fbpx

Die geskenk van lees in jou moedertaal

Theresa van Baalen se nuutste treffer is hier!

Deur Alita Steenkamp

Iemand wat haar heel eerste stories op ʼn ou Olivetti-tikmasjien van haar ma geskryf het, is Theresa van Baalen. Sy was bloot nege jaar oud toe sy besluit het dat sy eendag self ʼn skrywer wil word. Dit was veral die avontuurverhale van Enid Blyton, verhale soos die Secret Seven-, Famous Five- en Adventure-reekse wat haar eindelose plesier verskaf het en van ver plekke en wonderlike avonture laat droom het.

Deesdae is dit veel makliker met ʼn rekenaar en sedert haar eerste prenteboek, Aspris-krokkedis in 2009 verskyn het, vloei die stories behoorlik. Uit haar spreekwoordelike pen het daar al wonderlike prenteboeke en avontuurverhale vir kinders verskyn en in 2019 ook haar heel eerste tienerroman, Z-A-K: Die blou planeet. Hierdie boek val in die wetenskapsfiksiegenre.

Nuut op die rak

ʼn Splinternuwe boek van Theresa wat nou op die rakke is, is Justin Fortuin, skattejagter. Hierdie is die opwindende storie van ene Justin Fortuin wat teen sy sin saam met sy ma moet gaan vakansie hou. Die plek waarheen hulle gaan, is ʼn groot ou kasteel langs die kus. Wanneer sy ma se tante, wat die opsigter van die kasteel is, op ʼn dag vir Justin ʼn papegaai as geskenk gee, begin die avonture. Die boek is geskik vir lesers van nege jaar en ouer.

Theresa sê al het die verhaal nou eers verskyn, is die idee daarvoor baie lank gelede gebore. “Ek het die storie in 2002 geskryf as Kaptein Kraakbeen, maar die boek is deur die uitgewery waarheen ek dit gestuur het, afgekeur. Ek het besluit om dit maar daar te laat en ander stories geskryf. Mettertyd, soos ek verbeter het as skrywer, het ek al hoe meer besef waarom dit nie gepubliseer kon word nie.

“Op ʼn dag het ek besluit om dit weer te takel en die dele te herskryf wat ek geweet het nie werk nie. Ongelukkig kon ek toe nie meer die teks opspoor nie. Dit was baie lank gelede en intussen het ek op ʼn hele paar rekenaars gewerk. Tot my groot vreugde het ek wel op ʼn dag daarop afgekom – in ʼn lêer, binne ʼn lêer, binne nog ʼn lêer wat al die ou dokumente van my vorige rekenaars bevat het. In 2019 het ek besluit om die storie behoorlik onder hande te neem en hierdie keer was my voorlegging suksesvol.

“As kind was my gunstelingstories Enid Blyton se avontuurverhale en in die Adventure-reeks was daar ʼn papegaai met die naam Kiki. Ek het al die jare begeer om self ʼn papegaai te hê en in 2001 het iemand vir my een persent gegee. Iewers tussen Enid Blyton se invloed en my eie papegaai se teenwoordigheid het die storie begin ontkiem, en is Kaptein Kraakbeen, die papegaai, gebore,” vertel Theresa.

Vir Theresa bly dit een van die heel lekkerste dinge om te doen: om stories te vertel, en sy is dankbaar vir elkeen van haar stories wat die lig sien. Sy voel bevoorreg om deel te kan wees van die oplewing wat die Afrikaanse kinderboekbedryf die afgelope dekade of twee beleef.

Lees en leer in jou moedertaal

“Afrikaans is deel van my identiteit en programmering. Ek is tweetalig en verstaan en praat Engels met dieselfde vaardigheid en begrip as Afrikaans, maar wanneer ek alleen is, is my gedagtes in Afrikaans. Wanneer ek skryf, verkies ek om dit in Afrikaans te doen en ek dink nie dit is iets wat ooit sal verander nie,” sê sy.

Oor moedertaalonderrig voel sy ewe sterk. Sy glo dat elke kind dit verdien om in sy of haar moedertaal onderrig te word, veral in die aanvangstadium. “Om te leer lees en skryf is reeds genoeg van ʼn uitdaging sonder dat kinders geforseer word om dit in ʼn taal te doen wat nie deel is van hulle programmering nie. Kinders wat moedertaalonderrig ontvang, het sonder twyfel ʼn voorsprong bo die res,” sê sy.

Oor haar prestasies …

Theresa het in die afgelope nege jaar al verskeie toekennings verwerf. Tog, sê sy, dink sy nie vir een oomblik aan ʼn moontlike prys terwyl sy besig is met die skryf van ʼn boek nie. Haar heel eerste gepubliseerde verhaal, Aspris-krokkedis, het die ATKV-kinderboektoekenning in 2010 verower. Dieselfde boek is in 2012 met die Tienie Holloway-medalje bekroon. Sy het ook ʼn ATKV-Veertjie vir haar tweede boek, Karla Krullebol, wat in 2010 verskyn het, ontvang.

“Toe ek destyds die oproep kry om my mee te deel dat ek die Veertjie vir Aspris-krokkedis ontvang het, het ek nie eens geweet daar bestaan sulke goed soos toekennings vir boeke nie. Vir my was die toekenning bloot die kersie op die boek. Natuurlik is dit wonderlik indien jou werk bekroon word. Wie hou nie daarvan om erkenning te kry nie? Tog word ek gemotiveer om te skryf deur die gedagte dat iemand my storie gaan lees. Ek is in wese ʼn storieverteller,” sê Theresa.

Wanneer sy nie kinderverhale skryf nie, neem ander vorme van skryfwerk ook baie tyd in beslag. Sy skryf romanses onder ʼn skuilnaam, artikels en kortverhale. Verder geniet sy dit om kreatiewe dinge met Photoshop te doen. Sy stap graag en neem ook foto’s langs die pad. Theresa skilder ook graag alhoewel die tyd daarvoor maar baie beperk is. Saans klim sy vroeg in die bed met ʼn boek, ʼn hekelprojek of ʼn sudoku-raaisel.

Raad vir skrywers

Vir alle aspirantskrywers wat daarvan droom om ook eendag hulle naam op die voorblad van ʼn boek te sien, het Theresa waardevolle raad.

“Skryf baie,” sê sy. “Moet nooit moed verloor nie. Ek glo sukses is uiteindelik gewaarborg mits jy aanhou en as jy alles in jou vermoë doen om voortdurend te verbeter. Lees sommer baie, veral van die tipe boeke wat jy graag wil skryf. Probeer dan agterkom wat daardie skrywers anders of beter as jy doen.

“Skryf is baie soos tennis speel. Jy gaan nie ʼn beter tennisspeler word deur slegs boeke te lees oor die onderwerp of deur te kyk hoe ander mense speel nie. Jy moet op die baan uitkom en baie oefen en self speel. Net so moet jy baie skryf as jy ʼn beter skrywer wil word. Moet ook nooit kritiek persoonlik opneem nie. Sien dit eerder as ʼn goue geleentheid om te leer.”

Justin Fortuin, skattejagter

Theresa van Baalen

Druknaam: LAPA

Jeugfiksie

Ouderdom: 11+

9780799395969

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.