Jaco Jacobs is die eerste ware rock-ster van Afrikaanse kinderliteratuur

“Jaco Jacobs is die eerste ware rock-ster van Afrikaanse kinderliteratuur. Sy aanhang onder jong lesers (en hulle ouers) is ongekend en hy het sedert 2001, toe sy eerste boek verskyn het, ʼn enorme rol daarin gespeel om talle lewenslange lesers te kweek. Daarby is hy ’n absolute plesier om mee te werk – toegewyd, nederig en met ʼn heerlike sin vir humor.” Miemie Du Plessis verantwoordelik vir Produkontwikkeling by Lapa

ʼn Welverdiende benoeming vir Jaco Jacobs

Om Afrikaans te laat dans in ʼn vrolike hopgalop is iets wat Jaco Jacobs inderdaad kan doen. Velerlei kreatiewe loslit kinder- en kleuterrympies het al uit sy pen verskyn en daar gaan nie ʼn Eisteddfod verby waarin een van die deelnemers nie wys hoe heerlik Jaco se woorde in Afrikaans kan dans nie. Alita Steenkamp het met Jaco gesels.

Hierdie jong skrywer van Bloemfontein, net 38 jaar oud, het meer as 140 kleuter-, kinder- en tienerboeke op sy kerfstok. Asof ʼn lang bibliografie nie genoeg is nie, raap hy boonop die een na die ander toekenning op waarmee sy skryfwerk beloon word. Dit sluit in: die Alba Bouwer-prys, die CP Hoogenhout-medalje, die Exclusive Books/IBBY-prys, die Tienie Holloway-medalje, en 24 ATKV-Kinderboektoekennings. In November vanjaar is twee boeke van Jaco by die jaarlikse Suid-Afrikaanse Letterkundetoekennings, beter bekend onder die Engelse akroniem SALA, bekroon in die kategorie vir kinderboeke.

In ʼn gesprek met Jaco, verklap hy dat Afrikaans so deel van sy grootwordjare was, soos die Karoobossies in die omgewing, die oop blou hemel en die wye flonkerende uitspansel saans wanneer die son wegsak. Hy het op Carnarvon grootgeword, en die tweede sin wat hy gewoonlik gebruik wanneer hy dit noem, is om te verduidelik presies waar Carnarvon in die Groot Karoo geleë is. Jaco lag en sê sy pa is hoeka een van die mense wat altyd vertel dat Engels in daardie geweste, in die tyd toe Jaco ʼn kind was, bloot net gebruik is as selfverdediging.

Jaco het pas weer bewys dat Afrikaans geen tree hoef terug te staan vir enige ander taal nie. Hy is onlangs benoem vir die Carnegie-medalje, Brittanje se oudste en mees prestigeryke literêre prys vir kinderboeke. Die Engelse vertaling van Jaco se bekroonde jeugroman, ʼn Goeie dag vir boomklim, het hierdie uitsonderlike prestasie behaal. Jaco het reeds ʼn hele paar jaar gelede internasionale sukses met die verhaal gehad. Dit is gekies as een van die wenners in die In Other Words-kompetisie. Hierdie kompetisie word deur die Britse Boektrust geborg en die wêreldwye Engelse regte van die boek is in 2017 aan ʼn Britse uitgewery verkoop.

Ten spyte van al die bekronings, die geleenthede wat oor sy pad gekom het, twee flieks wat reeds gemaak is van boeke wat Jaco geskryf het, bly hierdie jongman nederig en wil hy dadelik die eer aan ander uitdeel.

“Daar is soveel mense betrokke by ʼn boek soos hierdie en daar gaan soveel werk daarin. Lapa wat die boek in Afrikaans uitgegee het en jare lank gewerk het om die boek oorsee te kry en iemand soos Kobus Geldenhuys wat die boek in Engels vertaal het en toeganklik gemaak het vir daardie mark, moet ook vermeld word. Ek voel die eer kom nie net na my toe nie. Die Carnegie-medalje is regtig een van die grotes in die internasionale kinderboekbedryf. Skrywers soos Terry Pratchett, Sharon Creech, Philip Pullman en Neil Gaiman het dit al gewen. In my heel wildste drome sou ek my nooit eens kon voorstel dat my naam op die lys benoemings daarvoor sal verskyn nie. So, ek is nog ietwat bewerig daaroor – maar ook ongelooflik dankbaar,” kom ʼn vinnige verduideliking.

