Anna Emm – storievertel is haar brood en botter

Die wonder van stories en storievertel, is ʼn belangrike deel van Anna Emm se DNS. Sy het met Alita Steenkamp oor haar liefde vir stories, en die vreugde van haar uitgewery, gesels.

Sy was bloot sewe jaar oud toe sy eendag in ʼn mondeling vir haar juffrou vertel het dat sy eendag ʼn skrywer wil word. “Nee wat kind,” het die juffrou haar geesdrif geblus, “skryf is ʼn stokperdjie, jy kan nie daarmee geld verdien nie.” Vandag lag Anna bloot hieroor. Daar is duidelik geen kwade gevoelens nie, maar oor een ding is sy wel spyt: niemand het ooit vir haar gesê dat dit heeltemal moontlik is om as skrywer en storieverteller jou brood en botter te verdien nie. Vandag het sy beslis bewys dat dit nie bloot net ʼn stokperdjie is nie. Nie net het sy vir haarself ʼn uitstekende loopbaan as storieverteller opgebou nie, maar met haar Anna Emm Uitgewers verskaf sy ook werk aan vele ander. Om nie eers te praat van die genot wat dit aan vele verskaf nie!

Anna vertel dat sy in ʼn huis omring deur boeke grootgeword het. Haar pa was ʼn professor in literatuurwetenskap, dus het sy in ʼn letterkundige milieu grootgeword. Daar was gereeld skrywers by hulle aan huis. “Nog voordat ek gebore is, het my ouers al ʼn klein versameling boeke opgebou. My ma vertel altyd toe ek nog ʼn babatjie was, het sy vir my die Huppel-boeke van WO Kühne gelees. Terwyl sy die vrolike verhale gelees het, het ek heen en weer sit en wieg op die ritme van die woorde.

Grootword

“Ek is eintlik baie gelukkig dat ek in daardie omgewing grootgeword het, want ek is definitief gebore met ʼn liefde vir woorde. Van kleins af was daar niks anders wat ek wou doen as om te skryf nie. Nog voordat ek kon skryf, het ek my stories vir my ma vertel wat dit dan vir my moes neerskryf. Wanneer ek klaar was, moes sy dit teruglees sodat ek kon seker maak dat sy dit neergeskryf het soos ek dit vertel het,” lag Anna.

Die wonderlike waarde van stories het sy ontdek in die tydperk toe sy skoolgehou het. Sy was ʼn graad 2-onderwyseres by ʼn skool in ʼn arm gemeenskap en sy het gou agtergekom dat jy sukkel om vir honger, getraumatiseerde en stukkende kinders moeilike begrippe te leer. Nadat een van die leerders in haar klas gemolesteer is en ʼn ander een se pa dood is in huishoudelike geweld, het sy begin om vir die klas stories te lees. Dit het duidelik ʼn verskil gemaak aan die vermoë van die kinders om nuwe inligting in te neem; dit het hulle selfvertroue laat toeneem en ook hulle lewensuitkyk positief beïnvloed. Nadat hulle al die boeke tot hulle beskikking gelees het, het Anna begin om haar eie stories te skryf, en sommer van die kinders die karakters in die stories te maak.

Die wonder van stories …

“Mense onderskat die waarde van stories,” sê Anna. “Ons dink dit gaan oor die woorde in die storie, maar ek dink die groot terapie van enige storie is dat dit juis so ontspannend is. Die oomblik wat jy op die storie begin konsentreer, vergeet jy van jou eie moeilike omstandighede of jou hartseer. Wanneer kinders so ontspan, is hulle sommer baie ontvanklik vir enigiets wat jy hulle wil leer. Voeg daarby die luistervaardighede, woordeskat en verbeelding wat ook alles deur stories na hulle toe kom, en dit word duidelik dat ons nooit stories ligtelik moet opneem nie.”

Anna sê die een ding wat jy nie in een van haar stories sal kry nie, is een of ander lessie. Kinders is baie skerp en die oomblik wat jy probeer om vir hulle ‘medisyne’ in te gee, sal hulle gou teëskop. ʼn Kind moet nie dink hy leer wanneer hy na ʼn storie luister nie, sê sy. Hy of sy moet bloot net ontspan en wegraak in die gebeure van die verhaal.

