Afrikaans is #onmisbaar op Kwêla se dorpe van die jaar

Afrikaans.com het vanjaar saam met die Kwêla-span se Dorp van die Jaar-kompetisie deur ons pragtige land gereis. Wat ’n lekkerte om saam met al die ander spesiale interessanthede op hierdie wendorpe ook die Afrikaanse hartklop te kon hoor.

Ons het deur die Kwêla-kameralens kennis gemaak met trotse Afrikaanssprekendes. Mense wat deur hul produkte, hul erfenis (dikwels voorouers wat ‘n hand gehad het in die totstandkoming van die dorp), en hul bydraes om die gemeenskap waarin hul woon en werk uit te bou, ‘n belangrike rol in die sukses van hul onderskeie dorpe speel … op hartsvlak, maar ook op ekonomiese vlak. Elkeen dra by tot die uitsonderlike kleur, tekstuur, warmte en besonderse karakter van die kleurvolle tapisserie van ons land en sy mense. Ons kon van hulle stories vertel en het opnuut besef hoe #onmisbaar Afrikaans is.

Kyk hier …

Hoe het dit gewerk

Uit al nege streke, wat Namibië insluit, is daar gedurende Februarie drie dorpe in elke streek genomineer. Uit hierdie dorpe is daar toe gedurende Maart streekfinaliste aangewys.

Die Kwêla-span het insetsels gaan vervaardig op elkeen van hierdie streekwennerdorpe wat deurgedring het en die insetsels is vanaf 1 April op Kwêla uitgesaai. Kykers het ook die geleentheid gehad om met die hutsmerk #onmisbaar op sosiale media deel te neem en vir ons te vertel waarom Afrikaans op hul dorpe #onmisbaar is.

Afrikaans is #onmisbaar-deelname:

Soos wat ons land se mense die stemme laat instroom het, het hulle ook sosiale media-platforms laat gons en trots laat weet Afrikaans LEEF in hul harte en in hulle gemeenskappe.