Die Woordenaars se woorde wek …

“Rou, eerlike Afrikaans. Net soos dit is!”  – Sanri van der Walt

Die gebruik om woorde in te span om iets uit te basuin wat jou hart en jou gedagtes tot barstens toe vol maak, strek selfs verder terug as menslike geletterdheid. Lank voor geskrewe taal bestaan het, het mense al in die vorm van gedigte en liedere hulle gedagtes, hartsverlangens en idees as gedigte of liedere uitgeruil aan enigeen wat wou luister.

ʼn Mens loop talle voorbeelde van woorde in versvorm in vroeë Afrikaans raak. Eugène Marais se Winternag wat op 23 Junie 1905 in De Volkstem verskyn het, word egter allerweë beskou as die begin van poësie met letterkundige waarde in Afrikaans.

Vandag is Afrikaanse poësie ʼn ryk erfenis wat bundels vol beslaan. Dit is egter nie bloot net vir ʼn sekere generasie beskore nie, want indien jy iemand is met ʼn kop vol woorde, moet daardie woorde op een of ander manier na buite kom. Dit is altyd lekker om dit met iemand te deel wat daarna wil luister. Soms as lirieke, ander kere gedigte of prosa. Daar is deesdae ʼn sterk nuwe groep poëte in Afrikaans wat op verskeie vlakke ʼn uitstekende bydrae tot die Afrikaanse digkuns lewer. Een so ʼn groep wat bymekaar gekom het juis om hulle digkuns en prosa op openbare platforms met luisteraars te deel, is Woordenaars.

Johan Jack Smith, redakteur van Taalgenoot, het in 2008 as student die alternatiewe musiekgroep Volkspeler begin. Hy het musikante gekry wat hom gehelp het om sy gedigte en lirieke te toonset. Mettertyd het Johan besef hy het heelwat materiaal wat op ander maniere gehoor sal moet word. Daarom het hy op ‘n aand by een van die Dowe Digters-samekomste in Irene, Pretoria van die stories vertel en gedigte voorgedra. Iets waarvan die mense baie gehou het. In 2017 moes Johan iewers gaan optree en hy het besluit om die akteur, Gérard  Rudolf, te vra om ook die verhoog met hom te deel. In die tyd wat Gérard  in Engeland gewoon het, het hy ʼn Engelse digbundel gepubliseer, Orphaned Latitudes. Nadat hy na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy in die Afrikaanse digkringe begin beweeg en so het sy pad met die van Johan gekruis.

Nog twee woordmanne wat ook voorheen dikwels saam getoer en gewerk het, is Kabous Verwoed en Niel van Deventer. Die twee het by Woordenaars, soos wat Johan besluit het om hulle te noem, aangesluit en Paul Riekert van Battery 9, was ook vinnig deel van die groep. Die reaksie op die vertonings was baie goed, en in 2017 het die klomp gereeld kans gekry om op te tree.

Woordmense bly ‘n goeie kombinasie

Op die vraag waarom hulle doen wat hulle doen, antwoord Johan soos volg: “Dit is maar net ʼn geleentheid om ʼn bietjie van ons eie skryfwerk voor te dra. Ek dink die lekker kombinasie tussen die klomp manne wie se style almal verskil, maak dit baie interessant. Dis ook veel beter as om dit op jou eie te doen, want die ander manne se ‘volgelinge’ kom saam en kry weer kans om ander stemme te hoor. Ons skep almal maar relatief donker werk. Gérard gooi ʼn bietjie Engels tussenin, Paul Riekert het ʼn industriële musiekagtergrond en Kabous Verwoed se poësie het geen bekendstelling nodig nie.Elkeen bring iets anders na die tafel. Ons is nou ook almal ʼn bietjie ouer en baie van ons was in bands gewees. Nou gebruik ons Woordenaars as die geleentheid om steeds iets voor te dra sonder om tienuur in die oggend daar uit te stap,” sê Johan.

Gérard Rudolf, akteur en skrywer, sê die ding wat Woordenaars so ʼn lekker projek maak, is dat hulle almal woordmense is wat graag hierdie woorde wil deel. “Vir ons as digters en skrywers bied dit die geleentheid om ons woorde as’t ware in die lug te sit om dit te laat geld. Daar moet dit dan ʼn vibrasie veroorsaak en op mense se oortromme slaan. Die wonderlikste is dan daardie interaksie met die gehoor. Om te sien hoe mense resoneer en reageer op iets wat ʼn mens geskep het, is op ʼn non-egoïstiese manier ʼn baie kosbare ervaring,” sê hy.

Die samesyn maak hierdie projek so lekker, sê Kabous Verwoed wat deesdae ʼn joernalis by Rapport is. “Dis ouens wat nie daar is om shine te vang of oulik te probeer wees nie. Dit is ouens wat ʼn liefde het vir die digkuns en die lewendige oordra daarvan. Party dinge lees ʼn mens en ander dra jy voor. Wat altyd daar is, is die gevoel van samehorigheid. Die mense wat na ons kom luister, doen moeite om na hierdie shows te kom. Hulle is almal lief vir poësie. 99.9 % van die gehoor bly stil en sit rustig en luister na die show. Na die tyd kuier ons ook lekker, so asof daar nie ʼn volgende dag gaan wees nie.”

