Ingrid Jonker-prys 2017 – Duende: Die plofkrag van poësie

Ingrid Jonker-prys 2017
Die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse debuutdigbundels wat in 2015 en 2016 gepubliseer is, is pas bekend gemaak. Die prys word jaarliks beurtelings aan ’n Afrikaanse of ’n Engelse debuutdigbundel toegeken – die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het.

Die volgende bundels verskyn op die kortlys (in alfabetiese volgorde volgens die digters se vanne): Hendrik J Botha se Atropos, Bibi Slippers se Fotostaatmasjien en Hilda Smits se Die bome reusagtig soos ons was. Die wenner word op 1 September bekend gemaak en die prys word op 16 September by die Tuin van Digters in Wellington oorhandig. Lees meer.

In hierdie artikel, bespreek Tessa Louw duende en veral die voorkoms van duende in Afrikaanse gedigte.

Daar is gedigte wat oor ‘n mens se pad kom, ‘n rukkie onder die oog of op die oor huiwer en dan weer aanbeweeg. Dan weer is daar gedigte wat hulle by jou aanmeld, jou wind uitslaan en die geheue binneval en annekseer; gedigte wat verseg om aan te beweeg.

Frederico García Lorca

Die Spaanse digter en dramaturg, Frederico García Lorca, na jare van oordenking, formuleer die estetika van duende in ‘n lesing, “Juego y Theoria del Duende” (Spel en Teorie van die Duende) wat hy in 1933 in Buenos Aires lewer.

Lees A.S. Kline se vertaling van Lorca se lesing hier.

Lorca se duende vat hande met Goethe se ervaring van Paganini se vioolklanke.

“The duende, then, is a power, not a work. It is a struggle, not a thought”
[Lorca]

Vir Lorca is die duende ‘n misterieuse energie, ‘n aardgees, kreatiewe inspirasie en die dwingende begeerte om kuns te skep. Duende opsigself is onverklaarbaar en kan nooit werklik by wyse van ‘n enkele definisie vasgepen word nie. Volgens Lorca kan duende ook nie rasioneel weggedink word nie en assosieer hy duende met sigbare angs, irrasionele begeertes, erotiek, demoniese entoesiasme en ‘n fassinasie met die dood. Ons kan dan ook sê dat duende kreatiewe inspirasie is in die teenwoordigheid van die dood, omdat daar ‘n element van angs en vrees by gedagte aan verganklikheid ontstaan en dat die digter dan by wyse van sy gedig die dood, momenteel, transendeer. Duende sal hom waarskynlik nie by die digter aanmeld as hy nie die moontlikheid van dood bespeur nie.

Elektrifiserende stroombaan

Duende is ‘n elektrifiserende krag wat deur ‘n gedig vloei. Dit is nie ‘n gedagte nie, maar ‘n bewustelike stryd en verg roekelose waagmoed aan die kant van die digter.

Die duende verwond, hy trek bloed en stoei met die digter op die rand van ‘n afgrond. Oor hierdie wond mag daar dalk ‘n roof groei, maar hy genees nooit ten volle nie. Duende sit huis op in die donker skadu van die gees en hy vereis altyd emosie – altyd! Taal word tot op breekpunt onder die gewig van emosie geplaas. Middelmatigheid staan hom nie aan nie en hy vermy poësie wat emosioneel gebalanseerd is; daardie gedig waarin emosie getemper is tot middeltoon van die rede. Inteendeel, hy dring aan op donker klanke, op diepsang (canto jondo) en verwerp mooisang. Hy vereis nie dissipline nie; hy bruis deur die bloed; hy walg en put jou uit en hy verwoes alle bestaande style en bring vernuwing; vernuwing wat ekstase bring soortgelyk aan religieuse euforie.

“Duende is a wind that breathes through the empty arches over the heads of the dead; it is the wing of a wounded hawk that floats through the crushed grass and flares out of the swollen side-walks; it is a dream that mocks the bloody mockingbird and flees through the empty subway tunnels and soars out of the broken chest of bridges; it is a joy that burns and a suffering that scalds, like hot ice; it is a cry that rises out of the human body and annunciates the constant baptism of newly created things.”[Lorca]

Melt Myburgh

duende

dié gedig sneuwel in my hand

ek mis jou ek verlang ek wil aan
jou raak seën my met jou lippe
bederf my met jou hande wys my
af stal my uit beroof my van alles
draai my om eet my op ek sal jou
koester seun van my welbehae.

