Blog van die week

Die Kleintjie-Willemse storie

Afrikaans.com nooi jou uit om deel van ons blogger-gemeenskap te word. Ons plaas elke week die WEN-blog en wil graag jou skryfkuns voorstel aan ons lesers. Stuur jou blog aan myafrikaans@afrikaans.com. Vertel ons so ’n bietjie meer van jouself en stuur vir ons ’n foto of ’n prentjie wat jou blog illustreer. Lees meer …

Marietjie Warrington

Baie geluk aan Marietjie Warrington – Nog ‘n wenner van die Afrikaans.com-blog van die week

 “Ek is hoegenaamd nie skaam vir my sewentig kersies op die koek nie en elke plooi vertel sy eie besondere storie. My liefde vir Afrikaans is aanvanklik deur my moeder geprikkel – ‘n dame wat self baie skeppend was. In plaas van Rooikappie en Sneeuwitjie het ma met slapenstyd uit C J Langenhoven se versamelde werke vir my voorgelees.”

Marietjie woon tans in Linden en was tydens haar loopbaan ’n joernalis, teaterresensent en rubriekskrywer. Van ’n  haar geliefkoosde skrywers is Johan Bakkes, Margaret Bakkes, André P Brink, Lina Spies en PG du Plessis.

Die Kleintjie Willemse-storie

Almal hou van stories – wolhaarstories, spookstories, stories met ‘n kinkel of stories wat sommer net al jou hare laat rys.  Party stories laat jou regop sit; ander gly in die niet verby sonder ‘n nadraai. Maar dan is daar stories wat jou middernag in die bed laat  rondrol en laat wonder: was die fluisteringe agter gebakte hande die ronde waarheid of die produk van verveelde plattelanders?   En dis hier waar die besnorde Kleintjie Willemse en Lina se verhaal afskop …

Kleintjie Willemse en sy metgesel het as nuwe intrekkers  uit die staanspoor die wenkbroue  laat lig. Met die intrapslag wou dit voorkom asof hulle net so ‘n rapsie “beter” wou wees as die deursnee burger. So het die meeste mense die storie oorvertel.

Dis veral Lina se onberispelike voorkoms en smaakvolle grimering wat  tant Essie, die “plaaslike uitsaaidiens,” laat wonder het waarom sy soveel window dressing benodig.

“Wat steek die meisiekind weg,” wou sy by haarselwers weet.

Kleintjie self se stil afsydige houding, veral teenoor die bure wat wou handjie bysit met die aflaai van hul trek, het negatiewe kommentaar uitgelok. Buurman Danie wou nie net help met die aflaai nie, maar was selfs bereid om kratte vir sy nuwe buurman uit te pak. Op ‘n uiters beskaafde wyse en sagte stemtoom het Kleintjie hom laat verstaan dat hulle privaatmense is wat self dinge doen.

“Ons is hier om te woon, nie om te kuier nie,” het hy in ‘n amperse fluisterstem vir Danie gesê.

Tydens die kort ontmoeting kon Danie nie help om die nuwe buurman se litteken bokant sy linkeroog op te merk nie. Dit het hom sterk herinner aan sy eie neef Herklaas, die dorp se bobaas-bokser.

Van agter vele kantgordyntjies is die nuwe intrekkers se aflaai en indra dopgehou. Ligroos houers gemerk  “couturier for Kinkel”, het veral tant Essie se nuuskierigheid geprikkel.

Die Willemse-egpaar het sonder bohaai stil-stil nesgeskop en hulle eie gang gegaan. Dog die dorp se Gereformeerde herder het na twee weke probeer om die Willemse by sy kerk te betrek. Maar helaas, hy en ouderling Wessels het self hier ‘n bloutjie geloop.

Op ’n aand, so kort voor aandete, het die twee met Bybel onder die arm aan die Willemse se voordeur geklop. Na ‘n rukkie het Kleintjie self oopgemaak. Natuurlik het hy geweet waaroor dit gaan en die ongevraagde en ontydige huisbesoek vinnig kortgeknip. Op sy hoflike manier het hy die besoekers laat verstaan dat hulle nie kerkmense is nie en net met rus gelaat wou word.

En so met die verloop van weke het die klein landelike gemeenskappie gewoond geraak aan twee mense wat net hulle eie ding wil doen, of so het meeste mense gedink. Niemand kon ‘n vinger wys nie, maar daar is gegis, geskinder en beloer.

Die poskantoorklerk, Johannes, was die eerste “beriggewer” wat die Willemse-huishouding met tasbare nuus onder die soeklig kon plaas. Hy het met geur oorvertel dat medikasie vanaf Johannesburg elke veertien dae by hul beskeie huisie afgelewer word.

Tant Essie het natuurlik hier by die storie aangelas en kort voor lank was Kleintjie en Lina terminaal met kanker!  Danie het die storie verder gevat en besluit die litteken aan Kleintjie se oog was ook ‘n kankertjie wat betyds hokgeslaan is deur ‘n befaamde internasionale chirurg.

En so het die een storie na die ander die loop geneem sonder dat  nuusdraers en beriggewers ooit by die waarheid kon uitkom. Maar wat was die waarheid en was daar ooit ‘n raaisel.  Besluit self …

Dis Rikus, die kontantwinkel se bestuurder, wat nuwe asem by die stories ingeblaas het. So in die verbygaan het hy opgemerk dat Lina reeds vir geruime tyd  aankope doen sonder Kleintjie en dat sy onlangs vir ekstra kartonbokse gevra het.

“Wou sy  inpak om te trek en wat het van Kleintjie geword?” het hy gewonder.

Sy gevolgtrekking het vinniger as die jaarlikse veldbrand versprei. Dis op die noot dat ouderling Wessels toe besluit om maar weer ‘n huisbesoek by die Willemse-huishouding aan te durf  – om seker te maak daar hang nie  egskeidingswolke oor die eksentrieke egpaar nie. As ouderling het hy dit sy plig geag om ondersteuning te bied sou iets die “heilige” huwelik bedreig – ‘n siening wat tant Essie heelhartig met hom gedeel het.

So gebeur dit toe dat ouderling Wessels, man alleen, ‘n paar dae na Rikus se onthulling voor die Willemse se voordeur staan. Hy’t skaars geklop of ‘n vietse dame maak oop. Op ‘n vraag of hy met Kleintjie Willemse ‘n paar woordjies kon wissel, sê die dame toe dat hier nie ‘n Kleintjie Willemse woon nie en dat so ‘n persoon nog nooit hier gebly het nie.

“My naam is Kinkel, meneer. Ek het nie nou tyd om te gesels nie. My vriendin Lina en ek is besig om te pak.  Ons trek more,” het sy gesê.

Die dame se vriendelikheid het ouderling Wessels onkant gevang, maar iets aan haar voorkoms het hom geweldig gepla. Die rooierige bolip en pleistertjie onder die linkeroog het hom sterk herinner aan iets wat hy iewers voorheen  gesien het, maar deksels of hy kon onthou waar …