Johny is terug met sy woordwalse op RSG

Vir almal wie se tone behoorlik gekrul het van lekkerte met die luister na een van Afrikaans.com se ambassadeurs, Johny Klein se voorlesings van Ferdinand Deist se verhale op RSG, wag daar besondere goeie nuus.

Op Donderdag, 11 Oktober, maak Johny weer so wanneer hy begin met ʼn reeks voorlesings uit Ferdinand Deist se Pofadder en Peddelford. Hierdie voorlesings word elke weeksoggend om 10:45 uitgesaai. Met die voorlesings van die vorige twee bundels, Bom Appeltiet op Eselspoort en Die pomporrel-kônsert, het Johny en die Sandveldse karakters wat Ferdinand Deist so uitstekend kon beskryf, diep in die harte van luisteraars gekruip.

Vir Johny is dit ʼn heerlike voorreg om weer hieraan te kon werk. “Ferdinand Deist se stories praat regtig met my. As ʼn boorling van die Noord-Kaap kan ek nogal met hierdie karakters assosieer. Dit is eintlik groot pret so tussen die harde werk deur. Ons het ʼn paar weke gelede begin met die opnames van die stories en neem so vyf of ses stories op ʼn dag op. Van die stories wat te lank is vir die tydgleuf, word dan in twee gedeel. ʼn Mens wens eintlik dit wil nie klaar raak nie,” sê hierdie ambassadeur vir Afrikaans.

Kobus Burger, uitvoerende regisseur: drama by RSG, sê die kombinasie van Ferdinand Deist se stories en Johny se vertolking, is uitstekend. “Johny identifiseer met die karakters en hy leef hom in die verhale in. Wanneer ʼn mens na hom luister is dit amper asof hy die stories self geskryf het. Al die karakters kry basies ʼn lewe van hul eie deur Johny se vertolking. Hy is boonop ʼn meesterlike voorbereider wat baie moeite met sy voorbereiding doen. Johny is ʼn staatmaker en dis heerlik om met so ʼn professionele akteur saam te werk.”

Op Donderdagaand, 11 Oktober, kan Johny ook gehoor word in die drama Laat Herfs op RSG. Sy kans om die hoofrol in ʼn RSG-drama te vertolk, gebeur op Donderdag, 29 November, in die drama Lugter as die wind. “In Lefra-produksies se Flennie die Snare het ek opnuut kennis gemaak met Boerneef se werk en dan ook die legendariese Dirk Lugter, wat ook ʼn groot skaapdief was. In hierdie drama, geskryf deur André Kotzé, word Dirk Lugter se hele lewensverhaal op ʼn slim manier vertel. Dit kyk ook na hoe Dirk Lugter Boerneef se digkuns beïnvloed het. Vir my was dit net so lekker om die rol oor hierdie vabond te kon doen,” sê Johny.

Met 2019 wat om die draai is, werk Johny ook reeds aan ʼn paar moontlike projekte. Hy gaan by een van die Oos-Randse hoërskole help met die afrigting van die leerders vir die ATKV-Tienertoneel. Frans Swart van Lefra-produksies is ook besig om te werk aan ʼn eenmanvertoning vir Johny waarmee hy ver en wyd gaan reis. Al hierdie dinge en nog meer wag op enigeen wat soos ons, ʼn besondere waardering vir Johny Klein se kuns het.

Johny vertel self …

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!