(Melt Myburgh)

En dan sê Lorca ook dat ‘n teks of die gedig slegs egte kuns is wanneer duende teenwoordig is.

Begrip vir die menslike kondisie en vir liefde word eenvoudiger en meer toeganklik gemaak wanneer duende teenwoordig is. Dit bring met hom saam ‘n universele waarheid wat instinktief aangevoel word, maar nie noodwendig verklaar kan word nie. Duende laat rillings teen jou ruggraad afhardloop; dit laat ‘n vloed van emosie opwel en die intensiteit daarvan raak byna ondraaglik. Duende gryp nie net die digter aan nie, maar ook die gehoor of die leser.

Die digter skryf nie ‘n gedig sodat sy leser of gehoor daardeur beïndruk of tevrede gestel moet word nie. Hy skryf omdat hy móét; omdat hy iets op die hart het. Hy skryf sodat hy die ware self kan ontdek. Aan die begin van haar gedig “skryfode” (Kleur kom nooit alleen nie) sê Antjie Krog:
om te kan skryf moet ek myself binne kom
deur my te buite te gaan
ek verlaat die daglig
die sleur van gefabriseerde stemme
en gaan ondergronds (p. 66).

Digterlike inspirasie word geput vanuit twee bronne

In die eerste plek word die digter geïnspireer deur die teleurstellings en wonders van die konkrete wêreld waarbinne hy leef – mense, geliefdes, die natuur, die kosmos, die politiek en alles wat feitlik bestaan en waarneembaar is. Om vanuit hierdie wêreld poësie te skep, vra kennis, ondervinding, repetisie, waarneming ens. Dit is moontlik vir die digter om sy kuns te beoefen met slegs hierdie dinge tot sy beskikking. Baie digters doen.

Tweedens kan die digter ook inspirasie vind in die onsigbare, misterieuse sfeer binne die fisiese wêreld waarin hy leef en probeer hy dit dan vir homself verklaar of ontsyfer. Hy probeer sin maak van dit wat sinloos blyk te wees. Hy roep ‘n verbeelde werklikheid op deur sy kreatiewe gees vlerke te gee. Metafore en vergelykings is dikwels surrealisties. Vir die digter wat oortuig is van duende is dit hierdie malse wêreld wat nie streng bewaak of omgrens is nie wat die grootste gewig dra tydens die kreatiewe skryfproses. In híérdie wêreld is rede, styl, onderrig en ervaring slegs bruikbaar in so verre dit die digter se waagmoed aanvuur en bydra tot die intellektuele flinkheid van sy intuïsie.

“Die plofkrag van poësie lê vir my in beeldspraak.” [Melt Myburgh]

Gedigte wat ‘n mens diep emosioneel aangeraak, is die gedigte wat jou sal bybly. Dit is ook daardie gedigte waarin die menslike kondisie eerlik verwoord word wat volstrek weier om die geheue te verlaat. Soos met alle vorme van kuns, vereis poësie ook eerlikheid van die digter om eg te kan opklink in die kamers van die hart. Verse wat oorspronklike en kreatiewe beeldspraak (metafore en vergelykings) omhels, gaan ook nie maklik vergeet word nie.

Wanneer Lorca se duende deur die bloed van die digter bruis en sy gedig elektrifiseer met eerlike, donker klanke sal daardie gedig jou hartsak stukkend skeur en sal jy hom nie kan vergeet nie.

‘n Paar voorbeelde van gedigte wat in my geheue bly vassteek en waarin ek die aanwesigheid van duende aanvoel:

Breyten Breytenbach

• Lieze Stassen sing ‘n verwerking van hierdie gedig in “Om te Breyten” (canto jondo, tener duende).

