fbpx

Lapa Uitgewers se e-boekrak

Met Afrikaans.com en Lapa Uitgewers se e-boekrak kan jy nie net die beskrywing van ’n boek lees nie … maar sommer die hele eerste hoofstuk! Hierdie maand se boeke is almal ernstig van aard … heerlike pitkos, maar hulle lees maklik. Die boeke is almal as e-boeke beskikbaar en kan dus aangeskaf word sonder om jou huis te verlaat … perfekte leesstof vir die isolasie-tydperk.

Halley se Komeet

Hannes Barnard

Pete de Lange moet as tiener probeer oorleef in ’n klein Natalse dorpie gedurende die onstuimige tagtigerjare saam met sy nuutgevonde vriende: Petrus en Sarita. In ’n land wat bloei van rassekonflik is dit makliker gesê as gedaan. Pete en sy vriende het ’n wrede misdaad gesien en die skuldige is op hulle spoor. Sal reg en geregtigheid geskied in ’n land wat reeds polities verwronge is?

Oorlewingsgids vir ‘n bedonnerde diva

Sophia Kapp

Dit is Simoné se annus horribilis. Op vier-en-veertig stap sy vir die tweede keer uit ’n huwelik, bankrot, werkloos, moedeloos, verbrysel. Al wat sy het om van vier-en-veertig jaar te wys, is ’n bedenklike verlede, ’n tienerseun wat skaars met haar praat, en die besef van mislukking en ontoereikendheid wat soos ’n meulsteen om haar nek hang. Al waarheen sy het om te gaan, is die kleinburgerlike dorp op die Oos-Vrystaatse platteland waar sy grootgeword het, waar haar konserwatiewe ma en konvensionele suster haar gedurig aan haar tekortkominge kan herinner. Rock bottom, dis waar sy is.

Al waarvoor sy glad nie reg is nie, is Barnard Richter, wat van haar verwag om ten spyte van alles wat sy nie kon vermag nie en alles wat sy nooit sal kan wees nie, weer in die liefde te glo.

Mentje – Kind van die Pas-Opkamp

Irma Joubert

Sy is so verskriklik eensaam. So verskriklik bang. Haar hart is verskriklik stukkend. Mentje, ’n Nederlandse oorlogswesie, beleef die Tweede Wêreldoorlog in al sy genadeloosheid in ’n geheime kamp. Terselfdertyd sluit ’n Suid-Afrikaner by die Britse Leër aan. Wat sal gebeur as die twee se paaie kruis? Vir Mentje wag daar dalk tog doel en redding …

Drie vroue en ‘n meisie

Hans du Plessis

“Ek het vir prof ’n storie om te skryf.” Só begin Drie vroue en ’n meisie toe die mooie Katryn een middag ná klas ongenooid voor die skryfkunsprofessor se lessenaar kom staan om hom in te lig dat hy haar familiegeskiedenis gaan skryf. Die ellendige saga en lotgevalle van drie generasies vroue wat begin by Katryn se grootjie in die miserabelheid van die delwerye van Miersehoop wat byna reeds uitgewerk is. Wat gebeur toe? Lees en vind uit.

Bloedlelie

Jeanette Ferreira

In die somer van 1838 vertrek die Voortrekkerleier Piet Retief en sowat 100 manne na die Zoeloekoning Dingaan om oor grond vir die trekkers te onderhandel. In die laer by Doornkop wag sy vrou Magdalena op hulle terugkeer. Die afloop van hierdie sending na Dingaan is wyd opgeteken as die Slag van Bloedrivier. Byna 180 jaar later is Hanna op soek na wat ook al Magdalena nagelaat het. Vroeg in hierdie soektog loop Hanna haar vas in ’n plaasmoord waarvoor sy nie antwoorde het nie en nou die antwoorde moet soek.

’n Ballade vir Nkunzi

Ben Viljoen

“Weet jy wat is die heel beste van flat rock bottom wees? As jy eers dáár is, kan alles en enigiets jou droom wees.” Dit was die woorde van Drien Welman aan haar oudste seun Bennie wanneer hulle vir die soveelste keer by die laaste stukkie kos in die huis gekom het. Bennie neem die leser terug na sy grootwordjare waar die Welman-gesin van nege op Simmer Deep gewoon het – van die middel sestigs tot middel tagtigs.

Hou die Lapa boekrak dop vir nog lekker leesstof in Meimaand!

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.