Wat inspireer hom?

Jaco sê as kind het hy ook prettige boeke verslind. Hy was mal oor die skryfwerk van Roald Dahl en dan het Pippie Langkous, Liewe Heksie, Karelsen-op-die-dak en Asterix ook oneindig baie plesier verskaf. Vir Jaco is dit besonder belangrik om toeganklike boeke te skryf. Hy sê sy nie-amptelike leuse as skrywer was nog altyd om aan kinders stories gee waarby hulle kan aanklank vind. Daarom moet die stories tot hulle eie leef-, taal- en ervaringswêreld spreek.

Vars uit sy pen

Daar het pas drie nuwe boeke van Jaco verskyn, gereed vir die Kersmark. Die eerste, Die dag toe Ernst ʼn ertjie geëet het, is ʼn guitige rymende pretboek met ʼn verrassende einde, gemik op enige kleuter met fiemies. Die tweede, Op my planeet – Die beste rympies van Jaco Jacobs, is ʼn reuse-rympieboek met Jaco se gewildste verse wat oor al die jare verskyn het, daarin opgeneem. Die derde boek, Rondomtalie, is ʼn keur uit Jaco se kleuterversies wat deur Karen Ahlschläger geïllustreer is. Anna Davel het die knap toonsettings daarvan gedoen en sing ook hierdie 30 versies op die CD.

“My twee dogtertjies het die eerste paar dae pal daarna gesit en luister,” lag Jaco. “Ek kon nooit dink dat enigiets wat ek in my lewe geskryf het, sulke mooi liedjies kan maak nie. Anna het ʼn fantastiese werk gedoen.”

Al sou ʼn mens verwag dat die twee blomme van hom en sy vrou Elize, Mia en Emma, die groot inspirasie agter sy skryfwerk is, skud Jaco sy kop. Daar is tyd vir heerlike rondspeel met die taal wanneer hulle sit en rympies maak of ‘nonsenswoorde’ soos “boemtjakketjak” uitdink, maar wanneer hy aan die skryf raak, is dit in die eerste plek vir hom belangrik dat hýself die storie geniet.

“Dit is altyd wonderlik om te hoor dat my skryfwerk vreugde bring, maar vir my is skryf eintlik ʼn baie selfsugtige ding. Dit moet in die heel eerste plek vir myself pret verskaf, want ek is die eerste leser. Wanneer ek by my rekenaar sit en werk, en ek begin lag vir iets wat ek geskryf het, dan is ek altyd bly. Hopelik sal dit dan later eendag iemand anders ook laat lag. Ek skryf vir my eie vermaak en vir my eie pret! As kind was ek daardie outjie wat met sy kop in die storiewolke geleef het en die een na die ander boek verslind het. Dit het oor die jare nog nooit verander nie. Eers as ʼn storie kant en klaar is, mag Mia en Emma dit hoor!” sê hy.

Watter heerlikheid is dit nie dat ons in Afrikaans ʼn jeug- en kinderverhaalskrywer het wat ons op internasionale vlak net so trots kan maak soos wat skrywers soos Deon Meyer, Marita van der Vyver, André P Brink en vele meer al gedoen het. Vir Jaco is dit eintlik die mees logiese ding in die wêreld: Om in Afrikaans te skryf!

“In my eie loopbaan is Afrikaans sonder twyfel #onmisbaar,” sê hy. “Afrikaans is doodeenvoudig die taal waarin ek dink, die taal waarin al my karakters en stories lewe kry. Ek kan my dit nie anders voorstel nie!”

’n Brulpadda in my tas

Almal gil en skree,

daar is chaos in die klas;

al dié bohaai net oor

die brulpadda in my tas.

Juffrou gil benoud:

“VAT DADELIK WEG DAAI DING!”

Hoekom? Sy’t dan gesê ons mag vandag

ons troeteldiere skool toe bring.

– Uit: Op my planeet: Die beste rympies van Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers)