Op die sportveld of verhoog … Vian woeker met sy vaardighede … in Afrikaans.

15 Julie was nie net die dag waarop die eindstryde van beide die Wimbledon-tennistoernooi en die Wêreldbeker-sokkertoernooi plaasgevind het nie, maar dit is ook die dag waarop daar internasionaal gefokus word op die vaardighede van die jeug. Elke jaar word World Youth Skills Day op 15 Julie gevier. Een van die Afrikaanse ambassadeurs wat inderdaad woeker met al sy vaardighede, is Vian Singleton. Nie net is Vian die hoofseun van Laerskool Midvaal in Meyerton nie, maar hy presteer ook uitstekend op die sportveld en op akademiese gebied. Vian het ook vroeër vanjaar die vierde plek in Suid-Gauteng by die ATKV se Redenaarskompetisie behaal en het net-net die finale Landsfinaal misgeloop. Vian is vanjaar opgeneem in die Valke se o/13 Cravenweek-span wat saam met 17 ander spanne deelgeneem het aan hierdie jaar se prestige toernooi in Kimberley waar hy as die Valke se linkervleuel uitgedraf het. Vir hom was dit heerlik om die kameraderie en sportmangees van die ander rugbyspelers by hierdie toernooi te ervaar.

Dis juis die rugby wat hom vir ʼn wyle van die 7de Laan-stel afgehou het. Vian vertolk die rol van Thomas Fouché in 7de Laan en aangesien die rugbyoefeninge en die televisieopnames vir ʼn periode voor die Cravenweek oorvleuel het, was hy vir ʼn tydperk nie beskikbaar vir opnames nie. Gelukkig is hy weer terug op sy pos in die rol van Thomas, ʼn rol wat hy terdeë geniet.

Vir Vian is dit ʼn heerlike voorreg om ʼn Afrikaanse ambassadeur te wees. In sy lewe, sê Vian, is Afrikaans beslis onmisbaar. “Afrikaans is sekerlik die mees beskrywende taal wat daar is en ʼn mens kan jouself so lekker uitdruk in Afrikaans. Ek geniet my oupa se stories in Afrikaans en ook om self ʼn paar grappies in Afrikaans te vertel. Ek neem gereeld deel aan kunswedstryde en geniet dit veral om redenaarstoesprake in Afrikaans te lewer. Die onderwerp van my mees onlangse toespraak was “Jy is die kaptein in beheer van jou bestemming” en ek het daarmee die boodskap uitgedra dat dit nie help om op ʼn hoop te sit en wag dat dinge gebeur nie. Jy moet uitspring en self werk! Ek dink ook baie terug aan my rol as Benjamin Komoeti in die verhoogproduksie van Daleen Mathee se Fiela se Kind. In een toneel het Fiela vir Benjamin gebad en dan moedig sy hom aan om die magistraat as “wel-edele heer” aan te spreek. In sy kinderlike onskuld sê Benjamin dan vir Fiela: “Is hy dan die Here?” Geen ander taal sou hierdie toneel so pragtig kon oordra nie!”

“Afrikaans is sekerlik die mees beskrywende taal wat daar is …”

Vian Singleton

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!