Blog van die week:

Die seer van vergeet

Afrikaans.com nooi jou uit om deel van ons blogger-gemeenskap te word. Ons plaas elke week die WEN-blog en wil graag jou skryfkuns voorstel aan ons lesers. Stuur jou blog aan myafrikaans@afrikaans.com. Vertel ons so ’n bietjie meer van jouself en stuur vir ons ’n foto of ’n prentjie wat jou blog illustreer.

Baie geluk aan Coline Fick – Nog ‘n wenner van die Afrikaans.com-blog van die week

“Ek deel graag so ‘n iets van wat ek elke dag by my werk beleef.”

Die seer van vergeet …

Ek gaan haal haar aan die ontbyttafel.

“Dis Donderdag tannie B, weer tyd vir hare. Kom ek stap saam met tannie.’’

Daar is begrip vir die woord haarsalon.  Ek stap saam, want die gange is amper langer as die Liewe Here se genade.  Ek is rustig sodat sy rustig kan wees, want die bekende van ’n haarsalon is nou ook onbekend en vreemd. Ek neem haar direk wasbak toe. ‘’Geniet dit!!’’ weergalm my Fick-stem. Dis amper asof ek desperaat  soek  na iets tasbaars om haar mee op te beur, want die lewe is sleg vir haar. Baie sleg. Later toe ek haar gaan haal,  komplimenteer ek haar soos altyd.  Sy vat so aan haar hare en vra:  ‘’Dink jy rêrig so?” ‘’Ja, definitief!’’ knipoog ek vir haar.

Deur die vergeet kom daar nog ’n eg vroulike reaksie deur. Ek word sommer vies vir ons vrouens en ons swak selfbeeld! Sy glimlag vir my.

Ons stap rustig terug na die afdeling toe … na haar kamer. Ek vat haar hand en tog weet ek sy sou eerder my hand wou vat, my troos, help en gerusstel. Ek probeer om die rol “saggies’’ te speel sodat sy nie so minderwaardig  voel nie.  Ek probeer haar aandag aftrek, want ek weet waar dit seer is en weet wat haar verlies is.  Ek probeer haar troos deur te sê dat dit nie haar skuld is dat sy vergeet nie. Dat ouderdom die paadjies in ’n mens se kop anders laat loop en boodskappe nie mooi deurkom nie. Tannie B kyk deurdringend na my met haar blou oë. Ek kan sien sy hoor presies wat ek sê. Dit maak egter geen verskil nie. Ek fokus op haar troosgoed: koffie, haar koerant, haar musiek.

Ons het talle gesprekke elke dag. Haar vrae bly dieselfde en my antwoorde bly dieselfde.  In haar kamer soek ek verwoed na haar lipstiffie. Ek ontdek ook haar parfuum so in die chaos van haar kamer.  Ek gee dit vir haar. Dit gee waardigheid, al is dit net vir ’n paar minute. Ek gee tannie B ’n stywe druk en stap uit … op ’n drafstap sodat sy nie my trane kan sien nie. Oorweldig deur my onvermoë en magteloosheid, bid ek vir genade en wysheid …

Lees ook …