Afrikaans.com vier Wêreldwye Kinderdag.

Foto: www.pexels.com

Op 20 November vier ons Wêreldwye Kinderdag. ’n Dag wat as inspirerende beginpunt behoort te dien om vir die regte van kinders te veg en ook mense van oraloor te inspireer om ’n beter wêreld vir al ons kinders te skep. In dié artikel gee Petronell Vorster namens Afrikaans.com ’n oorsig oor die belangrike dag, bespreek wat jy kan doen om betrokke te raak en kyk ook na die lekker (en snaaks) van kinders grootmaak in 2018.

Wêreldwye Kinderdag

Die Verenigde Nasies se Universele Kinderdag word jaarliks op 20 November gevier. Dit staan bekend as ‘’n dag vir kinders – deur kinders’.  Hierdie dag is in 1954 daargestel om internasionale samesyn en wêreldwye bewuswording onder kinders oor hul regte te skep. Verder poog die dag om die welsyn van alle kinders te verbeter.

Maar hoekom 20 November? Dit is die dag in 1959 toe die VN se Algemene vergadering die Deklarasie vir die Regte van die Kind aanvaar het. Dit is ook die dag in 1989 toe die Traktaat oor die Regte van die Kind deur die VN se Algemene vergadering aangeneem is.

Raak betrokke!

In 2018 het die Verenigde Nasies (VN) die #GoBlue-veldtog geloods om die dag te vier. Maar wat behels #GoBlue? Die veldtog poog om ’n wêreld te skep waar elke kind kan skoolgaan, veilig is en sy/haar volle potensiaal kan bereik.

Jy kan die video (https://youtu.be/hGWE2D2Q81U) kyk om meer oor #GoBlue uit te vind.

Die eenvoudigste manier hoe jy self by #GoBlue betrokke kan raak, is om dié video op sosiale media te deel, die globale petisie te teken en om blou te dra.

Kinderregte is egter nie iets wat net op een dag van die jaar onder die vergrootglas moet wees nie! In Suid-Afrika word Kinderregte in Artikel 28 van die Grondwet gelys. Jy kan hier ’n volledige lys van die regte lees.

Daar is verskeie welsynsorganisasies in Suid-Afrika wat spesifiek op kinders gefokus is. Deur hierdie organisasies te ondersteun (finansieel of op ander maniere), kan jy ’n daadwerklike verskil in ’n kind in nood se lewe maak:

Kinders grootmaak in 2018

“Haal die spaghetti van jou kop af en eet dit!”, “Waar is jou ander skoen?”, “Watter deel van ‘nee’ verstaan jy nie?”, “Mens grawe nie in die openbaar in jou neus nie!” As jy een van die volgende dinge in die laaste paar uur gesê het, is jy ook deel van die ongeveer 89% van die wêreld se populasie wat die titel van ‘ouer’ dra.

Om in 2018 kinders te hê is beide makliker en moeiliker as dertig, twintig of selfs tien jaar gelede… Ons ma’s en oumas het staatgemaak op die raad van Dr. Spock en Suid-Afrika se eie dr. Jan van Elfen. Die internet en sosiale media het egter kinders grootmaak vir altyd verander. Nie net is raad, dienste en idees makliker bekombaar nie, jy kan ook veel makliker oulike foto’s, sêgoed en video’s deel.

Kinders en hul sêgoed sorg ook gereeld vir lekkerlagoomblikke orals op die internet. Suid-Afrikaanse en Afrikaanse kinders is nie ver agter nie. Kyk maar net hoe gewild is kinder-video’s elke jaar tydens die Kwêla Funnies-kompetisie.

Klein Willem Minnaar van Pretoria het 2017 se Feite en Geite-afdeling gewen met sy passievolle weergawe van die Suid-Afrikaanse Volkslied:

Kyk hier na Willem se video:

Selfs Casper de Vries het reeds in die vroeë 2000’s op sy Casper Rasper Show die onskuld van kinders gebruik en die land met sy ‘Paashaas’-video laat skater.

Kyk dit hier:

Wie sal ooit die mannetjie vergeet wat in 2016 so ontsteld was oor sy gom wat nie reg wou plak nie? Hoewel die knapie ’n goeie dosis peper in sy mond verdien, het hy nogtans Facebook–volgelinge laat skater.

Kyk dit hier:

Die Afrikaanse YouTube-kanaal Belaglik, deel ook gereeld snaakse kindervideo’s met sy volgelinge: Lag saam vir die seuntjie se redenaarstoespraak oor groente:

Hier is nog ’n Belaglik-video wat kinders wys wat suurlemoene eet:

Onskuld en humor loop hand aan hand. Hierdie dogtertjie se gebed vir haar gesin is nie net dierbaar nie, maar ook vreeslik snaaks!

Snaakse kinderstaaltjies is ook een van Suid-Afrika se gunsteling-braaivleisvuurgesprekke. Ek sal die betrokke partye naamloos laat, maar een van die snaaksste (ware) kinderstories wat ek ken, speel af in die kerk. Die predikant was besig met ’n ernstige preek oor die dinge wat ons vrees en hoe ons dit in die hande van die Here moet plaas. Jy kon ’n speld hoor voel toe die predikant die gemeente vra: “Broeders en susters, Is jy bang vir..?”  Dis toe dat die klein seuntjie kliphard afhaak met: “Ek is nie bang nie, ek sit langs my ma!”

Baba en Kleuter het in 2011 ’n artikel getiteld “Hy’t WAT gedoen?” oor ware snaakse, maar vernederende oomblikke waarin kinders al hul ouers geplaas het, geplaas. Een van die stories in die artikel is die van Anmarie Basson, ma van Amor, Karli en Marna van Centurion. Anmarie vertel: “Marna was net ouer as 2 jaar toe ons na die opening van ’n nuwe winkel is. Die betaalry waarin ons moes wag, was lank en terwyl ons wag het sy haar vinger in haar neusie gesteek en begin grawe. Ek sê toe vir haar dis baie lelik, maar sy haak toe af: ‘Ek moet my snot eet, want jy gee my mos nie kos nie.’

Die hele winkel was histeries en ek was bloedrooi. Eers agterna het ek verneem haar ousus het vir haar gesê sy moenie so in haar neusie krap nie, want sy kry mos kos!”

Jy kan die volledige artikel hier lees:

Vra maar enige ouer en hulle sal jou sê dat die vernederende oomblikke deel van die lekker van ouerskap is. Jy mag dalk wens dat die aarde jou daar en dan insluk, maar later lag mens gewoonlik daaroor.

Oudpresident Nelson Mandela het by geleentheid gesê:

“Daar kan geen beter maatstaf van ’n samelewing se siel wees as die manier waarop daardie samelewing sy kinders behandel nie.”

Hierdie aanhaling som die belangrikheid van hoekom ons Wêreldwye Kinderdag moet vier perfek op. Ons vergeet gou dat nie alle Suid-Afrikaanse kinders se lewe so sorgvry soos ons eie kinders s’n is nie. Baie kinders het nie ma’s en pa’s om die snaakse staaltjies te onthou of om op film vas te lê nie. Ander kinders se huislike omstandighede is van so ’n aard dat daar nie geld of tyd vir bietjie pret is nie, terwyl ander kinders in huise vol geweld, alkohol of misdaad moet grootword.

Vier Wêreldwye Kinderdag saam met ons, en dalk kan jy die lewe van ’n minderbevoorregte kind ten goede verander!