Ambassadeur vir Afrikaans maak ‘n sosiale impak

In 2016 het René by die span ambassadeurs vir Afrikaans.com aangesluit. Sy is deel van ‘n groep mense in die Afrikaanse leefwêreld wat Afrikaans lééf, die lekkerte daarvan vier en op verskeie vlakke van hul werk en sommer oor die algemeen ‘n verskil maak in Afrikaans. Om ʼn ambassadeur vir Afrikaans te wees, moet jou hart hard en duidelik in Afrikaans klop, en moet jy een of ander projek hê wat die taal bevorder. Hierdie beskrywing pas René soos ʼn handskoen. As vryskutkonsultant en projekbestuurder, was sy in die afgelope paar jaar onder meer betrokke by die Suidoosterfees se Gemeenskapskorekompetisie, by die SBA se Brugbou Projek, by die Departement Kultuursake & Sport se Musiekontwikkelingsprojek met spesiale fokus op die plaaswerkersgemeenskap en by die Kunstekaap se Uitreikingsprojek wat gefokus is op plattelandse Afrikaanssprekende gemeenskappe. René was ook al die aanbieder van ʼn dokumentere programreeks oor Afrikaanse Koorsang op RSG.

In 2017 het René betrokke geraak by Afrikaans.com se muurkunsprojek waarmee leerders in die Wes-Kaap aanmoedig word om Afrikaans te geniet en te gebruik. ʼn Paar skole is geïdentifiseer waar een van die mure op die skoolterrein met Afrikaanse woorde en beelde versier is. ʼn Belangrike beeld op al hierdie mure is reuse vlerke wat leerders aanmoedig om groot te droom. René koördineer elkeen van hierdie onthullings.

Sosiale impak en die bemagtiging van vroue-entrepreneurs

Nog ‘n hoed wat René met groot sukses dra is haar maatskappy, We Rise – Seminare en Konferensies, en sy bied gereeld interessante gespreksessies en werkswinkels aan vir vroue en veral Afrikaanse vroue in die Wes-Kaap. Op Saterdag, 17 November, gee René in samewerking met Ingrid Jones, bekend vir haar geselsprogram Tussen Ons en Nicolette Booyens, die stigter en uitvoerende direkteur van Cause, vir vroue die geleentheid om saam te dink en te gesels oor die sosiale impak van die ekonomiese uitdagings van vandag en deel die drie dinamiese vroue raad en gee nuttige wenke oor hoe vroue-entrepreneurs ‘n verskil kan maak op baie vlakke.

“Dit is reeds bewys dat ons as vroulike entrepreneurs uniek geposisioneer is om die toestand van ons plaaslike ekonomie te beȉnvloed en te verbeter. In teenstelling met die meeste van ons manlike eweknieë ploeg vroue entrepreneurs byna 90% van hul verdienste terug in hul plaaslike ekonomie vir skool, gesondheid en behuising.” René sê voorts dat ons reeds die antwoord het op hoe om bv. ’n resessie storm te loop. “Deel van die antwoord lê pragtig verpak soos ’n geskenk binne die ware betekenins van UBUNTU. “EK is omdat ONS is”. René sê daar is groot waarde in die besef dat vroue se krag lê juis in hierdie begrip en dat vroue daarom die vermoë het om hul merk te maak op globale markte omdat hulle dit reeds suksesvol doen in hul gemeenskappe.

Haar projekte

Met vele van die ander projekte waarby sy betrokke is en was was, is daar een ding wat baie sterk uitstaan: Die hele kwessie rondom identiteit. René vertel dat terwyl sy  met een van die onthullings van ‘n  Afrikaanse muur by Hoërskool Weston in Vredenburg besig was, het Dr. Marlene le Roux gesê: “Ons is nie gebore met ʼn taal en kultuur nie, maar ons is gebore binne in ʼn taal en kultuur.

Ek wil dit verder vat en sê: “Ons is nie gebore met ʼn taal en kultuur nie maar ons is ook nie gebore met sukses of armoede nie. Dit hang van jou af. Jy word gebore binne jou omstandighede, maar dan word dit jou keuse wat jy daarmee gaan doen.

Die gesprek vind Saterdag, 17 November plaas by die Encore Restaurant en Konferensiesentrum in Welgelegen, buite Kaapstad.  Kaartjies kan aanlyn bespreek word by http://qkt.io/88fdU2  of stuur ‘n e-pos na werisecapetown@gmail.com

Lees meer oor René Arendse hier.

René Arendse is ook deel van die Afrikaans.com-veldtog: Afrikaans is #onmisbaar.