’n brief van hulle vakansie

vir oubaas:

Noudat ek uitgeswel van lyf is kan ek treur
oor die eelte van my vader, die lugoë van my ma,
die skamel offerandes van hulle gebede as hulle my
op die knieë van hul Gij Here God lê;

noudat ek agter ’n baard kou kan ek huil
as hulle snags my naam fluister met die ruite
donker knippende oë in die wind, oor die visolie
vir my griep, die ingelegde perskes (albertas) op die rak

In sy sestigste jaar swem my pa in Stilbaai se see
en stap myle ver oor die sand met sy reguit bene
in ’n kortbroek en speel krieket op die duine
en eet alikruikels in die Sea View-losieshuis

want hys ’n bokser dokter boer
’n kaptein en ’n held ’n indoena tussen grysaards –
En as die reën soos ’n gesluierde bruid oor die see kom
word die lieflinghond (Trixie) lam;

drie dae veg die veearts en buig dan die knie
en hulle dra die lyk terug na Kafferskuilsrivier
die plaas van hulle jong liefde en plant die saad
’n soenoffer in die diep grond se skoot

want nou is hulle minnaars
stil bome in die najaar met die wind
strelende drome in die takke
onder komete leeftye lang wêrelde

My ooms sterf soos kapok in die son
hartaanval beroerte kanker en tering
en my pa word stiller en meer verskriklik
van dop tot dop

Hier waar die harde winters en nat somers
my lyf ongenaakbaar skil, treur ek oor
die soet hart van my moeder
my pa se stil en bitter krag

(Breyten Breytenbach)

TT Cloete

skering en inslag

die begin was ordinêr: geel maan, plaasstoep

nou hou ek jou voellose hand vas
as jy “Here, hoor my, Here, help” roep
in jou diep ingeslape gebed

ek is bestem om my prewel in te las
“Here, word wakker” sag saamgebid

drie-uur in die nag help ek jou loop na die toilet,
laat ek jou slap liggaam regop sit

ek voel jou terugdink aan die dik los
glansende lang stort van jou harebos

diep in die nag
in ‘n vrugbare terugverlang
na jou jongmeisie-regop haarveergang
met die klein sampioene ferm maar malvalekkersag

dan vee ek jou nat
oë af in myne en ek vat
aan jou heupe en ek interpoleer
my gebede en verlangens met joune heen en weer
sigsag
skering en inslag

ek sien hoe jy oor die 100 tree-hekkies gly
met die skoot oop en die dye
ek sien die sweet op jou moeë voorkop
jy kon die flinkste klop
toe daar nog kalk was in jou bene
ek hou

jou vas en dans met jou
jou skoot is sag voelbaar toegevou
vol liefde steriel

jy het die allersagste vel
‘n fyn antieke griekse profiel

ek proe jou oorlel

snags as ek jou sag hoor snik
en jou nat wronge om jou wange skik

(T.T. Cloete)

Jeanne Goosen

Here
U wat die aarde met die holtes van U hande uitgemeet het
U wat die gewig van elke woord meet – omdat die massa U traak
U wat die skepping in ses dae deurgepyn het
Ek vra vir ‘n oomblik U aandag:
Het U nie dalk my pa gesien nie?
En ken U hom?
Hy stap mank en lyk nog goed vir sy jare
Die begrafniskunstenaar het hom mooi gemaak vir u poorte
Sy mond en wange bloei soos jong rose
En hy dra ‘n wit jurk
Here, en miskien ruik hy nog effens na gas
Maar U sal hom ken aan sy oë
Dié het hul blou vrae behou

Luister U, Here? En mag ek klaar praat?
Daar is nog ‘n paar vrae ook wat ek wil vra:
U sê geen haar sal van die mens se hoof val nie
Of U weet daarvan;
Dat U oral is en ewig
Dan het U mos gesien hy drink die soet gas van verlossing;
Dan was U mos dààr toe die diewe sy lyk besteel het;
En U het nie ‘n vinger gelig nie Here Vader van die diewe
Die blare, die vuur en die slagvelde
Is dit U opdrag dat U herder hom nie moet begrawe nie
Omdat hy nooit tuis in U huis gevoel het nie?
Is dit U wat hom 11 dae in die vrieskas laat lê het?
Wou U dat die vrees naak en sidderend en gestol moes bly
Of wou U hom witter was as wol?
Here,
U wat oordeel uitspreek en verdoem
U wat trooswoorde gee en hulle ook weer wegneem
Beloof my
As Bibberende Piet by U aandoen
Maak U genade aan hom duidelik – en ook U soort apartheid

(Jeanne Goosen)

• Luister na Nicole Holm se die sielvolle voordrag van Jeanne Goosen se gedigte.

