Afrikaans.com het saam gemakietie op Jeffreysbaai …

… om dié WENdorp te vier!

Op 21 tot 23 September was dit makietietyd op Jeffreysbaai. Afrikaans.com was weer ’n trotse borg en ons kon saam met die Kwêla-span, Kia, al die dorpenaars en feesgangers hierdie hoogtepunt op ons jaarlikse kalender vier.

Afrikaans.com het vanjaar saam met die Kwêla-span se Dorp van die Jaar-kompetisie deur ons pragtige land gereis. Wat ’n lekkerte was dit nie om saam met al die ander spesiale interessanthede op hierdie wendorpe ook die Afrikaanse hartklop te kon hoor.

Ons het deur die Kwêla-kameralens kennis gemaak met trotse Afrikaanssprekendes. Mense wat deur hul produkte, hul erfenis (dikwels voorouers wat ‘n hand gehad het in die totstandkoming van die dorp), en hul bydraes om die gemeenskap waarin hul woon en werk uit te bou, ‘n belangrike rol in die sukses van hul onderskeie dorpe speel … op hartsvlak, maar ook op ekonomiese vlak. Elkeen dra by tot die uitsonderlike kleur, tekstuur, warmte en besonderse karakter van die kleurvolle tapisserie van ons land en sy mense. Ons kon van hulle stories vertel en het opnuut besef hoe #onmisbaar Afrikaans is – veral in sy verskeidenhied. Jeffreysbaai is ’n hutspot van Afrikaanse klanke … Ooskaap-Afrikaans, Wes-Kaaps, Kaapse Vlakte-Afrikaans, Noordkaaps en alles tussenin het vervleg in ’n simfonie van klank en kleur … ’n gedeelde passie vir ’n taal wat ons as Suid-Afrikaners saambind.

Jeffreysbaai se makietie was ’n fees van kos, kultuur en vermaak. Daar was ’n magdom stalletjies, ’n talentkompetisie en van ons land se voorste kunstenaars het gesorg  dat die dorpenaars op hul voete bly.  Van die kunstenaars op dié lang lys was Elandré Schwartz, Willem Botha, Kurt Darren en Dr Victor & The Rasta Rebels wat tot laatnag partytjie gehou het. Geen wonder die dorpsbestuur het besluit om die makietie ‘n jaarlikse instelling te maak nie. So, hou ons kalender dop en maak seker jy loop nie hierdie fees volgende jaar mis nie.

Lees meer hier.

Kyk hier …

Therese Benade Bam van Kwêla het ons meer vertel oor Jeffreysbaai se Afrikaanse hartklop en sy som die dag op …

René Arendse en Daniëlle Laufs van Afrikaans.com het die makietie bygewoon en met die feesgangers gesels oor die dorp, hul ervaring en hul liefde vir Afrikaans!

René Arendse, Afrikaans.com se Wes-Kaap koördineerder, is op die Kwêla-bank saam met Willem Botha.

Afrikaans.com in die kollig by die Jeffreysbaai-makietie … hoor hoe lekker gesels René Arendse.

En voor die kameralens …

Colin en Carisha Jansen van Rensburg met hul Kudu-produkte uit die Oos-Kaap.

Die Afrikaans.com-span Daniëlle Laufs en René Arendse saam met Therese Benade Bam van Kwêla.

Dr Victor saam met René Arendse voor die verhoog.

Inge en Lizelle Dreyer saam met Anza Muller is trotse Jeffreysbaaiers wat nie uitgepraat kan raak oor hul vriendelike dorp nie.

Kurt Darren in aksie op die Jeffreysbaai Makietieverhoog.

Kroegmanne Marco Pretorius en Conrade van Zyl, maak seker die kele bly nat.

Dean Smith en Gantane Kusch saam met René Arendse (Afrikaans.com se Wes-Kaap koördineerder).

Van potjiekos tot calamari en natuurlik ‘’n spit op die braai met roosterkoek – Afrikaanse kos bly maar lekker!