fbpx

18 Maart 2020

Jaco Jacobs se 10 gunstelingboeke vir Afrikaanse kinders.

Dis SA Biblioteekweek en ons het by bekroonde kinderboekskrywer, Jaco Jacobs, gaan uitvind watter tien boeke hy vir elke jong boekwurm se leesrak sal aanbeveel … Van ou gunstelinge tot splinternuwe aanbiedings het hierdie lysie ‘n boek vir jou.

Pippie Langkous – Astrid Lindgren

Pippie is nou wel van Sweedse afkoms, maar danksy Nerina Ferreira se briljante vertaalwerk het sy lankal ereburgerskap in Afrikaans gekry. Pippie se avonture is immergroen en vermaak al geslagte kinders. Hoe dan ook anders, as jou volle naam Pippalotta Provianda Rolgordyna Kruisementa Efraimsdogter Langkous is, en jou pa is ’n skeepskaptein wat koning van ’n mensvreter-eiland geword het, en jy het hope geld, ’n apie genaamd Meneer Jakobs – en jy is sterk genoeg om ’n perd op te tel!

Kleuterverseboek – D.J. Opperman

As daar een boek is wat ná jare steeds ongetwyfeld op elke Afrikaanse kind se boekrak hoort, is dit dié een. Ma, Pa, Oupa en Ouma moet sommer reeds wanneer die eerste pienkvoet op pad is by Opperman gaan kers opsteek sodat hulle kan seker maak die kleinspan maak kennis met van die bekendste Afrikaanse kinderverse. Geen Afrikaanse kind behoort groot te word sonder rympies soos “Karalie! Karool!”, “Trippe, trappe, trone” en “Wielie, wielie, walie” nie.

Babalela – Martie Preller (skrywer) en Andries en Erica Maritz (illustreerders)

Dié klein pers bosbewonertjie en sy maats het oor die jare diep in kinderharte ingekruip. Daar is iets bemagtigends aan die “Los my uit!”-refrein wat soos ’n goue draad deur al die stories in die reeks loop.

Maroelaboomstories – Leon de Villiers

’n Lys soos dié sal nie volledig wees sonder ’n boek met lekker dierestories nie. Leon de Villiers is op sy beste wanneer hy oor diere van Afrika en die natuur skryf, en die prettige stories wat die trop bobbejane in Maroelaboomstories vir mekaar opdis, sal jong lesers se tone laat omkrul van lekkerkry.

Liewe Heksie – Verna Vels

Liewe Heksie het uiteraard geen bekendstelling nodig nie. Wyle Verna Vels se uitgewers sorg daarvoor dat Heksie se stories steeds in verskillende uitgawes voortleef, sodat kinders van verskillende ouderdomme dit kan geniet.

Lena se bottelboom – Wendy Maartens (teks) en Anna-Carien Goosen (illustrasies)

Een van die aangrypendste prenteboeke wat ooit in Afrikaans verskyn het, oor ’n dogtertjie wat met die verlies van haar ma moet leer saamleef. In bedrieglik eenvoudige, liriese taal geskryf deur Wendy Maartens, met lieflike illustrasies deur Anna-Carien Goosen.

Slym se stories – Fanie Viljoen

Dié reeks stories vir lesers wat pas self begin lees het, is kleurvol deur Fanie Viljoen self geïllustreer. Slym en sy vriende by die paddaskool sorg vir prettige vermaak propvol slymerige avonture.

Die storie van die molletjie wat wou weet wie op sy kop gedinges het – Werner Holzwarth (teks) en Wolf Erlbruch (illustrasies)

Dié boek is uit die oorspronklike Duits vertaal, maar danksy die feit dat die briljante Linda Rode die vertaling gedoen het, én omdat die storie so ’n briljante, bolliebesaaide speurverhaal-in-die-kleine is, verdien dit ’n plekkie op my lys.

Die beste Suid-Afrikaanse spookstories – Wendy Maartens

Ek is op die oomblik nogal in ’n nostalgiese bui, daarom het ek dié boek ook ingesluit. Spookstories is immers van die lekkerste leesstof waarop jy as kind jou hande kan lê, en elke Afrikaanse kind moet een of ander tyd kennis maak met die Heks van Hexrivier, die spook van Uniondale en ’n paar van C.J. Langenhoven se spookstories.

Mallemeuleman – Philip de Vos

Philip de Vos se pittige, klankryke verse vermaak reeds geslagte Afrikaanse kinders, en Mallemeuleman, ’n keur uit sy kinderverse en limerieke wat oor die jare verskyn het, is ’n boek vir oor en oor lees.

Vir meer oor Jaco Jacobs klik hier.

Suid-Afrikaanse Biblioteekweek (16 – 22 Maart 2020)

Biblioteke is #onmisbaar vir ons en ons kinders. As jy wil bydra tot jou kind se geletterdheid en liefde vir lees, is jou plaaslike biblioteek net die plek om gereeld te besoek. Sluit aan by die biblioteek en maak dit ’n weeklikse uitstappie. Boeke en lees maak wêrelde oop en Afrikaans.com kan die belangrikheid van ons biblioteke en die rol wat hulle in ons kinders se geletterdheid en uitbreiding van kennis speel, nie genoeg beklemtoon nie.

Lees ook:

Agt maniere om lees lekker en maklik te maak. Klik hier.

Jou biblioteek … daar waar boeke in jou oor fluister. Klik hier. 

Lees – die sleutel tot leersukses. Klik hier. 

Tien redes hoekom hardoplees vir jou kind werk. Klik hier.

Story Power – ’n gids om lees en skryf by jou skool te bevorder. Klik hier.  

Kom ons lees weer Afrikaans. Klik hier. 

Lekkerleesboekrak. Klik hier. 

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.