Kabous lag en sê twintig jaar gelede het hy reg voor die verhoog met groot oë by Oppikoppi gestaan wanneer die groep Battery 9 met Paul Riekert daarin begin gatskop het. “Ek was sy grootste fan, maar nou is Paul my pel en ons is saam in die wêreld se heel enigste Afrikaanse poetry boyband. Wow!”

Paul Riekert hou homself besig met die skryf van musiek vir televisie of teaterproduksies. Hy lag en sê hy gee nog Battery 9-goed uit, maar teen ʼn baie stadige spoed, min of meer die helfte van wat dit aanvanklik was. Soms wanneer hy saam met die Woordenaars optree, sal hy musiek byvoeg. Vir Paul is dit belangrik om in Afrikaans te werk. “Ek is nie ʼn taalbul nie, maar dit is my moedertaal. Ek is lief daarvoor en eintlik versot op al die verskillende aksente. Ek het tale geswot, maar die musiek het my so ʼn bietjie van koers af gekry. Nou is dit baie lekker om by hierdie Afrikaanse projek betrokke te wees. Ek was al voorheen dikwels deel van sulke poësiegeleenthede. Dan het ʼn paar bevreesde, baie skaam poëte, teësinnig op die verhoog gaan staan en vreeslik selfbewus ʼn gedig afgerammel. Met die Woordenaars is dit heel anders. Daar is ʼn bietjie meer selfvertroue en gemak en ons is nie skrikkerig nie. Dis lekker dat elkeen sy eie ding doen en niemand mekaar voorskryf wat om te doen nie. Ek hou van die verskeidenheid in ons optrede. Enige ding, selfs ʼn musikale album of ʼn simfonie, het ʼn bietjie lig en ʼn bietjie donker en ʼn bietjie verskeidenheid, en dis goed,” sê Paul.

In 2018 het die Woordenaars net by twee geleenthede opgetree. Op Saterdag 1 Desember was daar ʼn vertoning by “The Local Culture” in Greenside, Johannesburg. Tydens die geleentheid was die akteur Neil Sandilands, wat deesdae ʼn loopbaan in Hollywood het, ʼn spesiale gas. Johan sê in 2019 sal dit die patroon word om van gaste gebruik te maak. Niel van Deventer het na die Kaap verhuis en dit sal vir hom al hoe moeiliker word om deel van die groep te bly. Een van die musikant/storievertellers wat aangedui het dat hy graag as gaskunstenaar hieraan sal wil deelneem, is Les Javan.

Gérard Rudolf het die laaste woord.

“Iets soos Woordenaars is op ʼn historiese manier nie ʼn nuwe ding nie. Vir ons is dit iets wat ons wil doen, iets wat nodig is om te doen. Soms is daar een persoon wat daarna luister, en ander kere weer baie. Soms raak jou woorde een persoon, soms word honderde daardeur aangeraak. Die wonderlike ding van die woord is dat jy nooit sal kan voorspel wie tuis gaan voel in die huis wat jy gaan skep op ʼn spesifieke aand nie. Daar is aande wat niemand tuis voel daarin nie. Ander aande is mense so deel van die huis wat jy skep, jy voel dan asof jy nooit weer wil ophou nie. Dit laat so ʼn wonderlike gevoel van bonhomie. Wat ons doen is amper soos om ʼn gebed aan mense te bied. Daar is geen manier om te weet wie na die gebed gaan luister nie en wie deur die gebed geraak gaan word nie. Maar die woord is heilig en die gedagte agter die woord, is verskriklik, verskriklik sterk. Die Woordenaars skiet hulle woorde soos pyle na die gehoor. Met daardie pyle hoop ons die gehoor sal wegstap en op ʼn ander manier na die lewe en die wêreld kyk. Om dit reg te kry, sal altyd die groot uitdaging bly.”

Besoek hul facebookblad.

Branders in die hawe

Onthou jy daardie aand in Bertie’s?

Daar was branders in die hawe,

ʼn deining in jou oë.

In daardie dae

het my skepe

nog gelate gevlug,

voor die asem van jou hart.

Bolseilblydskap het gewink

en die toekoms was ʼn magneet.

“Steady as she goes,”

met klinkende glase.

Iewers agter ons,

oom Leonard want

“Everybody Knows,”

toe raak ons loaded

en die aand het skielik

ʼn sluwe streamlined ritme gehad.

Die kroegmanne se gereedskap het geglinster

en die waitress met die lonely oë

het kort-kort,

kop omhoog, betragtend,

die lug gesnuif

en gelyk asof sy na die maan wou huil.

Dieselfde maan het skielik deur die wolke gebreek

en jou in die allerheiligheid gebaai.

Beeldskoon.

Die perfekte oomblik.

Toe gee jy vir my ʼn tequila aan en sê:

“Hierdie gaan in trane eindig.”

© Kabous Verwoed