Innibos se Storie-krôl

Innibos 2018 – Foto’s verskaf

Marlene du Toit het die geleentheid aangegryp om boeke op ʼn opwindende manier na kinders te bring.

Lees verruim ʼn kind se wêreld, maak dit eindeloos groter as die gemeenskap of die kultuur of die land waarin hy of sy grootword. Stories leer ons om die wêreld deur ander mense se oë te sien, om met empatie te leef en respek vir ander mense se binnewêreld en sienings te hê en daarin lê die eintlike groot waarde van stories. – Jaco Jacobs

Al gewonder of die koerantberigte en artikels oor kinders se taalvaardighede wat dramaties versleg die waarheid is? Ongelukkig is hierdie beslis nie fopnuus nie. Redes hiervoor is onder meer ouers se besige leefstyl, ma’s en pa’s wat harder moet werk om die pot aan die kook te hou, en ouers wat elke vrye oomblik met ʼn selfoon besig is. Dit was juis die verswakkende taalvaardighede van die voorskoolse kleuters in haar kleuterskool in Nelspruit, Mosaïek Opvoedkundige Sentrum, wat Marlene du Toit tot aksie aangespoor het. Marlene, ʼn opgeleide preprimêre leerkrag, het na haar studies aan die Universiteit van Pretoria vir tien jaar in Engeland gewerk voordat sy en haar gesin teruggekeer het na Suid-Afrika. Sy het die Mosaïek Opvoedkundige Sentrum in 2009 geopen.

Hoe skep jy ‘n leser?

Die feit dat kinders al hoe minder in staat is om dinge te kan benoem en kategoriseer, is een van die dinge wat Marlene al hoe meer bekommer. Sy het begin rondspeel met idees hoe om boeke meer toeganglik vir kleuters te maak. Marlene deel die siening van die Amerikaanse skrywer, Emilie Buchwald: Kinders word lesers op die skoot van hulle ouers. Die enigste manier om ʼn leser te skep, weet sy uit ondervinding, is om reeds van ʼn baie vroeë ouderdom af vir ʼn kleutertjie voor te lees. Haar eie kinders het hierdie voorreg gehad, en sy sou hierdie voorreg graag ook met ander kleuters wou deel.