Liewe Lizz Meiring

Dit is 35 jaar later en sy bly in haar hart ‘n kind wat net wil konsert hou

“As ek haar vinnig moet opsom: Energizer bunny! Daar is geen einde aan Lizz Meiring se energie, haar entoesiasme, haar slimheid en haar wysheid nie. Ek sal graag in haar brein wil klim want ek dink dit is uiters deurmekaar en gesorteer op dieselfde tyd. Lizz Meiring is soos ʼn minibustaxi, haar hart is so ruim. Sy sal oplaai en oplaai en oplaai. En as daar ’n boete uitgeskryf word vir oorlading, sal sy hom nog betaal ook. Lizz Meiring is een van die gulste, hardwerkendste, egste mense wat ek ken.” Margit Meyer-Rödenbeck.

Bizzie Lizzie

Sy is een van ons land se gewildste aktrises wat al in byna 2000 produksies gespeel het. Ernstige rolle soos Lady Macbeth in die teaterstuk wat se naam nie eintlik genoem mag word nie, of die keiserin in Barto Smith se Die Keiser het sy met gemak aangepak. Dan het sy ons ook al lekker laat lag in flieks soos Lipstiek Dipstiek, of televisiereekse soos Molly en Wors en Hester en Ester Bester.  Lizz is ook gereeld te sien in Engelse produksies en het ook al in Frans, Duits en Sotho gewerk. Hierbenewens strek Lizz se talente veel verder en is sy ook ʼn uitmuntende regisseur, vervaardiger, skrywer, TV-aanbieder, seremoniemeester, spreker, kunsaktivis en kreatiewe konsultant.  Sy het al 17 pryse gekry vir haar werk as aktrise, skrywer, regisseur, vervaardiger en vir haar kulturele bydrae. Sy is ook 18 keer vir pryse en eerbewyse benoem.

35 jaar in die bedryf …

Vanjaar vier Lizz haar 35ste jaar in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf.

Hier gesels Lizz en Hannes Muller op Martin Bester (Jakaranda FM) se radioprogram, Twee vir die prys van een

Kyk hier …

Haar lys bekronings wat sy oor die jare verwerf het, is ellelank maar welverdiend. Alita Steenkamp het Lizz nadergetrek om te gesels oor die dinge wat haar hart vinniger laat klop.

Die dinge wat Lizz se hart vinniger laat klop

  1. ʼn Groot vriend en kollega maar ook ʼn wonderlike mentor vir my, Pieter-Dirk Uys sê altyd: “As jy suksesvol wil wees, omring jouself met mense wat vir jou vertel wat jy nie wil hoor nie.” Mense by wie ek geleer het en elke dag steeds leer, het ʼn baie groot invloed op my loopbaan gehad, en het dit nog steeds.
  2. Ek het groot respek vir die danskuns, en het self 16 jaar lank ballet gedoen. Om ʼn storie te kan vertel deur te dans, is ʼn waardevolle talent. Uiteindelik is ons mos net ʼn kanaal om stories te vertel, op watter manier ook al.
  3. Die visuele kunste lê my net so na aan die hart. Ek het grootgeword in ʼn huis waar albei my ouers groot aanhangers van die visuele kunste was. My eie kunsversameling word nie gedryf deur snobisme of ʼn elitistiese oogpunt nie, maar uit ʼn opregte waardering vir die skone kunste.
  4. Lees! Ek glo mense wat nie lees nie kan nie wees nie. Kleintyd was ek reeds omring met boeke en nou bars my eie plek uit sy nate – propvol boeke! E-boeke het seker hulle plek, maar die reuk, die gevoel en die tekstuur van ʼn boek wat jy onder jou vingers kan voel, kan myns insiens nie vervang word nie.
  5. My tuin is die plek waar ek weer in voeling kom met die natuur. Hier skop ek my skoene uit en so kaalvoet in die tuin, besef ek opnuut ek is ʼn aardling. Dis vir my ʼn veilige hawe en ʼn herinnering dat daar bome en plante is wat soveel groter en wonderliker is as wat ek is.
  6. My gemeenskap – vriende en kollegas waarmee ek myself omring en wat onvoorwaardelik omgee vir my. Dit is die mense op wie ek kan peil trek. Dit is mense van alle ouderdomme, kultuurgroepe en geslagte. Die mense wat jou dra en met wie jy kan lag en huil en droom en kla.
  7. Om onderhoude te voer met ander mense, hetsy as televisieaanbieder of as geleentheidsjoernalis, bly vir my lekker. Al praat ek baie, kan ek ook goed luister en baie optel uit wat mense sê, of juis nie sê nie. Dis heerlik om as ʼn kanaal te dien om stories te vertel. Nie jou eie storie nie, maar ander mense se stories.
  8. Kreatiwiteit is my suurstof, dit is in my DNS. Of ek moet speel en ʼn karakter moet skep, of moet skryf of regie doen of as aanbieder optree, ek kan nie sonder kreatiwiteit nie.
  9. In Mei 2011 het ek gekwalifiseer as ʼn afslaer van die South African College of Auctioneers. Ek doen baie funksies as seremoniemeester waar daar dan een of ander veiling is en ek wou graag die kuns leer. Al het ek nog nooit ʼn sent hiermee verdien nie, en tree ek net as afslaer by liefdadigheidsfunksies op, droom ek nog daarvan om eendag by een van die groot afslaers soos Sotheby’s goeie visuele kuns te kan opveil.
  10. Om te reis is een van die dinge wat my ontsettend gelukkig maak. Die ou sêding van Travels broadens the mind, is wraggies waar. Ek is baie lief vir ou kulture en Europa, Asië en die Verre Ooste is wonderlike plekke om te besoek.
  11. Ek is ʼn kultuurjunkie en museums en katedrale is die hoogtepunte van sulke oorsese reise. Om soos ʼn rotisserie-hoender op die strand te lê en braai, is nie deel van die beplanning nie. ʼn Strand is ʼn strand is ʼn strand. Mense wat op staptogte soos die Camino gaan, verstom my, maar dis iets waarvoor ek rêrig nie kans sien nie.
  12. Uit die aard van my liefde vir reis, en my nomadiese loopbaan, is tasse vir my baie belangrik. Nie net moet ʼn reistas funksioneel wees nie, maar ook mooi. ʼn Mens kom immers op ʼn punt waar jy dink: As ek nog een tas moet pak, dan gaan ek naar word.
  13. Winkellug is in my oë die gesondste ding wat enige vrou kan inasem. Jy hoef nie te koop nie, maar kan net ʼn bietjie rondkyk en stimulasie kry. Ek is mal oor winkels – van winkelsentrums tot vlooimarkte, kunswerkmarkte en klein obskure winkels in rare plekke. Enige man wat sy vrou goed verstaan, sal haar uitstuur vir ʼn sarsie vars winkellug om weer dolgelukkig huis toe te kom.
  14. Ek is waansinnig lief vir geskiedenis want dit is geweldig sexy!: mitologie, antieke geskiedenis, wêreldgeskiedenis, Suid-Afrikaanse geskiedenis. Daar is ietsie van alles in die geskiedenis se stories: bloeddorstigheid, humor, satire, intriges, patos en tragedie.
  15. Kostuums, veral periodieke kostuums met al die detail – korsette, lang bloomers, hoepel-onderrokke en die pragtige materiale is beeldskoon. Inherent is ek eintlik net ʼn kind wat wil konsert hou. Daar is ʼn hele vertrek in my huis wat propvol konsertkostuums is en dit gee vir my groot, groot vreugde.
  16. Diere is die beste terapie wat jy kan kry, en my drie rescue honde is geen uitsondering nie. Daar is Buster, wie se ma en pa ʼn hond is, Babette, ʼn vurige steekhaarterriër en Yippee, ʼn Jack Russell, my oorlede ma se hond. Yippee se glimlag hou nooit op nie. My diere herinner my altyd daaraan om myself nie te ernstig op te neem nie. Ek het nou wel nie die waagmoed vir iets eksoties soos ʼn slang of ʼn baardakkedis nie, maar is dolgelukkig met ʼn sagte, warm hondelyfie styf teen my.
  17. Humor is iets waarsonder ek nie kan leef nie. Ek het ʼn absurde sin vir humor maar verkies fyn humor, en glad nie toilethumor of slapstick nie. Suid-Afrikaners en veral Afrikaanses, het bewys in moeilike tye kan humor ons deurdra.
