fbpx

Anoeschka von Meck

Storie van hoop en medemenslikheid

Afrikaans.com-Anoeschka

Die omvang van die rampspoedige en wydverspreide droogte in Suid-Afrika oorskry verreweg dit wat in die media berig word. Agter die statistiek en ontmoedigende reënvalsyfers, opgedroogde boorgate, leë damme en veevrektes, staan ’n boer en sy gesin – mense wat ’n emosionele band met die grond het. Die hardnekkige droogte het groot getalle van hierdie boere op hul knieë gedwing – verarm en getraumatiseerd. Dr. Anoeschka von Meck het 12 300 kilometer in drie maande afgelê om sestien uiteenlopende reënvalstreke en sowat 53 boere te besoek. Niks kon haar voorberei op wat op haar gewag het nie.  Vermaerede en uitgedunde kuddes, afhanklik van droogtehulpvoer en op baie plekke ook broodgebrek. Tog moes Anoeschka telkens hoor hoe boere getuig dat die droogte hulle verander het, beter mense gemaak het en veral tot ’n dieper verhouding met God gelei het …

Anoeschka het met Afrikaans.com gesels oor haar reis en die boek wat hieruit voortvloei. Net voor die droogte my breek is moontlik gemaak deur die Christelike Lektuurfonds.

Sy vertel meer oor die skryf van hierdie uitdagende boek:

Net voor die droogte my breek

Die ergste droogte om Suid-Afrika te tref in ‘n honderd jaar. Dit is wat die voortslepende droogte in groot dele van ons land nou genoem word. En terwyl boere en hul gemeenskappe wag vir ‘n onbetrokke regering om die ergste geteisterde gebiede tot ramp te verklaar, veg mens en dier verbete om daaglikse oorlewing. Dog is daar iets totaal ongeken en onvoorspelbaar besig om juis te midde van hierdie uitgerekte swaarkry en ellende, spontaan onder ons mense te gebeur!

’n Epiese reis

“Ek was twee en ‘n halwe maande op die pad om meer as 13 200 km af te lê sodat ek 53 onderhoude in 16 uiteenlopende reënvalstreke kon gaan doen. En dit nog rondom ‘n politiese plofbare tyd gedurende die 2019-verkiesing! Hierdie was ‘n epiese reis wat my vir altyd sal bybly en wat my as mens verander het.”

Von Meck vertel dat haar tog soveel meer as net onderhoude geraak het met mense wat onder geweldige druk verkeer, en dat daar deur alles ‘n ander realiteit vir haar begin deurskemer het.

Afrikaans.com-Anoeschka

‘Oom’ Piet Kotze – een van Jaagvlak, Moedverloor se oorlewende boere en donkiekarmense wie se verhaal ook in die boek opgeteken is.

’n Storie van hoop

Afrikaans.com-Anoeschka

“Ek was op soek na die ‘goue draad van hoop’ deur elke storie, maar wat ek ontdek het was soveel groter!”

Uit haar wedervaringe is sy oortuig dat daar iets groots besig is om in ons land te gebeur.

“Iets positief wat momentum optel – waar mense ophou wag vir ‘n regering wat hulle gefaal het en na mekaar toe begin uitreik het. Mense wat aan die einde van hul eie planne gekom het en waarvan ‘n groot persentasie na God begin terugdraai het. Ek tip my veldhoed vir Burre Burger, dat hy gewillig was dat Vader hom oprig as ‘n voorbeeld van goed doen aan jou medemens. Dalk juis ook omdat Burre ‘n ‘gewone ou’ en feilbare mens is wat welbekend is met sy eie droogte en binne-reis deur die wildernis. Burre het ons kom herinner waarvoor ons eens bekend was – vreeslose integriteit en omgee, maak nie saak hoe stukkend jyself is of eens was nie.”

’n Netwerk van medemenslikheid

Dit is die skrywer se waarneming dat daar ‘n netwerk van medemenslikheid en vreemdeling-tot-vreemdeling uitreiking besig is om dwarsoor groot dele van Suid-Afrika op die been te kom. En dat mense weer ‘n karakter begin openbaar wat ‘n hele nasie nuut kan laat opstaan.

“‘n Boer het nie kleur nie. Mense wat swaarkry en mekaar nodig het, is kleurloos. Suid-Afrikaners is besig om mekaar nuut te ontdek. ‘n Stedeling maak nou dalk kos bymekaar om in ‘n pakkie na ‘n onbekende persoon iewers op die platteland te stuur. Dorpsmense reik uit na plase. Mense begin weer aan ander goed doen sonder om ‘n beloning daarvoor te verwag. Swart trokbestuurders wat die skenkervoer gaan aflaai, is verstom om te sien hoe mense mekaar net help en hulle gaan vertel weer in hul eie gemeenskappe wat hulle ervaar het. Hoe vreemdelinge hulle oral teen die paaie inwag om vir hulle kospakkies en koeldrank of wat ook al te gee. Mense wat trokke by garages inwag om hul hand te vat en vir hulle te bid. So kring die omgee al hoe verder uit.”

Anoeschka het van Calvinia in die Noord-Kaap vertrek en ‘n sirkelroete op tot in Noordwes, Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, af deur die Vrystaat, Oos-Kaap en Karoo tot in die Kaap gevolg. Van daar het sy weer op teen die Weskus gereis tot in die suide sowel as die noorde van die Sandveld, Namakwaland, Boesmanland, die Knersvlakte en uiteindelik in die Roggeveld geëindig.

Die boere kry ’n stem

“Die spreekwoord sê nood leer bid, maar dit het ook duidelik geword in hierdie sukkelende en moedelose tye dat die koring van die kaf geskei word. Keer op keer kon mens waarneem hoe hierdie droogte mense se ware kleure na vore laat kom – beide sleg én goed. Ja, daar is gierigheid en selfsug, maar dit word so vér oorskry deur die goedheid wat van alle kante af instroom dat mens werklikwaar wéér in Suid-Afrika en sy mense kan begin glo.”

Die doel van hierdie boek was om met die wegspringslag ‘n stem vir boere in droogte te gee.

Net voor die droogte my breek is beslis nie wat die lesers dalk verwag nie. Dit gaan jou nie depressief stem nie, maar dit gaan jou wel roer. Daar is nie ‘n enkele foto van ‘n dooie dier in nie. Dit is eerder asof ons saam met die skrywer oor plase en dorpe sweef en soms by ‘n plaashuis se venster inloer en op die gesprekke inluister. In die 30 vertellinge wat vir die boek gekies is, hoop die skrywer dat die leser ‘n stille teenwoordigheid in die verhale sal ontdek. Die Een wat wag dat ons nie net vir reën en seën sal vra nie, maar vra om Homself in Sy ware persoon te mag leer ken.

Kontak CLF by (021) 873 6964 of besoek hul by www.clf.co.za of plaas u bestelling vir ‘n kopie by order@clf.co.za om deel te word van hierdie meelewende reis.

Lees meer oor Anoeschka von Meck hier

Die reeks: Op pad met Afrikaans was nog ’n reis – hierdie keer deur die Afrikaanse landskap – wat Anoeschka von Meck onderneem het. Kyk dit hier

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.