Jo Black en Albie Morkel open eersdaags ’n vermaaksentrum vir die hele gesin

Sport en musiek ontmoet op een plek wanneer Albie Morkel en Jo Black die deure van hulle splinternuwe sport- en vermaaksentrum amptelik op 31 Mei 2019 open. Annelien van Basten verklap meer oor wat besoekers van Ultimate Aim Sports Pavilion en The Bearded Butcher kan verwag.

Die Ultimate Aim Sports Pavilion (Breedstraat 622, Montana Park, Pretoria), wat besit word deur die sangsensasie Jo Black, krieketheld Albie Morkel en vennote Michael de Jongh, Wynand van Zyl en Bierman Smit, is die eerste van sy soort in Suid-Afrika.

Híér sal gesinne en vriende bymekaar kan kom om verskeie sportaktiwiteite, lekker kos en goeie vermaak onder een dak te geniet.

Volgens Albie, wil hulle graag gesonde vermaak, vir die hele gesin, op een plek aanbied. Die sportgedeelte van dié nuwe venue spog met ’n wye verskeidenheid sportaktiwiteite, soos boogskutbane, ’n gesofistikeerde hoëdefinisie gholfsimulator, krieketnette, ’n Pitch & Putt-baan, ’n winkel met verskeie gholf- en visvangtoerusting en vele meer. “Ons fokus op die gewildste buitelugsportsoorte wat gesinne soms saam beoefen en wil graag hê dat dit die beste familiebestemming in die land moet wees,” verduidelik hy. Ek was van dag een af mal oor die konsep en weet dit gaan ’n wenner wees. Ons beplan ook om sportontwikkelingsprogramme vir kinders aan te bied.”

Die perseel gee ook lewe aan een van Jo se lewenslange drome en dit is om sy eie teater-restaurant, The Bearded Butcher (wat die naam was van ’n biltongwinkel wat hy wou oopmaak), te besit.

“Ek bly self in Montana en daar is beslis ’n behoefte aan ’n plek waar jy musiek en teaterproduksies kan gaan kyk. Ons gaan probeer om een keer per week ’n groot naam in te kry wat ’n intieme vertoning gaan doen, met tafels wat lekker naby aan die verhoog is sodat die gehoor die musikant beter kan leer ken. Dan gaan daar ook komediant- en eenmanvertonings wees, asook liedjieskrywersaande waar jong, opkomende musikante blootgestel kan word aan kunstenaars wat al ’n pad in die bedryf gestap het,” verklap die geliefde sanger.

Vir lekkerbekke …

Die kombuis gaan beman word deur die bekende kykNET Kokkedoor-finalis, Linde Watson Graaff, wat ook haar eie kookprogram op SABC 2 het en die spyskaart gaan bestaan uit uitsoekgeregte wat uniek is aan die restaurant met sy rustieke dekortema. Verder is Jenny Prinsloo, wat al meer as sestien jaar in die restaurantbedryf werk, aan stuur van sake om seker te maak dat alles seepglad verloop.

Vir die kleingoed …

Om die kleingoed besig te hou, is daar ’n groot speelplek met iemand wat toesighou en die restaurant se kuierarea is ook in verskillende segmente verdeel; ’n restaurantgedeelte waar jy rustig kan sit en van die spyskaart af kan bestel, ’n tapaskroegarea waar tapasborde en drankies bedien word vir informele kuiers en eksklusiewe BBP-bokse met gemaklike rusbanke aan die bokant vir meer intieme byeenkomste. Die verhoog kan vanuit elke area gesien word.

… en sportliefhebbers

Ultimate Aim se sportsentrum en The Bearded Butcher is op 16 Mei 2019 met vonkelwyn, vingerhappies, ’n rooitapyt, uitsoekgaste en sportdemonstrasies (deur Pro-Golfers en Dawie Rothman) aan die media bekendgestel. Derek Alberts en Janina Oberholzer was die gashere vir die aand en gaste, soos Roelene Strauss, Pieter Cloete, Johan Vorster, Kurt Darren, Arno Jordaan, en vele meer het dié spoggeleentheid bygewoon.

Dit was ’n baie emosionele oomblik toe Jo Black self sy nuwe verhoog ingelyf het met ’n hartroerende weergawe van Chris Stapleton se Fire Away en daarna het Rubber Duc, Janie Bay, Werner Bekker en Free Beer Cover Band vir die res van die vermaak gesorg.

Die mediabekendstelling was ’n onvergeetlike aand en is hopelik maar net ’n voorsmakie van die goeie tye wat op gaste wag wat besluit om hier te kom saam kuier.

Die openingsgeleentheid gaan gevier word met ’n Jo Black-vertoning en die publiek kan ook kaartjies koop om die geselligheid by te woon. Kaartjies vir die opening sal binnekort beskikbaar wees en kan aanlyn bespreek word. Hou gerus hulle blad dop vir meer inligting.

Klik hier om te hoor wat Jo Black sê oor sy teater-restaurant…