  18. As student is dit by ons ingeprent dat ons taak hier is om die dienaar van stories te wees. Ons as akteurs reflekteer die siel van die mensdom – goed en sleg. Ek skram weg van die woord celebrity, want dit klink vir my soos ʼn goedkoop handeroom. Roem is ʼn baie vals en verkeerde ding.
  19. In ons bedryf is daar interessante mites, en dit verskaf soms baie pret. Mense dink dikwels met gewilde televisiereekse of ʼn sitkom soos Molly en Wors maak die akteurs sommer self die woorde op. Nee, dit is nie so nie. Ons leer die spesifieke woorde wat deur die skrywer geskep is. Dit is soos musiek. Een woord te veel of te min, werk nie.
  20. Na 35 jaar in die bedryf, is daar sekere dinge wat ʼn mens onwrikbaar weet. Een van daardie dinge is dat geen talent op aarde professionaliteit, goeie maniere, konsiderasie en basiese ordentlikheid kan vervang nie. Een van my waarnemings oor die jare is: Hoe kleiner die talent, hoe groter die ego en hoe groter die talent, hoe minder die ego.
  21. Dis belangrik om aktief teen politiese en sosiale korrektheid te veg wat die owerhede gebruik om veral kunstenaars wat die vrysprakers is, te probeer beheer. ʼn Karakter sal immers in sy ware omstandighede, veral iemand in trauma of skok of wat deur ʼn groot verandering gaan, nie polities en sosiaal korrek praat en reageer nie.
  22. Enige kreatiewe persoon moet entrepreneurskap verstaan, en daarom is dit vir my so belangrik. Indien jy nie jou eie werk kan skep nie, en afhanklik is van ander mense om vir jou werk te gee, gaan jy nooit groei as mens, of as kunstenaar nie.
  23. Die Teaterbystandsfonds lê my baie na aan die hart. Ek verwys na myself as die megafoon van die TBF, want ek is ʼn bestuurslid wat help met die bewusmaking en reël van funksies ten bate van die TBF.
  24. Iets wat my hart baie gelukkig maak is Mickey en Minnie Muis en ek kan nie genoeg items koop met die twee op nie. Hulle laat my onmiddellik glimlag en is ʼn groot inspirasie. Walt Disney is ʼn bewys dat iets wat so klein kan begin, tot ʼn wêreldwye reus kan groei!
  25. Indien ek ʼn ander beroep moes kies, sou ek seker ʼn argeoloog of ʼn geskiedkundige geword het. Of dalk iemand wat spesialiseer in die mitologie. Tog het ek gekies om akteur te word. Gelukkig het die beroep my ook terselfdertyd gekies.
  26. My drome vir die toekoms is om te kan aanhou skep, skep en skep. Om kreatief te wees en myself te herinner dat ʼn mens altyd net so goed is soos die laaste werk wat jy gedoen het. Dis lekker om nostalgies terug te kyk, maar terselfdertyd moet jy gefokus bly op die dinge waarmee jy tans besig is.
  27. Ek hou onbeskaamd van mooi goed en omring my daarmee. Dis vir my belangrik om mooi klere te kan dra (waarvoor ek baie hard werk) mooi skoene aan te hê en myself goed te versorg. My huis is ʼn toevlug en wat is dan nou lekkerder as om op ʼn mooi bank te kan sit en uit te kyk op ʼn pragtige tuin.
  28. Meryl Streep het die ander dag gesê sy het nie meer geduld met mense wat haar tyd mors nie. Wanneer ʼn mens ouer word, kry jy ʼn besef van jou eie verganklikheid. Omdat tyd so min is, moet jy elke oomblik ten volle gebruik op ʼn positiewe, vreugdevolle manier. Ek is ʼn vreugdevolle werkolis, maar soms is dit nodig om myself te herinner dat ek moet asemhaal en die lewe lééf.
  29. Afrikaans is my hartstaal – die taal waarin ek hoop, bid, droom, baklei, lag en huil. Afrikaans is nie ʼn brandsiek skaap wat iewers afgekamp en beskerm moet word nie. Afrikaans sal voortbestaan mits Afrikaanses dit praat en ondersteun. Moenie optogte hou nie. Ondersteun die Afrikaanse teater en rolprente, lees Afrikaanse boeke en luister na Afrikaanse musiek. Wees aktief betrokke en intelligent in jou kritiek en terugvoer.
  30. Tale is ook een van die dinge wat my geweldig interesseer. Frans is een van die tale wat ek al bemeester het, en wat ek weer wil afstof. Ek dink nie ʼn mens kan ooit in jou lewe genoeg tale baasraak nie.
  31. Nuwe projekte is altyd vir my verskriklik opwindend. Die interessante ding van ʼn nuwe projek is dat ʼn mens elke keer voel soos ʼn kind wat die eerste dag by die skool is. Daarom is dit ʼn ervaring wat jou opnuut nederig maak. Hierdie jaar wag daar drie nuwe projekte:
  • Non met vakansie – ʼn Heerlike komiese drama saam met Wynand van Vollenstee wat bekend is vir sy rol as Gielie in Molly en Wors. Die stuk open by die KKNK (21 tot 27 Maart)
  • Sjokolade – Heerlike sketse en stories oor sjokolade en die invloed daarop op die mensdom. Jak de Priester tree saam met my op en gaan ook sing. Wat is ʼn show nou as Jak nie sing nie? Die stuk open by Innibos.
  • Lizz 35 – ʼn Klets en skets-konsert waarin ek ʼn unieke blik bied op die agter-die-skerms-ervarings. Ek vertel meer van ver paaie se reis, vreemde kleedkamers en verhoë en die interessante siele wat my pad gekruis het.

Om Lizz vir ʼn vertoning te bespreek, kontak Artist Warehouse 

www.artistwarehouse.co.za / info@artistwarehouse.co.za /

Volg Lizz op Facebook: Lizz Meiring Public figure 

Twitter : @LizzMeiring , @ MeiringLizz 

Instagram : lizzmeiring , lizzmeiring2