In 2001 het Anna uit die onderwys bedank en ʼn bietjie ervaring as skrywer en regisseur op twee televisiereekse opgedoen. Sy het ook haar man, Stefan van der Vyver, in daardie tyd ontmoet. Hy het by ʼn musiekwinkel in die Kaap gewerk, maar het ook sy eie klankateljee tuis gehad. Anna het al die stories wat sy vir die skoolkinders geskryf het daar in sy klankateljee op CD’s gaan opneem. Die CD’s met die kinderstories daarop, het goed verkoop en spoedig moes sy ʼn assistent aanstel. Later het daar kantoorpersoneel gevolg en uiteindelik was sy finansieel in staat om ook boeke te laat druk. Anna Emm Uitgewers het 15 jaar gelede tot stand gekom en gee nou veel meer as Anna se kinderstories uit. Daar is heelwat ander skrywers wat boeke vir volwassenes en tieners skryf en by hierdie uitgewery uitgee. Die boeke van Anna Emm Uitgewers word nie deur boekwinkels versprei nie, maar wel deur agente of aanlyn. Die agente verkoop dan die boeke by geleenthede of aan familie en vriende en die stelsel werk uitstekend.

Die tydskrif: Koos

Sowat ʼn jaar gelede het Anna met die idee vorendag gekom om ʼn tydskrif uit te gee met die minimum advertensies, maar bloot gevul met kortverhale en ʼn paar artikels. Die eerste twee uitgawes van Koos, soos die tydskrif heet, is ook deur haar agente versprei. “Ek het aanvanklik aansoek gedoen by die verspreiders om dit ook in die winkelgroepe beskikbaar te stel, maar dit neem ʼn tyd voordat jou produk goedgekeur word. Ons het voor die derde uitgawe gehoor dat die meeste kettingwinkels belangstel om Koos te versprei, en ons Desember-uitgawe was toe landwyd oral in die winkels. Tans word daar gewerk aan die vierde uitgawe. Enigeen is welkom om stories in te stuur, en die vereistes waaraan die storie moet voldoen, is alles beskikbaar op ons webwerf. Onthou tog net dat hierdie ontspanningsvermaak moet wees, en dat swaar en donker verhale nie geskik is vir publikasie in Koos nie,” sê sy. Lees meer oor die tydskrif hier.

Anna sê haar liefde vir Afrikaans hang nou saam met die feit dat Afrikaans die taal is waarin sy leer lees en skryf het, haar moedertaal. “My taalhelde is mense soos Koos Kombuis en Antjie Krog. Om alles te lees wat hulle geskryf het, was vir my my heel eerste skryfskool. Daar is sommige stories wat ʼn mens net in Afrikaans kan vertel. By ons uitgewery het ons die beginsel dat ons nie stories vertaal nie. Ek glo ek verstaan Afrikaanse mense en ek verstaan hoe hulle dink en waarvan hulle hou en wat hulle graag sal wil lees.

“Dit werk uitstekend om vir ʼn kind aanvanklik sy stories in sy moedertaal te vertel. ʼn Kind het net eenvoudig ʼn ander belewenis van ʼn storie as hulle dit hoor in die taal wat hulle goed verstaan. Daar is ʼn sekere aanknopingspunt en dit is iets wat vir hom bekend is. Hy voel daarom hy kan eienaarskap van die storie neem,” sê sy.

Vir Anna is dit vreeslik lekker om te dink dat alles begin het by haar lewensdroom om te kan stories vertel – haar loopbaan en die loopbane van soveel ander. “Ek sien die krag van stories elke dag in ons kantoor,” sê sy dan. “Dis heerlik om in so ʼn ongelooflike positiewe omgewing te kan werk. Om te sien hoe stories mense beïnvloed, mense opbou en mense laat blom, maak my baie gelukkig. Dis ʼn heerlike medium om mee te werk. Ek is voorwaar ʼn gelukkige storieverteller!”

Mentorskap vir skrywers

Stel jy belang om ‘n jeugboek of kinderstorie te skryf, maar het geen idee waar om te begin nie? Anna Emm bied ‘n mentorskapkursus aan. Gaan kyk hier en vul die vorm in. Die Februarie-kursus is reeds vol, maar daar is nog plek vir Maart.

Vyf kitsfeite oor Anna Emm

  • Anna is die ma van twee dogters, Elani (19) en Mila (7)
  • Wanneer sy nie met haar neus in ʼn manuskrip sit nie, hou Anna daarvan om skopboks te beoefen.
  • Haar tweede naam is Margriet, van daar die Emm in haar skryfnaam.
  • Sy en haar gesin woon in Plattekloof, ʼn voorstad van Kaapstad.
  • Bekende stemkunstenaars soos Gys de Villiers, Anna-Mart van der Merwe, Koos Kombuis en Anrich Herbst het al van haar kinderstories opgeneem.

Besoek haar webwerf: http://annaemm.co.za/

Word deel van die Facebookgroep: https://web.facebook.com/annaemm14?_rdc=1&_rd

of besoek die webwerf: Storiekadorie vir tegnologiese hulpbronne vir jou kleuter of laerskoolkind. Klik hier.