Deon Maas –  Ver van die huis … naby sy goed

Aweregs, anargis, moeilikheidmaker, selfs “gifappel”. Deon Maas is dit alles al genoem, veral wanneer hy met sy skerp tong heilige koeie soos die kerk roskam, of  oor die musiek op die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees monduitspoel.

In sy nuwe boek, Witboy in Berlyn, besin Deon Maas oor hoe dit is om ’n immigrant ver van die huis te wees. Deon neem die leser saam op ’n reis wat alle immigrante meemaak, dikwels ’n reis vol ongemak.

Hy vertel onlangs tydens ’n onderhoud met Murray La Vita hoe hy homself vroeg in sy verblyf in die Berlynse voorstad Neukölln bevind. Dit is Saterdagaand en hy bevind hom op sy eie in die  woonstel wat hy met sy vrou, Veda Nieuwoudt Maas, deel. En skielik voel hy alleen.

“Almal vra altyd vir jou wat mis jy die meeste. Die logiese antwoord is gewoonlik dis een of ander vorm van kos of dis jou vriende of jou familie; en in my geval is dit my vriende en familie wat ek mis, want ek is nie ’n Mariebiscuit of ’n biltong-ou nie.

“Maar as jy terugkom Suid-Afrika toe, besef jy wat jy eintlik mis, is familiariteit. As jy afklim by O.R. Tambo en jy moet jou selfoon aan die gang kry en jy weet jy gaan MTN toe en jy moet dít en dít vra en almal verstaan wat jy sê deur die gebruik van die koningin se Engels.

“As ek sê jy voel alleen, dan bedoel ek dat elke vorm van familiariteit is van jou af gestroop; daar is niks wat jou gemaklik laat voel nie.

“Selfs iets so eenvoudig soos om op die bus te klim raak ’n proses om die doodeenvoudige rede dat jy altyd bang is iemand gaan vir jou iets in Duits vra en dan kan jy nie verstaan nie en jy weet nie wat die antwoord is nie.

“Ek het dit al hierso gesien. As jy met ouens praat wat vars van die boot af is van Pakistan of Bangladesj, dan besef jy hierdie mense is actually báng, want hulle verstaan nie hoe goed werk nie en hulle is nie goed met die taal nie.

“Dís die posisie waarin ek myself bevind het; ’n posisie waar ek vir die eerste keer in jare actually bang was.”

Sy gunstelingfoto’s – Deon Maas

Witboy in Berlyn

“’n Boeiende dagboek van ontworteling en ontdekking” – so beskryf Koos Kombuis Deon Maas se jongste pennevrug, “Witboy in Berlyn”.

Maas se ervaring van Berlyn – ’n “dekadente, uitdagende stad” – is een van tuis voel, maar tog ook nie. In sy omswerwinge besef hy ook dat afgesien van die Duitsers se sogenaamde “sin vir orde”, alles nie “noodwendig perfek werk in die sogenaamde Eerste Wêreld nie”.

“So, vir die eerste keer sien ek Suid-Afrika op ’n heel ander manier. Die oomblik as jy jouself uit die dag-tot-dag slog uithaal dan sien jy dat hier baie groter en meer positiewe dinge in die land aangaan as wat die meeste mense gewoonlik dink . . .

“Ons as Suid-Afrikaners is baie krities oor onsself, ons land, ons vermoëns. Ons het nodig om ’n bietjie nasietrots te ontwikkel.”

Die terugkeer na Suid-Afrika twee dae voor dié onderhoud was baie emosioneel, sê Deon. “Toe ons uit die vliegtuig uitklim, toe staan daar hierdie swart mense . . . En ek het net begin huil.” Hy hou op praat … oorkom deur emosie. “Dit was net soos in: Dit maak nie saak wat gebeur nie – ek is by die húis. Ek kan enige plek in die wêreld bly; ek kan enige taal leer; ek kan enigiets doen, maar die realiteit van die saak is: Hierdie is my huis; hierdie is waar ek altyd sal veilig voel en waar ek weet hoe alles werk.”