Antjie Krog

narratief van klip

‘n landskap soos dié maak my bang
reeds tussen Brandkaros en Bloeddrif steek dit jou onder klip
‘dé ek is klip,’ sê dit
‘net klip
in sy lelikste klipste klip
ja vatso, ek is fokkenklipdiklelik
ék smyt die eerste klip en donnerswil trash wat jy dag berg is of klip
of klip of God is
om teen my uit te hou nodig jy
God én Jesus en ‘n fokken klomp gees
óf drank
jy nodig verskriklik drank
so skiet ek mense oor die kranse weg
of skroei hulle godswart maer in die klipwoestyn’

ek tree terug op die parkeraad se stoep
klip is onsmeebaar lees ek
onoplosbaar
onbepaald
klip het ‘n enkele identiteit
gee my taal vir klip pleit ek
na ‘n dag roepend in die Richtersveld bergwoestyn
ek soek taal
soos: die skitterende wit gebit van klip
soos: klipwaterval kanteldam
hoe lê die klipkraag van verdriet
skrobbeer vandag die hanekam

‘dit bliksemswil rym!
ek’s ding, hoor jy!
kyk my in die oghe, face my
ek is ding
ek verweer brutaal
tot klipskilfers teen kaal helse skuinstes
vieslike deurmekaar klipbleddievlokke
geen klipwoorde gaan jy ooit uit my tap nie
nooit my tot taal kap en kaap nie
ek van hier
jil verby jou slagyster van skeurklip of deurmekaarklip
kots van ‘n reël met smoltklip lekklip of striemklip
ek hoon die klipliewenheid van streelklip
die drolsagte bruikbaarheid van slypklip breiklip wasklip en hangklip
ek’s my eie ding
ek verweer brutaal
ek’s klipbefok
in my klipvel is ek
stoned’

dis lelik hier, dink ek by myself
in die laaste bog wat die Oranje maak voor hy see in bloei

(Antjie Krog)

Ingrid Jonker se graf

Die kind
wat dood geskiet is deur soldate by Nyanga

Die kind is nie dood nie
die kind lig sy vuiste teen sy moeder
wat Afrika skreeu skreeu die geur
van vryheid en heide
in die lokasies van die omsingelde hart

Die kind lig sy vuiste teen sy vader
in die optog van die generasies
wat Afrika skreeu skreeu die geur
van geregtigheid en bloed
in die strate van sy gewapende trots

Die kind is nie dood nie
nòg by Langa nòg by Nyanga
nòg by Orlando nòg by Sharpville
nòg by die polisiestasie in Philippi
waar hy lê met ‘n koeël deur sy kop

Die kind is die skaduwee van die soldate
op wag met gewere sarasene en knuppels
die kind is teenwoordig by alle vergaderings en wetgewings
die kind loer deur die vensters van huise en in die harte
van moeders
die kind wat net wou speel in die son by Nyanga is orals
die kind wat ‘n man geword het trek deur die ganse Afrika
die kind wat ‘n reus geword het reis deur die hele wêreld

Sonder ‘n pas

(Ingrid Jonker)

• Ingrid Jonker lees Die kind is nie dood nie.
• Nelson Mandela lees The child is not dead.

Bronne:

  • Vir die skryf van hierdie artikel het ek gebruik gemaak van Lorca se oorsproklike lesing, Juego y Theoria del Duende (Theory and Play of the Duende) soos uit Spaans vertaal deur A.S. Kline, 2007.
  • http://www.poetryintranslation.com/PITBR/Spanish/LorcaDuende.htm
  • Ek het na die aanwesigheid van duende in Afrikaanse gedigte gekyk.

Breytenbach, B. 1964. Die ysterkoei moet sweet. Johannesburg: Perskor.
Cloete, T.T. 1998. Uit die hoek van my oog. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.
Goosen, J. 2007. Elders aan diens. Parklands: Genugtig!.
Jonker, I. 1963. Rook en Oker. Johannesburg: Afrikaanse Pers.
Krog, A. 2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela Boeke.
Myburgh, M. 2010. Oewerbestaan. Pretoria: Protea Boekhuis.

Foto’s en artikel deur Tessa Louw

Tessa Louw woon in Stellenbosch. Sy is ‘n fotograaf en grafiese ontwerper wat ook skilder en skrywers help met hulle manuskripte. Sy het onlangs saam met Marinda du Toit ‘n animasiefilm, “Perron” vir Filmverse 2 gemaak.