In Australië laat die Afrikaanse klub Afrikaans leef!

“Die Afrikaanse klub is nie net vir die beywering en voortbestaan van Afrikaans nie, maar ook om nuwe ‘Aussiekaners’ te help om hulle voete te vind.” – Jannie Bloem, stigter van die Afrikaanse klub in Australië.

Voormalige Pretorianers, Jannie Bloem en sy vrou, Fransie, het 21 jaar gelede Suid-Afrika vir Australië verruil. Saam met hulle twee seuns, Charel en Devon, het die gesin hulle nuwe tuiste in Brisbane gemaak en staan hulle huis sedertdien altyd oop vir ander Suid-Afrikaners. Trouens, dis deur die seuns se toedoen dat ’n boereworsrol selfs vir gebore en getoë Australiërs deesdae ’n lekkerny is!

Jannie en Fransie Bloem saam met hulle seuns, Charel en Devon. (Foto: Netwerk24)

Van vier gesinne tot duisende lede

Destyds was die verlange na hulle geboorteland daar in die vreemde groot. Dit was dan ook die rede waarom Jannie 19 jaar gelede die Afrikaanse klub gestig het.  Sê Jannie: “Die grootste behoefte naas braai, is samesyn met mede-Suid-Afrikaners.” ’n Behoefte waaraan die klub beslis voldoen te oordeel aan die duisende lede wat lidmaatskap betaal.

Daar word jaarlikse drie kuierkampe gehou en die jaarlikse Paas- en Geloftediens is ook baie gewild. Kerstyd is die verlange na ’n mens se familie groter as gewoonlik. Die spesiale kamp kompleet met Kersvader wat geskenke uitdeel, is dan ’n groot hoogtepunt.

Afrikaanse kultuur word gehandhaaf

Suid-Afrikaners hou van hulle Afrikaanse musiek en die klub nooi jaarliks Afrikaanse kunstenaars uit om by die kampe op te tree. Daar word ook ’n kamp vir die kinders gereël. Tydens die kamp word potjiekos-kompetisies gehou en neem die kinders aan boeresport deel.

Boereworsrol – ’n Suid-Afrikaanse lekkerny – is selfs in Australië gewild

Boeresport (Foto: Randburg Sun)

Potjiekoskompetisie (Foto: Joburg.co.za)

Hulp vir diegene in die knyp

Baie alledaagse dinge verskil wanneer ’n mens jou in ’n vreemde land bevind. In Australië geld daar byvoorbeeld ander reëls wanneer ’n mens jou leerling- bestuurslisensie wil bekom. Dit is in sulke gevalle waar die Afrikaanse klub en sy lede van groot hulp is en die nuwe ‘Aussiekaners’ met raad en daad bystaan.

Lees gerus die volledige artikel deur Isabel Venter op Netwerk24. Klik hier.