In die voetspoor van sy voorvader –

Ontmoet vir Francois Lion-Cachet

Klyntji.com

Dit het in ’n goue era ontstaan net voor die 1900’s, toe weer in die volgende Voëlvry-tyd en vandag is dit iets wat vrydenkendes se aandag gryp. Dit het ’n vars en jong aanslag wat grense verskuif …  idealisties … gedrewe …

Ontmoet vir Francois Lion-Cachet, die agter-agterkleinkind van  Jan Lion-Cachet (sy oeroupagrootjie), een van die stigters van dié heel eerste Afrikaanse tydskrif.  Francois sit nou die werk voort in die kuberruim.

“Die site se golden thread is identiteit; wat dit beteken om ’n jong, free-born, ingeligte millennial Afrikaanssprekende te wees – van enige ras. Identiteit is die groot vraag vir die jeug, en arts en culture is wat die pad vorentoe bepaal – in enige taal, nie net Afrikaans nie.”

Aweregs en oorspronklik

“Ek het die eerste keer van die tydskrif gehoor deur Oppikoppi se social media. Dit was in 2012 en ek was in my matriekjaar en alreeds besig om websites te design. Toe ek van die tydskrif lees, toe spark daar onmiddellik iets binne-in my. Love at first sight? Ek was geïnteresseerd veral weens Jan Lion-Cachet (my oeroupagrootjie) se rol in die eerste literêre werke in Afrikaans. Ek gaan lees toe op – en hy het die naam voorgestel en als! Alles het op daai oomblik bymekaargekom. My belangstellings, heritage en die bekoring vir Ons Klyntji – nou saamgevleg in Klyntji.com! Ons peper hom met ’n paar vrae.

Hoekom jy?

Wel, Ons Klyntji as die eerste Afrikaanse tydskrif, is in die jaar 1896 in die Paarl gestig. Dit het sowat 10 jaar lank verskyn, totdat die Suid-Afrikaanse oorlog en gepaardgaande finansiële druk dit laat doodloop het. In die 1940’s/1950’s was daar ’n poging tot herlewing deur ’n groep Vrystaatse onderwysers, maar relatief min is hieroor bekend. In 1996 het Koos Kombuis, ’n eeu na die eerste verskyning, weer ’n uitgawe uitgegee as ’n anti-apartheid protes-zine, en in 2000 het Toast Coetzer en Erns Grundling die leisels by hom oorgeneem.

Jan Lion Cachet, my oupa se oupa, was ’n stigterslid van Ons Klyntji. Hy het ’n leidende rol gespeel by die Eerste Afrikaanse Taalkongres waar daar besluit is om ’n Afrikaanse tydskrif in die lewe te roep. Hy het die naam Ons Klyntji voorgestel – die leuse Klyn Begin – Anhou Win sluit hierby aan. Hy is ook bekend as een van die eerste Afrikaanse skrywers en digters.

Ek het vir die eerste keer in 2013 van al hierdie dinge verneem, toe ek 19 was. ’n Liefde vir taal en kultuur het nog altyd vanself gekom. Met die dat ek met die internet grootgeword het, het dit soos ’n vanselfsprekende bymekaarkoms gevoel om Ons Klyntji aan die internet bekend te stel. Klyntji.com is toe in 2014 gebore, waarvan ek redakteur is.

Hoe kies jy die inhoud?

Regoor Ons Klyntji se geskiedenis was dit die tydskrif se oogmerk om nuwe stemme en uitkyke ’n platform te gee – werk wat nie sommer elders gepubliseer sou word nie. Die publikasie was nog altyd redelik stroomop. Beide gevestigde en opkomende skrywers en kunstenaars dra inhoud by, en die gedrukte Ons Klyntji publiseer lankal nie net meer in Afrikaans nie.

Die onafhanklike webjoernaal Klyntji.com handel oor kulturele en politiese identiteit en uitdrukkings daarvan. Afrikaanssprekendes bevind hulself in ’n veranderende Suid-Afrikaanse landskap: wat dit beteken om Afrikaans te wees, met inagneming van haar wye verskeidenheid subkulture en identiteite, word gereeld bespreek. Klyntji word voortdurend ingelig deur teorie oor ras, taal, geslag, seksualiteit en hoe dit esteties oorgedra word deur hedendaagse kuns en kultuur regoor die wêreld.

Ons redaksionele beleid noem dat vryheid, menswaardigheid en gelykheid bedreig word deur ’n verskeidenheid sosiopolitiese faktore. Oorbevolkte lewe in die antroposeen, met kapitalisme as dryfkrag, veroorsaak groeiende ongelykheid en onherstelbare omgewingskade. Tegnologie en die internet het die manier waarop ons leef verander met nuwe uitdagings, maar ook nuwe geleenthede.