Uittreksel – p. 9:

 “Dit voel vreemd om in ’n plek te woon waar mense nie die popkultuurverwysings van jou jeug verstaan nie. Niemand in Duitsland weet wie Liewe Heksie is nie, ook nie Haas Das, Rabobi of Trompie nie. Alles is dalk nuut en opwindend, maar enige vorm van familiariteit verdwyn. Daar is geen vriende soos die wat jy per ongeluk in Melville kan raakdrink nie.

“Op my eerste twee dae in Berlyn verloor ek boonop twee vriende: eers Johann Botha, die vervaardiger en aanbieder van 50/50, wat in Jeppe in ’n kroeg doodgeskiet word; ’n dag daarna Mick Desmond, die eienaar van The Irish Club in Linden, een van my gunsteling-keelnatmaakplekke.

“Ek kan nie na hulle begrafnis toe gaan nie, al wil ek en vir die eerste keer besef ek watter impak afstand het.

“Ek het vir my vriende in Jozi tot siens gesê. Sommige van hulle het ek nie eens so gereeld gesien nie, maar hulle was altyd binne trefafstand, sommige letterlik. Nou is hulle ’n vlug van 12 uur – en duisende rande – ver.

“Ek is besig om afskeid te neem van die alledaagse dinge van my ou lewe. Ek voel soos die huisie met die varkies binne wat deur die wolf omgeblaas word.

“Die Walliesers het ’n woord. Wel, hulle het verskeie woorde, maar ek dink aan ’n spesifieke een: hiraeth. Dit is moeilik vertaalbaar, maar kom neer op ’n heimwee na iets wat nie meer bestaan nie – iets wat jy onthou, maar wat nie meer so is nie.

“Leon Retief, ’n vriend wat al etlike jare in Berlyn woon sê: ‘Ek mis Suid-Afrika, maar ek mis die Suid-Afrika van sewe jaar gelede.’

“Dit het niks met die politiek of veranderende maatskaplike omstandighede te doen nie. Dis amper ’n gevoel wat jy gehad het toe jy deel was van ’n spesifieke omgewing of omstandighede. Iets wat jy weet jy nooit weer gaan terugkry nie. Van my vriende gaan ek vir seker weer sien en ons sal altyd vriende bly, maar my nuwe ervarings en die feit dat ons blootgestel is aan ander invloede, beteken die vriendskappe sal waarskynlik nooit weer dieselfde wees nie.”

Afrikaans.com het vir Deon ‘n paar vrae gevra …

  1. Wat is vir jou die mooiste Afrikaanse woord?
    Klakkeloos, korrelkop, katelknaap ….en dis net die k’s!
  1. Wat is jou gunsteling- Afrikaanse boek?
    Die Alibi Klub deur Jaco van Schalkwyk.
  1. Jou idee van perfekte geluk?
    Veda, die drie honde en Berlyn.
  1. Jou grootste vrees?
    Vraelyste soos hierdie.
  1. Wat is jou grootste uitspattigheid?
    Om broodgeld op boeke uit te gee.
  1. Watter woord gebruik jy te veel?
    Ek het nie die vaagste idee nie.
  1. As jy een ding aan jouself kon verander, wat sou dit wees?
    Ek wil my hare terughê.
  1. Wat is jou kosbaarste besitting?
    My hart.
  1. Wat is vir jou die diepste dal van ellende?
    Verkiesingsjaar.
  1. Wat bewonder jy die meeste in ‘n man?
    Doen dit self-vermoëns
  1. Wat is jou lewensleuse?
    Vidi, veci, veni
  1. Wie is jou fiksieheld/-heldin en in die regte lewe?
    Ek glo nie in helde nie.

*Witboy in Berlyn word uitgegee deur Jonathan Ball Uitgewers en is ook beskikbaar in Engels.