Die warm, Afrikaanse hart van Rusland

Annie Olivier (uitgewer by Jonathan Ball ) en haar man, Jacques het onlangs Rusland besoek en kennis gemaak met die vrolike, passievolle Afrikaanse studente wat ons liefde vir ons taal met ons deel.

Jacques Olivier, Monika Urb en AnnieOlivier.

“Val in die pad?”

Die vier jong Moskouse studente lyk erg in hul noppies dat hulle die regte uitdrukking beet het. “Ja!” sê ek en knyp myself. Die volgende oomblik stap ons by die relatiewe hitte van die Leningradsky-treinstasie uit om Moskou se ysige strate agter Polina Solovyeva, Sofia Barskaia en Margo Gracheva in te vaar. En ons praat al die pad Afrikaans.

’n Droom word waar

Ek en my man is ewe mal oor die geskiedenis en ons is boonop kinders van die Koue Oorlog wat grootgeword het op Bond-flieks met geslepe Sowjet-spioene en Kinderkrans-gebedjies vir “die mense agter die Ystergordyn”. Dit was dus ’n jarelange droom om Rusland te besoek – Afrikaners se band met die Russe strek immers ook terug na die Anglo-Boereoorlog toe talle Russiese vrywilligers die Boererepublieke kom bystaan het.

Daar sit ons toe een Maandag vroeg in Januarie by die Instituut vir Asiatiese en Afrikastudies aan die Moskouse Staatsuniversiteit met ’n groep van sowat tien tweede- en derdejaarstudente en maak geselsies in Afrikaans. Die besoek het gevloei uit ’n Facebookplasing enkele maande tevore deur prof. Wannie Carstens, voormalige direkteur van tale aan die Noordwes-Universiteit, waarin hy vertel het hoe hy per Skype vir die groep studente klasgegee het. Ek het hom dádelik gekontak en hy het my aan Monika Urb, Afrikaanse dosent aan die universiteit, voorgestel.

Nes die Afrikaners kén die Russe van onthaal, want die groot tafel het gekreun onder blini’s (pannekoeke), Russiese lekkers en gebak en natuurlik tee. Ons gesels oor hulle begeerte om Suid-Afrika en Namibië te besoek nadat ’n vorige klas in 2017 hierheen gereis het, die Suid-Afrikaanse politiek, want dit is ook deel van hul kursus, en natuurlik waarom hulle Afrikaans neem.

Kyk hier na Annie se video-onderhoude met van die studente

Maxim Grishenkin, Liza Kurasheva en Ksenija Raskovic

Hul toewyding is aansteeklik!

Annie, Sofia, Polina, Margo en Jacques se warm glimlagte te midde van die Russiese koue vertel die storie van harte wat warm klop vir Afrikaans. (Foto’s: Annie Olivier)

Maxim Grishenkin, wie se beskrywing op Facebook “Afrikaner” is, sê hy leer Afrikaans “want ek hou van Suid-Afrika, dis ’n baie groot en mooi land en die natuur is ook baie pragtig vir my . . . en uitstekend”. Margo wil moontlik by die Rooi Kruis gaan werk en Helena “begeer om die Suid-Afrikaanse volk te help in die rooskleurige toekoms”.

Die studente se redes om Afrikaans te neem is uiteenlopend, maar het drie dinge gemeen – hul dosent, Monika, se aansteeklike passie vir Afrikaans, die feit dat Afrikaans vir hulle “die mooiste taal in die wêreld is” en klink “soos die kabbeling van ’n stroompie” en hulle totale toewyding om dit aan te leer.

Afrikaans is hulle hoofvak en volgens Monika het hulle daagliks drie tot vier ure lank klas. Sy laat hulle onder meer Afrikaanse rolprente soos Die Wonderwerker kyk, hulle luister RSG en verder moet hulle oefen, oefen, oefen om die taal te praat. Ons het darem ook drie Afrikaans rolprente en leesboeke vir hulle biblioteek saamgeneem.

‘Uitgeboul’

Ons is heeltemal uitgeboul deur die studente se uitstekende Afrikaans én hul gasvryheid. Pjotr, oftewel “Piet”, het ons die vorige week tydens sy studieverlof in sy tuisstad St. Petersburg ontmoet, Christina en twee klasmaats, wat Afrikaans as tweede taal neem, het ons na die Tretyakov-staatsgalery geneem en Lika Gorohova het ons die Kremlin gaan wys. Vir ons besoek aan die Wapenkamer (binne die Kremlin) het Lika sowaar ’n opsomming van die geskiedenis van die versameling – wat Fabergé-paaseiers, ’n rok en pelsjas van Katharina die Grote en koetse van keiserin Elizabeth insluit – geskryf. Natuurlik in Afrikaans.

