Karoo-kuier

‘Afrikaans is ‘n Afrikataal’

Hoe langer my reis, hoe meer leer ek dat ek Suid-Afrikaners nie moet onderskat nie. Suid-Afrika lyk dalk op party plekke of reuse-molle onderdeur die paaie gegrou het of tonnels deur sekere mense se logika gevreet het, maar hierdie is ook ‘n landskap waar steenkool onder druk in skitterende diamante kan verander! Louis en Marida Serfontein woon in die hart van die Karoo, Laingsburg. Hul gesels oor Afrikaans as Afrikataal. “Die feit dat Afrikaans op die vasteland van Afrika natuurlik ontwikkel, aanhou groei en versprei is ‘n veelseggende waarheid…”.

‘Jou taal is jou hartland’

Laingsburg, Karoo – Daar is ‘n lyn getrek deur die psige van alle Laingsburgers, die ouer geslagte, sowel as die jongeres. Op verskeie plekke in die hoofstraat word die vloedlyn van 1981 se tragedie aangedui. Dit is vér bo die langste mens se kop. Vér bo die hoogte van die grootste vragmotor. Spandeer mens egter tyd in hierdie geweste begin jy ontdek dat hierdie mense se innerlike vloedlyn in iets anders verander het. Dit het ‘n lyn geword wat van die verlede tot in die toekoms strek. Soos ‘n pad wat ‘n hele dorp vorentoe vat, want hulle het gedeel in smart en gedeel in oorleef, opstaan en herbou. Laingsburg het ‘n hart. En die taal van hierdie hart is Afrikaans. Ontmoet Die Hartlanders – ‘n dramagroep wat hierdie hartklop leef.