Die publikasie gebruik Afrikaans as ’n taal tussen tale om kulturele grense te oorskry, deur die vertel van diverse en progressiewe stories. Die stories gaan teen rassisme, patriargie en toksiese manlikheid, homofobie, transfobie, body shaming, seksisme en geslagsgebaseerde geweld, beperkende geslagsnorme en skadelike dogma. Ons fokus nie op die negatiewe nie, maar staan dit in effek teen deur die blootstelling van uiteenlopende kuns, kultuur, musiek, literatuur, ontwerp en opvoerkuns wat ’n meer gelyke, aanvaardende en inklusiewe Globale Suide (Global South) bevorder.

Bygesê, Klyntji is nie heilig oor taal nie. Die oorspronklike doelwit van Ons Klyntji in 1896 was om mense aan te moedig om te “skryf soos jy praat”. ’n Paar omies het al gekla oor ons taalgebruik, maar ten minste gebrúik ons dit. Vat so!

Wat is jou skakels met Toast en Erns?

Mederedakteurs Toast, Erns en Alice Inggs, saam met ’n span medewerkers, gee nog elke jaar ’n nuwe jaargang van die gedrukte Ons Klyntji uit. Om jou werk in druk te sien en om dit vas te hou, bly iets wat ’n digitale weergawe nie kan troef nie. Die Ons Klyntji-zine (little magazine) verwys terug na Klyntji.com as webjoernaal en vice versa. Hier en daar oorvleuel inhoud, al is Klyntji meer visueelgedrewe, aangesien daar nie ’n beperking is aan spasie of kleur nie; ons kan video’s, gifs en klank deel. Die zine deel dan weer alleenstaande gedigte en illustrasies, saam met ander dinge wat beter in druk werk. Die aanslae verskil, maar ek glo ons vul mekaar aan.

Ek het in 2014 Toast en Erns genader oor my planne rondom Klyntji.com en het met Toast ontmoet tydens daardie jaar se Aardklop. Die voorwaarde was dat dit “net nie k ** moet wees nie”. Toast het ook seker gemaak dat ek weet na watter kant die “ ’n” se afkappingsteken wys. Ek is dankbaar dat hulle Klyntji die ruimte gun om te groei. Koos Kombuis is ook baie ondersteunend – ’n hoogtepunt was toe hy vir my ’n klompie van die 1990’s se Ons Klyntji’s as Kersgeskenk gepos het.

Die webwerf het nóg vertakkings tot gevolg gehad. Daar is Klyn Deuntjies deur Joe Botha, waar Ons Klyntji gedigte en kortverhale deur die skrywers daarvan opgeneem word en in moody tracks omskep word, Dis Net Jy wat dien as aanlyn platform om ongesensureerde gedigte en gedagtes te deel (dit word ook ontwikkel as ’n app) en Klyntjies, ’n unieke samewerking met Juanita Kotzé en geselskap waar Klyntji treffende visuele stories debuteer.

Hoe beïnvloed jou taalstryder-van en -erfenis jou besluite op kulturele gebied?

As daar een ding is wat die Lion-Cachet familielyn histories meer verteenwoordig as die taalstryd maak, is dit Calvinisme – dit het immers ’n paar professore in teologie opgelewer. Daar is natuurlik ook ’n sterk band met die Noordwes-Universiteit (voormalige PU vir CHO), waarvan Jan Lion Cachet stigterslid en rektor was, en waaraan my oupa professor in teologie was. Eie aan die gelykenis van die verlore seun, of ’n swart skaap, het ek meer van ’n queer humanis uitgedraai. Ek bemoei myself met hoe Afrikaans gebruik is om mense te onderdruk, en hoe om hierdie historiese geweld in ’n konstruktiewe en positiewe manier teen te werk. Al is my bydraes van ’n ander aard as die van my voorvaders, bly ek gesteld om nie die baba met die badwater uit te gooi nie. Ons moet bou aan die verlede.

Jy dra ook ander hoede as Ons Klyntji. Hoe beïnvloed die feit dat jy Afrikaans is jou lewensuitkyk en besluite in hierdie wêreld?

Ja, ek werk as assistent-kurator van die Konstitutionele Hof se kunsversameling in Johannesburg, ’n merkwaardige omgewing om van deel te wees, ná vorige werk in die kunste aan die Noordwes-Universiteit. Ek is tans ook besig met my LLM in mediareg, ook aan die NWU, vanweë ’n diepere belangstelling in die belangrikheid van vryheid van uitdrukking en ’n vrye pers.

Ek leef nie primêr in ’n Afrikaanse wêreld nie. Ek kry daagliks te doen met uiteenlopende mense van verskeie agtergronde met diverse uitkyke en opinies. Ek stel myself bloot aan soveel kuns en kultuur as moontlik. Ek sal altyd Afrikaans bly en is nie skaam daaroor nie, maar ek bly bewus van die verlede se invloed op die hede. Nou dat ek hier is, staan ek wel my plek vol.

Lees meer oor Ons Klyntji hier.