In Rusland, spesifiek die twee grootste stede St. Petersburg en Moskou, voel dit asof jy om elke hoek en draai ’n stukkie van die wêreldgeskiedenis binnestap. In St. Petersburg, met sy breë boulevards, pragtige kanale en indrukwekkende imperiale geboue is dit sommer maklik om jou fassinasie met die Romanovs en alles wat koninklik is, te voed. Tsaar Nicholas II en sy gesin is in 1998 in ’n sykapel by die Peter en Paul-katedraal herbegrawe, 80 jaar nadat hulle deur die Bolsjewiste tereggestel is.

In die uitstekende Museum van Politieke Geskiedenis van Rusland hang ’n skildery van Nicholas II met etlike lang, geel, vertikale strepe – die onderskrif verduidelik dis hale wat soldate met hul bajonette gemaak het toe die Winterpaleis in Oktober 1917 beset is. Die museum gebruik objekte om die verhaal van die opkoms en ondergang van die kommunisme te vertel. Daar is byvoorbeeld ’n skoolwerkboek met Josef Stalin se foto op, ’n plakkaat met die slagspreuk “Vodka is die vyand, jou spaarboekie die vriend”, ’n inventaris van ’n juwelier se waardevolle besittings waarop die kommuniste beslag gelê het en ’n baadjie en mus van iemand wat na ’n strafkamp in Siberië verban is.

In die hartjie van die Russiese winter

In Moskou is ons asems weggeslaan deur die oorvloed kuns en kultuur, sneeubedekte parke soos die Park van Gevalle Helde waar ’n Stalin-borsbeeld met ’n verrinneweerde neus nou rus en plekke soos die Gulag-museum. Hier kan ’n mens luister na mense soos Anna Tolstoi, die skrywer se dogter, en die skrywer Alexander Solzhenitsyn, veral bekend vir Gulag Archipelago, se verhale oor die onderdrukking van intellektuele tydens die Stalinistiese era en daarna. Een vertrek se vloer lê vol patroondoppies – swart-en-wit-foto’s van strafkampgevangenes flikker teen ’n muur. ’n Ysingwekkende herinnering aan die Gulag se terdoodveroordeeldes.

Ons was in die hartjie van die Russiese winter daar en dit was ons eerste ware kennismaking met sneeu. Vir hierdie kinders van Afrika was dit eenvoudig magies om die sneeuvlokkies uit die hemel te sien neerdwarrel en die sneeu onder ons voete te hoor kraak. Tussen Kersfees en Nuwejaar is die middestad van Moskou ook met die pragtigste liggies versier. Die betowering daarvan het opgemaak vir die min dagligure (maar net ses tot sewe) en die koue wat ten spyte van donsbaadjies en uitgevoerde skoene tog maar deurkruip.

Net so droomagtig soos die sneeu was, so was daar amper iets onwerkliks aan ons ontmoeting met die Russiese studente – ek moet myself stééds knyp. Ek is só bederf deur die ervaring dat ek teen dag vier in ’n onbedagte oomblik “dankie” sê vir ’n dame wat my jas by ’n bewaarkamer inneem. Almal in Moskou praat dan Afrikaans! Ek het dit darem gou reggestel met “spasibo”.

Die dak van ‘n vertrek in die Hermitage, eens die Winterpaleis van die tsaars.

Baadjie en mus van ‘n strafkampgevangene – “Museum of Political History of Russia”.

Fabergé-paaseier met portret van Nicholas II.

Annie se Afrikaans …

My identiteit was nog altyd ten nouste verweef met Afrikaans en almal wat my ken, weet die taal se toekoms lê my na aan die hart. Ek het as joernalis by Beeld oor taalkwessies geskryf (en só vir prof. Wannie ontmoet) en vandag gee ek Afrikaanse boeke uit by Jonathan Ball Uitgewers. Om te sê dit was ongelooflik en merkwaardig om in die hartjie van Moskou Afrikaans te kon praat, begin nie eens om die ervaring te beskryf nie.

Na ons eerste ontmoeting stuur Polina ’n sms: “Dit was baie plesierig om met julle te gesels en natuurlik Afrikaans te praat! Ons is só geesdriftig!”

En dít is nou die reine waarheid.

Goeie gebak en ‘n goeie mus help baie om die koue af te weer – my man Jacques Olivier.

Half toegevriesde Moskourivier met Kersliggies.

Klasfoto’s – Die Russiese studente van Afrikaans by die Moskouse staatsuniversiteit.