Die moed van ’n leeu – Tossie Lochner

ʼn Hele geslag Afrikaanssprekendes het grootgeword met die bekende groet:
“Tossie Lochner, Italië.” Vir dertig jaar lank het sy interessante stories met RSG-luisteraars gedeel vanuit haar blyplek naby die Carrara marmerberge in Toskane, Italië. Verskeie stories oor die Pous, oor Caruso, die violis en komponis, Niccolo Paganini en natuurlik Luciano Pavarotti om maar ʼn paar te noem. Al is dit nou al byna tien jaar wat sy nie meer haar stories uit Italië stuur nie, bly Tossie Lochner volksbesit. Alita Steenkamp het by haar gaan inloer en gehoor hoe Afrikaans haar nog altyd na aan die hart lê.

 

Dit het waarskynlik die moed van ʼn leeu gekos om as ʼn jong, Afrikaanssprekende vrou na Italië te reis om daar te leer Italiaans praat. Tossie Lochner se interessante lewensreis het begin by ʼn advertensie vir ʼn pos by ʼn SATOER-kantoor in Duitsland. Sy was toe al tien jaar lank ʼn spraakterapeut wat besluit het om haar vlerke te sprei en vir die pos aansoek te doen. Ongelukkig was die pos reeds gevul, maar, het hulle laat weet, indien sy vinnig kan leer Italiaans praat, sal daar beslis ʼn moontlikheid wees om later van tyd ʼn kantoor in Italië te beman. Sy het na Italië vertrek waar sy nie net Italiaans leer praat het nie, maar ook haar hart op ʼn Italianer verloor het. Van die werk in die SATOER-kantoor het daar toe niks van gekom nie.

Dis byna onmoontlik om te glo dat Tossie, wat altyd so vrolik uit Italië gegroet het, ook haar porsie swaarkry gehad het. Die grootse probleem was maar die kultuurverskille. Tossie se man, Roberto Vegnuti, het aanvanklik weg van die huis af gewerk, en dan was sy alleen by haar huis met haar kindertjies. In die wintermaande was dit veral baie alleen. Sy was ver weg van Suid-Afrika en het niemand gehad om mee in Afrikaans te gesels nie, ook nie een van haar familie met wie sy oor die vreugde van haar kinders kon gesels nie. En toe gebeur daar iets wat haar lewe ten goede verander het.

Links: Tossie saam met haar neefs, Hennie en Leonard Lochner. Regs: Tossie, Martin Snyman en hul hond, Bravo

“Jy kan maar sê Monitor het amper my lewe gered. Meteens het ek ʼn baie goeie rede gehad om in die oggend vroeg op te staan, na die naaste kiosk te haas en die koerant te gaan koop. Dan het ek ʼn interessante storie gesoek wat ek later met die Afrikaanse luisteraars in Suid-Afrika kon deel,” vertel Tossie.

Haar werk as buitelandse korrespondent vir die nuusprogram Monitor op RSG, het juis gekom vanweë die feit dat Tossie besluit het om haar kinders te leer Afrikaans praat. Tydens een van haar besoeke aan Suid-Afrika, het Suzanne van Wyk, wat destyds Vrouerubriek aangebied het, gehoor dat Tossie in die land kuier. Hulle het mekaar leer ken in die tyd wat Tossie by Babs Laker dramaklasse geneem het, en het een of twee keer saam in radiodramas gespeel. Suzanne het vir Tossie gevra om haar kinders na die ateljee te bring sodat die luisteraars kon hoor watter mooi Afrikaans die Italianertjies praat. Met die het die programhoof van die nuwe nuusprogram, Monitor, Tossie hoor gesels en haar gevra of sy nie voortaan vanuit Italië vir Monitor stories sou kon aanstuur nie.

Saam met dr. Danie Langner van die FAK

“Ek het nie eers geweet wat Monitor is nie. Toe ek destyds uit die land weg is, het Fanus Rautenbach nog vroegoggend op Flink uit die Vere gesels. Ek het ingestem om dit te doen, al het ek nie ʼn idee gehad van wat ek moet doen nie. Al het ek nie joernalistiek geswot nie, het ek geweet hoe om ʼn storie te vertel. Aan die begin was dit maar ʼn gesukkel. Ek het op hierdie klein dorpie gesit en daar was niemand om te raadpleeg nie. Die mense wat gehoor het ek word nou ʼn joernalis, het gedink ek is mal. Dit het regtig my lewe sommer handomkeer verander. Dit was meteens ʼn vroliker lewe en ek kon my houding teenoor Italië verander. Ek het toe besef dit is nie Italië wat nie lekker is nie, dit is net sommige mense in die land. Gelukkig het ek mettertyd ook die Italianers aan my kant gekry, want hulle het baie gehou van my aksent,” vertel sy.

Nita Cronjé oorhandig die ATKV-Mediaveertjie aan Tossie

Tossie lag en sê die een vraag wat sy nooit gevra word nie, is hoekom sy haar kinders daar in die vreemde leer Afrikaans praat het. Sy het nooit eers daaraan gedink om dit anders te doen nie. “Afrikaans is my moedertaal. Ek kan rêrig nie verstaan hoe enigiemand wat Afrikaans is enige ander taal met hul kindertjies wil praat nie. Dit is tog inherent in ʼn mens ingebore om jou moedertaal te praat. Terselfdertyd verbreed dit tog die kind se uitkyk op die lewe en dan weet hulle daar is nog ʼn ander taal as die een wat hulle daagliks om hulle hoor. Ek het daardie tyd baie tydskrifte uit Suid-Afrika gekry en dit was veral die Huisgenoot wat my op hoogte gehou het van wat in die land gebeur. My kinders was mal oor stories soos Liewe Heksie en die kinderstories in Huisgenoot en op daardie manier het hulle geleer om Afrikaans te lees. Terwyl ek vir hulle gelees het, het hulle die woorde so met hulle vingertjies gevolg. My kinders praat steeds Afrikaans, al is dit met ʼn aksent. Ek sien deesdae dat baie mense wat oorsee gaan woon oorslaan na die taal van die nuwe land, want hulle sê dit is makliker. Vir my is dit onverstaanbaar. ʼn Mens praat jou moedertaal en klaar.”

Tossie het in 2008 teruggekeer na Suid-Afrika. Selfs na 40 jaar in Italië het dit vir haar nooit gevoel asof sy haar agtergrond verloor het nie. Deesdae woon sy en haar vriend, Martin Snyman, in die ooste van Pretoria. Elke Woensdagoggend speel Tossie gasvrou by ʼn Spar in Die Wilgers. Op Woensdae word die bejaardes bederf met heerlike koffie en koek en Tossie huiwer nie ʼn oomblik om sommer self kelnerin te speel en die koffie en eetgoed aan te dra nie.

Binnekort vier Tossie haar 81ste verjaarsdag. Lewensvreugde en ʼn positiewe uitkyk het haar nog altyd gekenmerk.

Op die vraag wat haar werklik gelukkig maak, kom die antwoord: “My humorsin is waarskynlik die rede vir my uithouvermoë. Ek hou daarvan om mense waar te neem en om dan te kyk wat daardie persoon se belangstelling is. Dan kan ons makliker gesels en lag. Ek het nog altyd gehou van mense wat vrolik is. Die lewe is veels te kort om op ʼn miserabele hoop te gaan sit. . Ek is gebore onder die Leeu-sterreteken en daarom glo jy moet elke dag voluit lewe, en baie lag. Ek glo jy moet elke dag voluit lewe, en baie lag. Dit het nog altyd vir my gewerk.”

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!