Die Hertzogprys vir drama vir die dahling van Darling – ‘n waardige wenner!

“Toekennings,” sê Pieter-Dirk Uys, “is altyd ʼn sagte manier om te besef die dinge wat jy doen, werk vir ander.” Pieter-Dirk het pas gehoor dat die Hertzogprys vir Drama vir 2018 aan hom toegeken word. Alita Steenkamp het met hom daaroor gesels.

Pieter-Dirk Uys is al ʼn hofnar en kisduiweltjie genoem, maar daarby ook ons nasie se gewete. Hy het nog nooit gehuiwer om heilige koeie te slag nie en is in die verlede dikwels oor die vingers getik. Moenie glo dat dit hom gestuit het om te doen wat hy so goed doen nie: om op ʼn verhoog te klim en uit te roep: “Die keiser is kaal!”

Besig om na nuwe materiaal vir ʼn volgende vertoning te soek.

DIe bekendste wit vrou in Suid-Afrika (Foto: Stefan Hurter).

Pieter en sy brakkies hef ʼn loflied aan ter ere van die nuwe dag.

In September sal Pieter-Dirk nie net sy 73ste verjaarsdag vier nie. Hy sal dan ook die Hertzogprys vir Drama van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in ontvangs neem wat onlangs aan hom toegeken is. Dít, sal beslis gevier word voordat dit saam met al die ander toekennings en pryse ʼn plek sal inneem in ʼn kassie by Evita se Perron.

Op die vraag, wat sy geliefdes sou sê oor die toekenning van hierdie gesogte prys, spring die kisduiweltjie meteens weer regop om dadelik te antwoord: “My pa, Hannes Uys, sal so bly wees. “Uiteindelik!” sal hy sug. “Na al die jare…” En my tante, Anna Uys, senior lektor in Afrikaans op Stellenbosch. En natuurlik ook my ander Antie, Anna M Louw, wat ook haar Hertzogprys/e in die lug vir my waai.”

Pieter-Dirk het al verskeie toekennings uit talle oorde gekry het – selfs die Living Legacy Award wat in 2000 in San Diego aan sy alter ego, Evita Bezuidenhout, toegeken is. Hierdie is ʼn toekenning wat vroue soos Prinses Diana, Bette Davis en Hillary Clinton ook ontvang het as eerbewys vir hulle besonderse werk. Tog is die Hertzogprys iets wat hy nie verwag het nie. “Die Akademie van K&W was in die jare 70 en 80 nie maats met my nie. Ons het nie saam om dieselfde Afrikaanse woordeboek gesit nie. Maar al die ou donners is nou dood, dus wil ek nie die huidige lede oor die verlede aantas nie. So: Dankie almal!” sê hy.

Pieter-Dirk het die Hertzogprys vir Drama vir 2018 vir Stukke Teater ontvang, met inagneming van sy hele oeuvre. Stukke Teater is ʼn versameling van vyf van sy dramas: Selle ou Storie die drama wat hy in 1974 geskryf het en wat deur die Publikasieraad verbied is; Karnaval waarvan die produksie in 1975 gestaak is; Die Van Aardes van Grootoor (1977), ʼn drama waarvan die speelvak kortgeknip is oor die fel satire daarin; Panorama, ʼn drama wat op Robbeneiland afspeel en Die Vleiroos wat hy in 1992 geskryf het.

Prof Hennie van Coller het in ʼn commendatio met die bekendmaking van hierdie prys geskryf dat ten spyte van Pieter-Dirk Uys se humoristiese, satiriese werk wat deur sommige kritici as “verstrooiing” afgemaak word, is hy ʼn “rasegte dramaturg wat met trefsekere karakterisering en sterk dialoog dramas daargestel het wat in eie reg waardevol is…”

Al het Pieter-Dirk oor die jare die meerderheid van sy dramas in Engels geskryf om sodoende ʼn groter mark te bereik en die sensuurraad te systap, lê die Afrikaanse taal hom na aan die hart. “Vir elke Engelse woord is daar ten minste drie Afrikaanse keuses. Ek is mal vir die taal, want dis jonk genoeg om mee te speel. Ek het destyds woorde opgemaak vir die sensuurraad om te verban – en hulle het! Ek dink aan die woord ‘genotskrot’. Dit klink aaklig, maar beteken niks!” voeg hy by.

ʼn Mens kan nie anders as om te wonder of daar vorentoe wel weer ʼn vlymskerp Afrikaanse drama uit die pen van Pieter-Dirk Uys sal kom nie. Hy trek net sy skouers op: “Ek het ophou dink en skryf in Afrikaans ná daardie bloedbaddens van sensuur teen my Afrikaanse werk. Maar aan die ander kant het ek ʼn paar geraamtes in die kas wat ek graag mooi sal wil aantrek en opvoer.”

Wie weet, dalk verras hy ons weer: Pieter-Dirk Uys, die dahling van Darling.

Kyk hier hoe gesels Pieter-Dirk Uys oor sy heel eerste KKNK

So midde in sy besige skedule en vertonings by die Suidoosterfees en ʼn twee week lange speelvak by die Soho-teater in Londen, het Pieter-Dirk tyd ingeruim om die Proust-vraelys te voltooi, vernuftig soos altyd:

Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord?

Gogga

Wat is jou idee van perfekte geluk?

Alleen tuis in Darling met die katte.

Jou grootste vrees

Sukses

Van watter van jou karaktertrekke hou jy die minste? 

Geduld

Wie (lewende mens) bewonder jy die meeste? En hoekom?  

Desmond Tutu. Hy bewys dat aanhouer wen.

Wat is jou grootste uitspattigheid? 

‘n Ou, verlate spoorwegstasie nou bekend as Evita se Perron.

Watter frases of woorde gebruik jy te veel?

Darling/ sweetheart/ poephol.

By watter geleentheid sal jy waarskynlik ʼn bietjie jok? 

As ek by ou mense kuier.

Wie of wat is die liefde in jou lewe? 

Hy weet wie.

Wanneer en waar was jy op jou heel gelukkigste? 

Tien minute gelede.

Watter talent sou jy die graagste wou hê? 

Om vakansies te geniet.

As jy een ding aan jouself sou kon verander, wat sou dit wees? 

Ek sou wou terugkom aarde toe as een van my katte.

Wat beskou jy as jou grootste meesterstuk? 

Evita Bezuidenhout

Wat is jou kosbaarste besitting? 

My British Airways silwerkaart.

Waar wil jy die graagste woon? 

Presies waar ek is, darling.

Wat beskou jy as die diepste dal van ellende? 

Politiek

Wat is volgens jou, die mees oorskatte menslike eienskap? 

‘n Sin vir humor

Watter van jou karaktertrekke is volgens jou die mees opvallendste? 

My mooi bene.

Jou gunsteling der gunsteling as dit by beroepe kom? 

Onderwyser

Wie is jou gunstelingskrywer/s? 

Noel Coward

Jou fiksieheld/in? 

Nelson Mandela

En jou held/e in die regte lewe? 

Die meeste mense wat ek raakloop.

Wat bewonder jy die meeste in ʼn man? 

As hy ʼn goeie luisteraar is.

En in ʼn vrou? 

As sy trots is op wie sy is.

Waaroor is jy die spytste? 

Ek het na te veel raad geluister as kind.

Wat is jou leuse? 

Moenie panic nie, alles sal regkom.

Lees ook …

Afrikaans.com: Pieter Dirk Uys –  ‘n tornado van talent

Hanlie Retief gesels met Pieter Dirk Uys

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!