad gaan daar blomme gekyk word en is daar geleentheid om die kultuur van die Namakwalanders te beleef. Saans word ’n kampvuur aangesteek en onder die sterrehemel word daar nog stories en staaltjies gedeel.

Besprekings

Diegene wat voor einde Maart bespreek, kan saamreis vir slegs R12 900 per persoon wat deel. As jy hou van jou eie kamer, kos dit R14 200.

Vir meer inligting oor die toer, die toerprogram en besprekings, gaan na Maroela Media se webtuiste om ’n kontakvorm in te vul. ’n Verteenwoordiger sal jou kontak.

Jan Spies

PG du Plessis

Ollie Viljoen

Tolla van der Merwe